Werk omgewingsimpakstudies in Namibië?

‘Groeiende kommer oor korrupsie’
Kenners doen 'n beroep op die omgewingskommissaris om die wet op omgewingsbestuur op 'n professionele manier te implementeer.
Kristien Kruger
Omgewingsimpakstudies (EAI) in ten doel om te verseker dat enige ontwikkelingsprojek in Namibië maatskaplike regverdig en omgewingsvolhoubaar is. Hierdie proses gaan egter dikwels gebuk onder kritiek met kenners wat meen dat dit in werklikheid net ’n boksie-aftiek-oefening is wat ’n paar mense bevoordeel ten koste van die meerderheid Namibiërs en die omgewing.

Dit is veral die mening van John Pallett en Ndelimona Iipinge van die Namibian Environment and Wildlife Society (News).

In ’n artikel in Conservation Namibia, verduidelik Pallett en Iipinge waarom die EIA-proses nie in Namibië werk nie. Hul assessering is gebaseer op bewyse van die EIA Tracker wat boekhou van alle EIA’s in Namibië vanaf Mei 2023 tot Julie 2024. Dié platform teken alle EIA’s aan wat by die kantoor van die omgewingskommissaris geregistreer is en plaas al die relevante inligting in verband met die EIA’s op die web.

“Die EIA Tracker verskaf inligting oor elke projek wat aansoek vir omgewingsklaring doen, gebaseer op die dokument van agtergrondinligting [Background Information Document (BID)].”

Op grond van hierdie inligting in die BID word elke projek geklassifiseer as hoë, medium of lae risiko.

Hoërisikoprojekte is dié wat beduidende omgewings- en maatskaplike kwessies inhou, soos groot myne en damme. Hulle vereis 'n deeglike EIA, gewoonlik met spesialisstudies oor onder meer water, biodiversiteit, maatskaplike kwessies en argeologiese impakte.

Mediumrisikoprojekte hou effens laer risiko's vir die omgewing en mense in, soos moontlike besoedeling en risiko's vir waterbronne wat met die toepaslike versagting hanteer kan word. Hierdie meer algemene projekte sluit in geologiese eksplorasie, klein myne en kraglyne.

Laerisikoprojekte hou oor die algemeen onbeduidende impakte vir mense en die omgewing in. Voorbeelde sluit in hersonering in stedelike gebiede, brandstofstasies, klein gronddamme, die meeste lodges en sonkragplase wat buite sensitiewe gebiede geleë is.

“Van die 1 189 EIA’s wat in die tydperk van 15 maande geregistreer is, was 52% laerisikoprojekte. Hierdie relatief onbenullige EIA’s neem ’n groot deel van die departement van die omgewingsake se moeite en tyd in beslag, wat elk ongeveer drie maande neem vanaf die indiening van die EIA tot die uitreiking van die omgewingsklaringsertifikaat (ECC).

“Na ons mening is dit vermorste moeite. Dit kan meer doeltreffend hanteer word deur ’n vereenvoudigde kontrolelys, wat die proses bespoedig en tyd spaar vir belangriker sake, waar meer deeglike omsigtigheidsondersoeke oor beduidende EIA’s nodig is,” meen Pallett en Iipinge.

Een voorbeeld wat Pallett en Iipinge noem, waar groter ondersoek volgens hulle nodig was, het betrekking tot ’n eksplorasielisensie (EPL) wat in die toerismegebied naby Khorixas uitgereik is.

“Die BID het die aandag gevestig op die teenwoordigheid van renosters in die gebied, wat die Save the Rhino Trust en plaaslike lodge-eienaars genoop het om kommer teen die projek te opper.

“Die praktisyns het op bedrieglike wyse verklaar dat die risiko's vir biodiversiteit laag is. Die ECC is uitgereik ten spyte van hierdie duidelike onreëlmatigheid en groot negatiewe impakte, en die geologiese eksplorasieprojek het voortgegaan.”

Pallett en iipinge meen dat hierdie slegs een van talle voorbeelde is wat hul siening versterk dat die EIA-proses nie vertrou kan word nie. Hulle meen dit is net ’n administratiewe prosedure wat van ’n lys afgetiek word.

“Of, in die ergste geval, is dit ’n kwessie van groeiende kommer oor korrupsie.”



'RUK JULLE REG!'

Pallett en Iipinge meen ’n demokratiese en deursigtige EIA-proses is in die belang van die verbetering van algehele omgewingsbestuur.

“Wanneer die publiek ten volle betrokke is by ontwikkelingsprojekte, is daardie projekte meer geneig om volhoubare en sosiaal aanvaarbare uitkomste te hê. Dit is die uiteindelike doelwit van die wet op omgewingsbestuur.

“Die Tracker het ons gewys dat baie aspekte van die EIA-proses tans in Namibië misluk. Ons boodskap aan die kantoor van die omgewingskommissaris, gebaseer op die sterk feite wat deur die EIA Tracker aan die lig gebring is, skree ten hemele: Ruk julle reg!

“Ons doen 'n beroep op die omgewingskommissaris om die wet op omgewingsbestuur op ’n professionele manier te implementeer as deel van sy plig om namens alle Namibiërs te werk.”



PROFESSIONELE LIGGAAM

Die EIA Tracker-span het met die omgewingskommissaris en sy senior personeel vergader om hierdie probleme te bespreek en verskeie aanbevelings te maak, insluitend die behoefte om 'n professionele liggaam vir praktisyns in te stel, soos dié vir aardwetenskaplike, mediese- en ingenieursberoepe.

So ’n organisasie – die Environmental Assessment Practitioners Association of Namibia (EAPAN) – bestaan al ’n dekade as ’n vrywillige vereniging, maar dit kry min erkenning en geen ondersteuning van die departement van omgewingsake nie.

Op hierdie stadium is slegs die helfte (48) van Namibië se 93 praktisyns vir omgewingstudies by die EAPAN geregistreer en slegs een derde (337 uit 1 189) EIA’s wat in die afgelope 15 maande geregistreer is, is deur EAPAN-geregistreerde praktisyns uitgevoer.

“Die omgewingskommissaris het belowe om prioriteit te gee aan 'n professionele liggaam vir praktisyns, maar tot dusver het niks gebeur nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer