Uranium One bou laboratorium

Op die plaas Tripoli buite Leonardville
Die laboratorium sal die resultate van eksplorasieboorwerk en die vinnige ontleding van uitslae verseker.
Henriette Lamprecht
Jemima Beukes - Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het amptelik ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) aan Headsprings Investments uitgereik vir die vestiging van ’n veldlaboratorium.

Laasgenoemde is die bestuursmaatskappy van die Uranium One Group in Namibië. Die laboratorium sal op die plaas Tripoli, sowat 15 km buite Leonardville in die Omahekestreek opgerig word waar die maatskappy sy primêre veldbedrywighede uitvoer.

Uranium One is ’n Russiese maatskappy wat bekend is vir die eksplorasie van uraan, mynbedrywighede asook prosessering.

Volgens ’n omgewingsimpakstudie (EIA) wat vroeër vanjaar deur die maatskappy vrygestel is, sal die laboratorium gebruik word om die resultate van eksplorasieboorwerk te bevestig en sodoende die vinnige ontleding van uitslae verseker.

Die laboratorium sal na bewering op ’n betonblad van 20 meter x 20 meter geïnstalleer word en die proses sluit in die voorbereiding van die grond, geringe konstruksiewerk, asook die plaas van ses houers met vooraf geïnstalleerde laboratoriumtoerusting op die betonblad.

Kirill Egorov-Kirillov, die direkteur van mynprojekte by Uranium One en die uitvoerende direkteur van Headspring Investments, het in ’n verklaring gesê die maatskappy het noukeurig alle vereiste prosesse met betrekking tot die EIA gevolg. Volgens hom bevestig die uitreik van die sertifikaat die maatskappy se verbintenis tot die nakoming van al Namibië se omgewingswette, reëls en regulasies.

“Ek wil almal bedank wat betrokke was in die proses om die ECC te kry. Ek wil ook die ministerie bedank wat hul vertroue in ons en ons verbintenis tot die nakoming van die land se wette en regulasies gewys het,” het Egorov-Kirillov gesê.

Die klaringsertifikaat is toegeken ingevolge bepaling

37(2) van die Wet op Omgewingsbestuur van 2007, asook die Omgewingsimpakstudie-regulasies van 2012 (CG 4878). Dit is geldig vanaf 10 Oktober vanjaar tot 10 Oktober 2026.

Egorov-Kirillov het die belangrikheid van ’n veldlaboratorium vir Uranium One beklemtoon en gesê dit sal die toets van kernmonsters en die bepaling van die uraanerts se ligging en graad meer vaartbelyn maak. Dit sal gevolglik vir vinniger resultate sorg eerder as om die monsters iewers anders heen te stuur.

“Ons bly ook verbind tot die veiligheid van ons werknemers en die gemeenskappe en ook die opheffing van die gemeenskappe waarin ons werk. Die uitreik van hierdie EEC is ’n baie positiewe stap in die regte rigting vir ons. Dit gee ook hoop aan die gemeenskappe wat kan uitsien na die voordele wat uit die beoogde mynbedrywighede sal vloei,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!