Walvis van spooktou bevry

Tanja Bause
Lede van die Namibian Dolphin Project (NDP) het Donderdag tydens ’n bootrit naby Walvisbaai drie verskillende boggelrugwalvisse waargeneem wat onder druk verkeer het.

“Ons het op ’n boggelrugwalvis afgekom wat by die oesterplaas in ’n tou verstrengel geraak het. Die walvis het duidelik onder stres verkeer en om die situasie te vererger, word die toue nie meer deur die oesterplaas gebruik nie; dus word dit spooktoue genoem. Dit dryf net in die see rond.

“Ons het die situasie by Ocean Conservation Namibia (OCN) aangemeld en hulle het ’n span uitgestuur om die walvis te bevry,” het Danielle Conry van NDP gesê.

REDDINGSPOGINGS

OCN het dié jaar reeds 662 robbe van plastiek, nette en toue bevry.

“Ons werk hoofsaaklik met robbe, maar ’n paar maande gelede het ons ons eerste verstrengelde walvis gekry. Ons was egter te laat, hy was reeds dood. Ons kon niks doen nie, behalwe om so veel as moontlik van die spooktou los te sny en te verwyder om te verhoed dat ander diere ook verstrengel raak,” het Naude Dreyer van OCN gesê.

Dreyer, sy span en Steven Louw van Namib Marine Services het Donderdag op die NDP se noodkreet gereageer.

“Steven het al talle walvisse bevry en hy het die nodige kennis. Hy het sowat 25 minute gevat om twee toue los te sny om die volwasse manlike walvis te bevry. Die walvis, nadat hy bevry is, het na ’n ander walvis ’n end daarvandaan geswem en hulle het saam verdwyn.”

Dreyer vra wanneer mense spooktoue in die water sien om die toue self uit te trek of om dit by die OCN aan te meld.

“Wanneer jy op die strand is, trek die toue uit. Dit is beter as die toue op die strand lê as wat dit in die water ronddryf en ’n gevaar vir die seelewe inhou.”

NOG WALVISSE IS STRES

Tydens dieselfde bootrit het NDP nóg twee boggelrugwalvisse waargeneem.

Toe die een walvis in die water duik, kon duidelike merke van ’n vorige verstrengeling op die walvis se rug en stert gesien word.

“Terwyl die twee walvisse verder geswem het, het sommige kommersiële vissersbote verbygevaar, maar hulle het nie hul spoed in die nabyheid van die walvisse verminder nie. Die een walvis het gereageer deur talle kere met sy stert op die water te slaan. Daar word geglo dat dit aggressiewe gedrag is, en alhoewel dit net die misnoeë van die walvis kon aandui, het ons nog baie om oor walvisgedrag te leer.”

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!