TRAGIC PRICE FOR SURVIVAL: The ongoing water crisis in Zambezi's Judea Lyaboloma constituency has led to the tragic deaths of about 20 people this year. Photo contributed
TRAGIC PRICE FOR SURVIVAL: The ongoing water crisis in Zambezi's Judea Lyaboloma constituency has led to the tragic deaths of about 20 people this year. Photo contributed

Waterskaarste lei tot 20 mense se dood

Nikanor Nangolo
Die voortslepende waterkrisis in die Zambezistreek se Judea Lyaboloma-kiesafdeling het vanjaar tot die dood van sowat 20 mense gelei, met inwoners wat gedwing word om water in gebiede te gaan haal waar krokodille en seekoeie voorkom.

Die bestuurder van die Mashi-bewaringsgebied, Richard Mukube, het dié kommerwekkende situasie bevestig.

Hy het aan Network Media Hub (NMH) gesê die gebrek aan toegang tot drinkbare water dryf mense na gevaarlike gebiede, insluitend riviere, waar die risiko van noodlottige ontmoetings met wilde diere hoog is.

Humphrey Divai, ’n raadslid vir die kiesafdeling, skryf die toename in sterftes toe aan toenemende mens-dier-konflik wat veroorsaak word deur die desperate soeke na water.

“Wanneer mense na die rivier gaan, kom hulle krokodille teë. Baie kom dikwels laat in die nag terug. Dan is daar olifante, aangesien hierdie gebiede binne nasionale parke is.

“Olifante het reeds sowat drie mense doodgemaak, en in ’n ander geval het ’n seekoei iemand anders aangeval,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon dat wanneer riviere opdroog, diere en mense dikwels by dieselfde waterpunte saamkom, wat die gevaar verder verhoog.

“As ons boorgate en ’n behoorlike pypleiding gehad het, sou mense nie na die rivier hoef te gaan nie. Hulle kon hul water van veiliger bronne kry.”

Divai het voorgestel dat die pypleiding vanaf Kongola na Malengalenga en van die Zambezirivier na Muyako verleng word om die behoefte vir inwoners om water uit riviere te gaan haal, te verminder.

“Sodra daardie pypleidings verleng is, sal mense toegang tot water hê. Dit is die enigste oplossing,” het hy gesê en bygevoeg dat nog boorgate geboor moet word om in die groeiende aanvraag te voorsien. Hy het verder gewaarsku dat die bestaande boorgate kan opdroog as die regering nie gou ingryp nie.

“Die eerste minister het die streek in kennis gestel dat daar geld vir watervoorsiening beskikbaar is. Is daardie geld aangewend? Die regering moet onder druk geplaas word om daardie geld vry te stel om boorgate te boor en die pypleiding te verleng, om te verseker dat water aan die mense verskaf word,” het hy gesê.

Volgens hom word die waterkrisis in landelike gemeenskappe oraloor die Zambezistreek vererger as gevolg van verouderde infrastruktuur en die uitputting van watervoorrade, met sommige boorgate wat heeltemal opgedroog het.

“Die meerderheid landelike gemeenskappe in die Judea Lyaboloma-kiesafdeling en die breër Zambezistreek het nie voldoende waterdienste nie.

“Dit is as gevolg van beperkte hulpbronne en administratiewe kwessies, soos die versuim om ou boorgate in stand te hou of te herstel.

“Die landelike verskaffers in die streek hou nie onderdele vir boorgate in voorraad of koop dit aan nie, wat gemeenskapslede dwing om self onderdele te koop om boorgate in staatsbesit te herstel wanneer dit breek,” het hy gesê.

“Die voortdurende wateruitdagings het tot talle sterftes in die kiesafdeling gelei, aangesien mens-dier-konflik toegeneem het, veral by waterpunte soos riviere.

Die 2023-’24-droogte het die situasie verder vererger en ’n aansienlike toename in waterverbruik vir beide mense en diere veroorsaak,” het Divai gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer