Water deel van klimaatsverandering
Ellanie Smit - Die Verenigde Nasies (VN) moet die kwessie van water in sy agenda vir klimaatsverandering erken om meer stukrag daaraan te verleen.
Die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, het oor die VN se Waterkonferensie wat gister in New York begin het, gesê dit is ’n draaipunt om in die toekoms te kyk en te sien hoe klimaatsverandering en water aan mekaar gekoppel is en hoe dit saamgevoeg behoort te word.
“Vanuit daardie oogpunt is ons as Afrika deur die vasteland se ministersraad vir water (AMCOW) van mening dat klimaatsverandering tot ’n groot mate gekoppel is aan water en deur die beskikbaarheid daarvan gedryf word,” het hy gesê.
“Of ons nou praat van vloede, gletsers wat smelt, droogtes of rivier wat opdroog of vloei, dit hou alles verband met water.”
Volgens Schlettwein besef die raad egter dat water nie ’n sentrale rol in die agenda van klimaatsverandering speel nie.
“Dit word steeds beoordeel as ’n kwessie wat in terme van ’n bestuursplan vir ’n skaars hulpbron bespreek moet word. Ons glo dit is meer as dit.”
Hy het beklemtoon water is ’n noodsaaklike kommoditeit, want geen lewe of enige ekonomiese ontwikkeling is daarsonder moontlik nie.
“Dit is óf die katalisator óf die belemmering van ontwikkeling. As daar nie water beskikbaar is nie, is maatskaplike ontwikkeling nie moontlik nie.”
Schlettwein sê die raad het die VN se sekretaris-generaal genader om ’n gesant vir water te skep, omdat ’n koördineringsgaping tans heers.
“Die gesant moet daardie gaping oorbrug, maar belangriker is dat die waterkwessie tans nie ’n tuiste het waar lede dit kan bespreek en besluite neem oor hoe die bestuur van water in die toekoms hanteer moet word nie.
“Ons hoop is dat die konferensie die sentrale posisie van water erken met betrekking tot die bereiking van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.”
Die minister het gemaan die klassifisering van lande in die minste-ontwikkelde, middelinkomste en hoë-middelinkomste sowel as ontwikkelde, help nie wanneer dit by finansiering kom nie.
“Ons moet erken dat 75% van die armes in middelinkomstelande bly, beide hoër- en middelinkomstelande is soort van uitgelaat op die agenda en geniet nie die voorkeurbehandeling deur middel van die finansiering vir waterprojekte nie.”
Die konferensie vind tot môre plaas met eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila wat die Namibiese afvaardiging lei.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie