Tien vermiste stappers veilig, twee nog soek

Henriette Lamprecht
Al tien die Suid-Afrikaners wat die gewilde Visrivier-staproete aangepak het en wat aanvanklik deur Namibia Wildlife Resorts (NWR) as vermis aangemeld is, was teen druktyd gister veilig en gevind.

Uit die tien is ses eerste “gevind” nadat hulle uiteindelik in Kaapstad opgespoor is. Die ses het glo nie by die Ai-Ais-ontspanningsoord aangemeld en aangedui dat hulle veilig die roete voltooi het, voordat hulle weer vertrek het nie. Die laaste vier is teen gistermiddag twee-twee by onderskeidelik Hiker’s point en Sulphur Springs gevind.

Volgens die Namibiese polisie se streekbevelvoerder in die ||Kharasstreek, komm. David Indongo, is berigte ontvang dat twee van die vier stappers “nie goed voel nie”.

Indongo kon nie bevestig of die hulp van ’n helikopter wel ingespan is om met die soektog te help nie. Dit nadat die adjunk- uitvoerende direkteur van die omgewing, bosbou en toerisme, me. Seimy Shidute, laatoggend gesê het die ministerie gaan ’n helikopter stuur om saam met die polisie na die vermiste vier stappers te soek.

Die dogter van ’n egpaar wat ook die staproete aangepak het, me. Tana Lancaster, het die naweek in die sosiale media alarm gemaak dat sy noodseine van haar ouers, Trevor (63) en Samantha (50) Burger van Franschhoek, ontvang en daarna kontak met hulle verloor het.

Die NWR se woordvoerder, mnr. Nelson Ashipala, het by navraag bevestig ’n noodsein is ontvang nadat die stappers die eerste kampterrein bereik het. Personeel het hulle daarheen gehaas, maar volgens hom was die stappers glo nie daar nie.

Volgens Lancaster was dit nie die eerste keer dat die Burgers die staproete aanpak nie en is hulle “baie aktief en fiks”.

Kort voor druktyd gisteraand is inligting ontvang dat Lancaster opnuut 'n noodsein van haar ouers ontvang het. Dit is om 17:57 ontvang. 'n Tweede een het om 18:21 deurgekom. Sy het mnr. Sean Naudé van Namibia Marshall Rangers gekontak en skermgrepe van die teksboodskappe deur haar pa, Trevor, vir hom aangestuur. Dit bevat die koördinate waar hulle hul bevind. Die boodskap lei: "Ons ervaar probleme. Help ons by hierdie plek (met verwysing na die koördinate)."

Hul noodseine is ontvang nadat mnr. Wayne Handley, hoofveldwagter van die ||Kharaspark, bevestig het die vier mense is veilig gevind.

Handley sê veldwagters moes sedert die opening van die staproete op 1 Mei reeds verskeie kere bontstaan om stappers by te staan. Hoewel die canyon vanjaar meer water het, wil dit volgens Handley voorkom asof stappers ná twee jaar wat dit weens die Covid-19-pandemie gesluit was, nie so goed soos gewoonlik vir die roete voorberei is nie.

Ashipala het ’n beroep op alle toeriste gedoen wat die staproete voltooi, om eers by die Ai-Ai-ontspanningsoord aan te meld voordat hulle verder na hul onderskeie bestemmings vertrek.

“Ons doen ook ’n beroep op alle toeriste wat die staptog aanpak, om hul veiligheid te verseker deur by die roete te hou en waar moontlik van ’n gids gebruik te maak.”

Die staproete is nog tot 15 September oop en is reeds volbespreek, wat beteken meer as 4 000 stappers sal die roete aanpak voordat die seisoen sluit.

NWR inspekteer die roete voordat die seisoen open en plaas ook merkers om te verseker dit dat geskik vir stappers is.

Die aanwysings is om te verseker die staproete kan maklik en veilig gevolg word.

Die inspeksie stel NWR in staat om toeriste in te lig oor die veiligste roetes en die diepte van die verskillende waterpoele. Die roete van sowat 86 kilometer word gewoonlik oor vier tot vyf dae aangepak. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!