Die nuwe minister van die omgewing en toerisme, Indileni Daniel. FOTO ARGIEF
Die nuwe minister van die omgewing en toerisme, Indileni Daniel. FOTO ARGIEF

Toerismebedryf hoopvol oor Daniel

Nuwe idees, nuwe rigting
Die toerismebedryf is hoopvol dat die nuwe minister wat relatief onbekend is, nuwe idees na die bedryf kan bring.
Ellanie Smit
Hoewel Namibië se nuwe minister van die omgewing en toerisme, Indileni Daniel, relatief onbekend in die bedryf is, het rolspelers haar aanstelling verwelkom en die hoop uitgespreek dat sy ’n nuwe perspektief na die bedryf sal bring.

Gitta Paetzold, die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), het Maandag gesê dit lyk asof Daniel se aanstelling daarop gemik is om ’n vars briesie in die bedryf te blaas.

“Ons is optimisties oor hierdie stap, aangesien die globale toerismelandskap vinnig en voortdurend verander.

“Dit maak dit noodsaaklik vir regerings om in pas te bly met ontluikende tendense, terwyl dit volhoubaarheid en inklusiwiteit bevorder,” het Paetzold gesê.

Sy het na Daniel se agtergrond in onderwys, tesame met haar toewyding tot gemeenskapsontwikkeling en lewenslange leer verwys en gesê dit maak haar ’n hoogs geskikte leier vir die toerismebedryf in Namibië.

Paetzold is dit ook eens dat Daniel verseker ’n vars perspektief na die ministerie en sy mandate sal bring.

“Ja, sy was dalk nie voorheen direk by toerismekwessies betrokke nie, maar soos ons altyd sê ‘toerisme is almal se besigheid’.

“Ons sien haar aanstelling as ’n waardevolle nuwe bydrae tot die algehele dinkskrum vir toerisme omdat sy nuwe en impakvolle idees sal bring,” het sy gesê.

Volgens haar is Daniel se passie vir onderrig en die oordrag van vaardighede, sowel as gemeenskapsontwikkeling, “’n sleutel om pogings te bevorder om toerisme selfs meer inklusief te maak” en om meer geleenthede vir Namibiërs te skep om deel van die bedryf te word.

“Dit is ook vir ons belangrik om te fokus op digitale verandering en die gebruik van digitale platforms vir onderrig en waarin dit blyk Daniel ’n magdom ervaring het.”



HERBOU EN HERDEFINIEER

Die voorsitter van die Namibia Travel and Tourism Forum, Nrupesh Soni, sê op sy beurt Daniel se aanstelling kom op ’n tydstip dat Namibië se toerismebedryf besig is om homself te herbou en te herdefinieer ná die Covid-19-pandemie.

“Hoewel sy nie ’n huishoudelike naam in die bedryf is nie, bring vars leierskap hopelik vars perspektiewe.

“As sy ’n oop benadering het, gewillig is om te konsulteer en ’n duidelike padkaart het, kan haar aanstelling ’n nuwe geleentheid wees om die ministerie se samewerking met die private sektor en plaaslike gemeenskappe te versterk,” het Soni gesê.

Hoewel Daniel nie aan die voorpunt van besprekings in die toerismebedryf of voorspraak vir die omgewing was nie, sê hy dit beteken nie noodwendig dat sy nie doeltreffend in haar nuwe rol sal wees nie.

“Wat nou belangrik is, is hoe vinnig sy haarself hierin werp, na rolspelers luister en haar met ervare raadgewers omring.

“As sy gewillig is om te leer en te konsulteer, is die kans goed dat die bedryf haar sal ondersteun.”

Soni het verwys na die afwesigheid van ’n adjunkminister – ’n rol wat afgeskaf is – en wat moontlik ’n rede tot kommer kan wees, omdat daar nie meer iemand sal wees om die minister by te staan met haar inlywing in die ministerie nie.

Hy het nietemin die hoop uitgespreek dat Daniel daarop sal fokus om “Namibië te posisioneer as ’n vooruitdenkende land en ’n volhoubare toerismebestemming wat bewaring, die bemagtiging van die gemeenskap sowel as ekonomiese groei balanseer”.

Sleutelprioriteite, volgens Soni, moet insluit om die knelpunte in toerismebeleggings te takel, digitale verandering in bemarkings- en permitstelsels te ondersteun en te verseker dat toerismebeleidsrigtings inklusief en tot voordeel van plaaslike inwoners is.

Hy het gemaan dat Namibië se toerismebedryf veerkragtig, maar ook kwesbaar is.

“Ek sal Daniel sterk aanbeveel om wyd te konsulteer, gereeld te vergader en deursigtig in haar prioriteite te wees.

“Die bedryf is vol passievolle individue wat gretig is om by te dra, sy moet net die kollektiewe energie inspan en in die regte rigting stuur.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer