Twin Hills-goudmyn kry die groen lig

Miljoene onse goud kan ontgin word
Osino Resources se omgewingsklaringsertifikaat is goedgekeur om sy eerste myn in Namibië te bou.
Augetto Graig
Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se omgewingskommissaris, Timoteus Mufeti, het amptelik op 3 November 2022 die omgewingsklaringsertifikaat vir mynbou by Dobbelsberg (“Twin Hills”) naby Karibib afgeteken.

Osino Resources se nuwe myn sal oos van Karibib geleë wees, terwyl die gevestigde Navachab-goudmyn wes van die dorp is.

Die omgewingskonsultant Environmental Compliance Consultancy (ECC) het Dinsdag aan afdeling 3(2) van die omgewingsbestuursregulasies van 2012 voldoen deur kennisgewing van die toekenning met geregistreerde belanghebbers te deel. Die belanghebbers kan binne 14 dae teen die goedkeuring appelleer.

Die omgewingsklaring is vir grootmaat-goudmynbou op Osino se eksklusiewe eksplorasie-lisensiegebiede (EPL) nommer 5196, 6167, 5658, 6953, 3739 en 7301 - ʼn gebied van 6 700 vierkante kilometer.

Twee gekoppelde oopgroefmyne sal langs mekaar gebou word, terwyl ’n aparte oopgroefmyn ook naby geleë sal wees, luidens Osino se nuusbrief aan beleggers in Junie.

Osino het op 23 November aangekondig dat die maatskappy tien miljoen Kanadese dollar (N$127 miljoen) ingesamel het vir die ontwikkeling van die myn.

Osino se stigtergeoloë, David Underwood en Jonn Andrew, het tussen 2016 en 2017 reeds die berge in die Kuiseb-formasie begin bestudeer. Teen 2019 was die ontdekking die kern van die Kanadese genoteerde mynbouers se Twin Hills-goudmynprojek.

Die maatskappy het verlede jaar meer as N$224 miljoen in Namibië bestee, meestal vir boorwerk, en het 27 werknemers in diens geneem, volgens Osino se volhoubaarheidsverslag wat in November vrygestel is.

Die myn se verwagte lewensduur is 15 jaar, met ’n produksie van 200 000 onse goud per jaar vir die eerste vier jaar. Daarna sal die opbrengs tot 169 000 onse vir die volgende tien jaar daal, volgens Osino se voor-uitvoerbaarheidstudie wat in September vrygestel is.

Daarvolgens het die maatskappy ’n totale hulpbron van 2,15 miljoen onse goud binne 64,2 miljoen ton erts.

Goud verhandel tans op internasionale markte teen sowat N$31 255 per fynons.

Heye Daun, uitvoerende hoof, president en direkteur van Osino, het verlede Donderdag aangekondig dat die opsie van 3,8 miljoen aandele aan direkteure, amptenare en werknemers van die maatskappy toegeken is.

Osino het op 8 Desember sy tegniese verslag rakende die Ondundu-goudprojek, sowat 130 km noordoos, van Twin Hills bekend gestel. Daarvolgens staan Ondundu se verwagte produksie nog op 900 000 onse goud.

Osino wil Ondundu saam met Twin Hills ontwikkel deur van Twin Hills se verwerkingsaanleg gebruik te maak, volgens die maatskappy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!