Plastic ban
Plastic ban

Totsiens, enkelgebruik-plastiek

Iréne-Mari van der Walt
Ellanie Smit – Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is van plan om aanbevelings te implementeer om enkelgebruik-plastiek in Namibië vanaf 2026 of vroeër te verbied.

Die omgewingsminister Pohamba Shifeta het vandeesweek in die Nasionale Vergadering gesê die verbod sal ’n konseppadkaart volg en sal van toepassing wees op sekere enkelgebruik-plastiek en hul aanbevelings wat aan die kabinet voorgelê sal word vir goedkeuring.

Volgens Shifeta is konsultasies met belanghebbendes deur die Nasionale Raadgewende paneel vir Vaste Afvalbestuur gevoer en konsensus is bereik om die verbod op die produkte te implementeer.

Dié produkte sluit dun ingevoerde plastiese inkopiesakke van minder as 40 mikron in en ’n aanbeveling is gemaak om die inkopiesakke teen die einde van die 2023-’24-boekjaar te verbied aangesien dit tans ook die omgewingsheffing omseil.

’n Aanbeveling is ook gemaak om plastiese inkopiesakke wat kalsiumkarbonaat bevat teen die einde van dieselfde tydperk te verbied.

“Die sakke leen hulle nie tot herwinning nie. Die implementering is laat aangesien dit reeds ’n opdrag van die kabinet was.” het Shifeta gesê.

Nog ’n produk op die lys is om plastiekbottels vir eenmalige gebruik teen 1 Januarie 2025 te verbied om verskaffers in dié bedryf en kleinhandelsafsetpunte genoeg tyd te gee om gepaste meganisme in plek te stel.

Shifeta het gesê daar word aanbeveel dat ’n omvattende en verpligte deposito- en terugbetalingsprogram op alle enkelgebruik-plastiek ingestel word.

Plastiekstrooitjies vir eenmalige gebruik moet teen 1 Januarie 2024 verbied word en dit word aanbeveel om die invoer, verkoop en kommersiële verskaffing van plastiekstrooitjies te verbied. Laastens sal katoenoorstokkies met plastiek ook teen 1 Januarie volgende jaar verbied word en dit sal die invoer en kommersiële verskaffing insluit.

Volgens Shifeta het die raadgewende paneel bestaan uit lede van verskeie sleutelinstellings insluitend die bedryf en is gestig om toesig te hou oor die implementering van die Nasionale Vaste Afvalbestuurstrategie kragtens die wet op omgewingsbestuur.

“Ander ingrypings deur die regering sluit in die instelling van ’n heffing op plastieksakke sowel as die verbod op plastiek in ons nasionale parke.”

Verder is samesprekings tussen die omgewingsministerie en die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië tans aan die gang oor die moontlike aanwending van die ingevorderde heffings vir die befondsing van inisiatiewe wat verantwoordelike bestuur van die omgewing beskerm of bevorder, besoedelingsbeheer en afvalbestuur asook die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne vir ekonomiese ontwikkeling.

Hy het gesê plaaslik is daar duidelike voorbeelde van hoe plastiek diere soos vee- en wildsterftes beïnvloed het as gevolg van plastiek-inname sowel as moontlike besoedeling van beide oppervlak- en grondwaterbronne.

“Die meeste van die plastiekafval beland in ons oseane en versamel in ons voedselkettings deur die vis en seeprodukte wat ons inneem. Slimmer keuses moet gemaak word wanneer dit kom by die koop en verkoop van enkelgebruik-plastiekprodukte.”

Volgens Shifeta produseer die mensdom jaarliks meer as 430 miljoen ton plastiek, waarvan twee derdes vinnig ontbind.

Hy het gesê die maatskaplike en ekonomiese koste van plastiekbesoedeling wissel tussen U$300 miljard en U$600 miljard per jaar.

Volgens ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) – Turning of the tap – kan plastiekbesoedeling teen 2040 met 80% verminder word as lande en maatskappye beleidsbesluite neem om die vervaardiging en gebruik van eenmalige plastiek te beëindig en markverskuiwings bevorder deur bestaande tegnologieë.

“Plastiekbesoedeling is ’n wêreldwye probleem en volgens die UNEP het ongeveer 7 miljard van die 9,2 miljard ton plastiek wat wêreldwyd vanaf 1950 tot 2017 vervaardig is, plastiekafval geword en op stortingsterreine beland.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!