Stasies in die noordwestelike tot suidoostelike rigting oraloor Namibië het spesifiek meer as twee keer die langtermyn-reënvalgemiddelde ontvang. FOTO REëN IN NAMIBIA/Facebook
Stasies in die noordwestelike tot suidoostelike rigting oraloor Namibië het spesifiek meer as twee keer die langtermyn-reënvalgemiddelde ontvang. FOTO REëN IN NAMIBIA/Facebook

Uitsonderlike reën in Maart

Elf damvlakke styg steeds
Bogemiddelde reënval vir die seisoen is oor groot dele van die land vanaf Oktober 2024 tot Maart 2025 aangeteken.
Ellanie Smit
Maart het uitsonderlike reën van die noordweste van Namibië gekry wat tot in die verre suidoostelike deel van die land gestrek het.

Dit was egter relatief droog in die Noordooste.

Dit is volgens die Maart-reënvalbulletin wat deur die Namibië Meteorologiese Dienste uitgereik is.

Die meeste weerstasies het meer as 100 mm vir die maand aangeteken, maar sommige het hoeveelhede bo 50 mm binne 24 uur aangemeld.

“Stasies in die noordwestelike tot suidoostelike rigting oraloor Namibië het spesifiek meer as twee keer die langtermyn-reënvalgemiddelde ontvang.”

Volgens die bulletin het die Zambezistreek en dele van die Kavango-Oos- en -Wesstreek, ondanks die goeie reënval oor ’n groot deel van die binneland, in Maart ondergemiddelde reënval ervaar, vergeleke met die langtermyngemiddelde.

Die bulletin lui dat geïsoleerde gebiede in die Noordweste en Suidweste reënval ontvang het wat gelykstaande is aan die langtermyngemiddelde.

Walvisbaai het ’n uitsonderlike 19 mm in ’n dag aangeteken, ’n merkwaardige hoë hoeveelheid vir dié kusdorp.

Op ’n seisoenale skaal is bogemiddelde reënval oor groot dele van die land vanaf Oktober 2024 tot Maart 2025 aangeteken.

Volgens die bulletin het stasies wat van die Noordweste na die Suidooste strek, meer as 50% van die reënval in Maart tot die seisoenale totaal bygedra wat ’n beduidende verandering van onder- na bogemiddelde reënval aandui.

Intussen is normale reënvalvlakke in die Zambezi- en Kavango-Wesstreek waargeneem, asook dele van die streke Omaheke, Otjozondjupa, Khomas, Hardap, |Kharas en Kunene.



TEMPERATURE

Die bulletin het bygevoeg as gevolg van die voortdurende reënval gedurende Maart, het die gemiddelde temperature wat waargeneem is, tussen 18 en 30 grade Celsius oor die land gewissel, wat binne die normale omvang is.

Die ontleding van gemiddelde temperature toon die koelste temperature rondom die sentrale kus, onder 20 grade Celsius.

“Die vergelyking van die afwyking van die gemiddelde temperatuur vanaf die langtermyngemiddelde dui op ondergemiddelde temperature oor die Erongo- en suidwestelike Otjozondjupastreek en gemiddelde tot bogemiddelde temperature vir die res van die land.”



DAMVLAKKE

Volgens NamWater se jongste dambulletin het 11 damme die afgelope week invloei gehad.

Hulle is (met damvlak in hakies); Von Bach (79,8%), Omatako (81%), Otjivero-hoofdam (24,5%), Otjivero-slikdam (75%), Hardap (77,7%), Neckartal (100,2%), Naute (105,2)%, Oanob (78,1%), Dreihuk (38,3%), Olushandja (77,2%) en Omatjene (6,5%).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer