Foto verskaf
Foto verskaf

Venasha, die renoster blom

Tanja Bause
Dit gaan baie goed met Venasha, die renosterkalfie wat in Oktober 2022 by die Rhino Momma-projek aangekom het, nadat sy deur haar ma verwerp is.

Volgens Juliette Erdtsieck, haar versorger van die afgelope 19 maande, bly Venasha onder meer saam met drie renosterkoeie en hul kalwers in ’n kamp.

“Sy word nou regtig baie groot en is ‘n regte renoster! Sy het op 26 November haar laaste bottel melk gekry en aan die einde van die jaar is sy na die groot kamp verskuif,” sê Juliette.

Die Rhino Momma-projek in Namibië het in 2022 in een maand twee wees-renosterkalfies gekry.

Beide die kalfies is deur hul ma’s verwerp en het melk, glukose of probiotika benodig om hul kragte op te bou en natuurlik baie liefde en aandag om gesond en sterk te word.

LILLYBETH

Op 10 Junie is Lillibeth die renosterkalfie erg gedehidreer saam met haar ouer sussie en sonder haar ma in die veld gevind.

Die babakalfie en ’n renosterkoei van sowat twee jaar oud is by ’n waterput opgemerk. Juliette, wat al sewe jaar met die renosters werk, het onmiddellik vir Jaco Muller van die Rhino Momma-projek laat weet. Lilly is aangeneem het goed aangesterk totdat sy ’n parasiet in haar derms gekry het.

Die veeartse van Wildlife Vets Namibia en die Rhino Momma-projek het alles in hulle vermoë gedoen om haar te red, maar Lilly is later dood.

VENASHA

Die jongste van die twee is Venasha. Op 22 Junie het Wildlife Vets Namibia se dr. Ulf Tubesing en sy assistent, Mariska Bijsterbosch, die oproep gekry dat ’n dagoue renosterkalfie alleen in die veld gekry is. Haar ma het ’n twee maande oue kalf aangeneem en vir Venasha verstoot.

Met die steun van ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is ’n noodreisdokument vir haar uitgereik sodat sy na die Rhino Momma-projek verskuif kon word. Daar sou sy voorgestel word aan Lilly, wat ’n paar dae voor haar by die projek aangekom het.

Muller het destyds gesê: “Gister het ons die aankoms van ons nuutste weeskind by die Rhino Momma-projek aangekondig. Die jong wyfie was baie gelukkig dat sy gevind is – én deur wie sy gevind was.

“Ter ere aan die man wat haar gevind en gered het, word sy nou Venasha genoem. Die man, wie se naam eintlik Vernascho is, se naam is soortgelyk aan die woord ‘vernasha’ wat ‘Ek het iets nodig’ in Oshiwambo beteken. Hierdie naam pas perfek en klein Venasha gee dit soveel meer betekenis.”

RHINO MOMMA-PROJEK

Die projek is 13 jaar gelede deur Muller en sy seun, Tristan, begin.

Tristan het ’n skoolprojek oor renosters en hul horings gedoen en die familie het besluit om renosters op hul plaas te hervestig.

Hoe meer Muller van die diere geleer het, hoe meer het hy op die besonderse spesie verlief geraak. Deur dié passie is die familieplaas in ’n organisasie ontwikkel wat renosters bewaar.

“Elke renoster wat ons kan red is vir ons ongelooflik belangrik. Ons missie en visie was nog altyd en is steeds om renosters te bewaar.”

Die eerste weeskalf wat die projek ingekry het, was Boet, wie se ma vermoedelik aan ’n besering gevrek het.

“Ons kry ook kalfies wie se ma’s deur stropers doodgemaak is. Hulle is die meerderheid; sonder stropery sou ons baie min kalfies moes grootmaak.”

Volgens Muller is die hoofdoelwit van Rhino Momma om Namibië en Afrika se renosterbevolking te vergroot.

“Ons het al renosters na Angola en die DRK uitgevoer. Die probleem is egter dat dit tans weens die toename in stropery baie geld kos om die diere veilig te hou. Ongelukkig is renosters op die oomblik dood veel meer werd as lewend,” het hy gesê.

“Ons sit nie al ons eiers in een mandjie nie en het al renosters na die Verenigde State van Amerika uitgevoer. Hulle vaar ongelooflik goed daar en word goed opgepas. Die man in die VSA het reeds elke renosterspesie in sy besit en hy is ewe toegewyd om hul genetika en al die spesies vir toekomstige geslagte te bewaar.”

Muller sê die Rhino Momma-projek het as sy seun se skooltaak begin, toe het dit van ’n droom na ’n passie en amper in ’n obsessie ontwikkel.

“Ons as gesin en ons hele span sal alles in ons vermoë doen om hierdie spesie van uitwissing te red. Hierdie diere is en sal ons alles bly en ek beskou hul bewaring as my persoonlike lotsbestemming.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!