• Tuisblad
  • Omgewing
  • Wetenskaplikes takel een van Afrika se mees vernietigende indringerbome

Wetenskaplikes takel een van Afrika se mees vernietigende indringerbome

Prosopis juliflora het in ’n probleem ontaard
Die boom het tien miljoen hektaar grond in oostelike Afrika oorgeneem; uiteindelik driekwart van Kenia se oppervlak, en bykans die helfte van beide Ethiopië en Tanzanië se grondgebied bedek.
Henriette Lamprecht
’n Belangrike nuwe boek oor die ekologie en bestuur van een van die mees vernietigende indringerplante in Afrika, is nou aanlyn beskikbaar.

Die boek getiteld, The Ecology and Management of Invasive Prosopis Trees in Eastern Africa, is die uitvloeisel van ’n groot dekade lange navorsingsprojek tussen ses universiteite en ag instellings van Ethiopië, Kenia, Tanzanië, Suid-Afrika, Switserland en die Verenigde State van Amerika (VSA).

Tussen die 1970’s en die 1990’s het internasionale hulplenigingsorganisasies verskillende Prosopis-spesies, oorspronklik van die Amerikas, op groot skaal aan lande in oostelike Afrika bekend gestel as teenvoeter vir woestynvorming en hul voordele soos hout, veevoer en skadu.

Een van daardie spesies, Prosopis juliflora, het vervolgens in ’n probleemindringer ontaard en word nou beskou as ’n klassieke voorbeeld van ’n goedbedoelde plan wat skeefgeloop het.



SKADELIKE IMPAK

In 2006 het die skadelike impak van Prosopis-indringing internasionaal opslae gemaak toe gemeenskapslede van Baringo County in Kenia ’n tandlose bok na ’n Nairobiese hof gebring het as bewys van een van die vele negatiewe uitwerkings van Prosopis-peule op hul vee.

Prof. Brian van Wilgen, een van die redakteurs van die boek en emeritus professor in indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch se departement plant- en dierkunde, sê tot op hede het hierdie boom nagenoeg tien miljoen hektaar grond (rofweg die grootte van die Noordwes-provinsie) in oostelike Afrika oorgeneem.

“Alhoewel hierdie bome aanvanklik aangeplant is om die voordele wat dit toe ingehou het, is hierdie voordele daaropvolgend uitgekanselleer en word dit nou aansienlik oortref deur die negatiewe uitwerkings,” sê hy.

Die negatiewe impak van hierdie “konflik”-spesies is so omvattend dat mense gedwing word om hulle grond te verlaat en ’n nuwe lewe elders te probeer bou.

Die bome het die struktuur en funksionering van gemeenskaplike weivelde, landerye, vleilande en beskermende gebiede fundamenteel verander. Oop savannalandskappe het digbegroeid geword — ondeurdringbare bome met min of geen gras onder hulle nie. In gebiede met digte indringing kan Prosopis-bome ongeveer 50% van die jaarlikse streekreënval gebruik en sodoende die grondwaterbronne volkome uitput, wat die gevolge van klimaatsverandering vererger.

’n Betekenisvolle bevinding is dat die indringing in oostelike Afrika nog in ’n baie vroeë stadium is. Indien dit egter onbeheerd gelaat word, sal dit waarskynlik uitbrei en uiteindelik driekwart van Kenia se oppervlak, en bykans die helfte van beide Ethiopië en Tanzanië se grondgebied bedek.

Die beraamde ekonomiese koste wat so ’n scenario sal teweeg bring, kan tot US$375 miljoen per jaar beloop.

Kenia is die land wat areagewys die grootste gevaar loop vir toekomstige indringing: byna al die droë en semidroë lande loop die gevaar om ingeneem te word indien die verspreiding nie beheer word nie.



BESTUUR VAN HIERDIE LASTIGE ONKRUID

Van Wilgen sê die boek vul ’n groot leemte op die gebied van indringerbiologie, aangesien Afrika-gebaseerde navorsing in ewekniebeoordeelde literatuur feitlik nie bestaan nie.

“’n Oorsig wat in 2008 gedoen is oor indringerbiologie as vakgebied, het vasgestel dat 2 670 navorsingsartikels in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte sedert 1980 gepubliseer is, maar dat slegs 3,4 % hiervan uit Afrika was – met driekwart hiervan uit ’n enkele land, Suid-Afrika. Hierdie gebrek aan relevante begrip het erge gevolge vir die bestuur van ’n groot omgewingsprobleem op die Afrika-vasteland,” waarsku hy.



KENNISLEEMTE

Die outeurs hoop dat die boek hierdie kennisleemte sal vul en die eenstopbron van inligting vir Afrika se beleidmakers en besluitnemers sal word.

Prof. Philip Hulme, uitgelese professor in plantbiosekuriteit in die department van plaagbestuur en bewaring aan die Lincoln-universiteit in Nieu-Seeland, skryf in die voorwoord dat die boek “’n uitstekende oorsig bied van die probleme wat spruit uit verkeerde beleide wat voorkeur aan korttermynresultate verleen het, bó langer termyn omgewings- en maatskaplike gevolge.

“Hierdie robuuste bewysbasis wat die negatiewe uitwerkings kwantifiseer, stuur ’n duidelike waarskuwing aan daardie individue, instellings en organisasies wat voortgaan om Prosopis-spesies as waardevolle veeldoelige bome te beskou. Danksy die produktiewe groeikoers en hoë verspreidingsdoeltreffendheid van Prosopis-bome was wydverspreide indringing en die gevolglike agteruitgang van die omgewing en die algehele lewenskwaliteit van mense die uitkoms — beste bedoelings ten spyt.”



DIE PROJEK

Talle van die bevindinge en insigte in hierdie boek is ’n uitvloeisel van die navorsing wat gedurende die tien jaar lange Woody Weeds-projek tussen 2015 en 2024 onderneem is.

Hierdie projek is gefinansier deur die Switserse Nasionale Wetenskapstigting en die Switserse Agentskap vir Ontwikkeling en Samewerking (as deel van die Switserse Program vir Navorsing oor Globale Ontwikkelingskwessies, asook die Switserse Agentskap vir Ontwikkleing en Samewerking.)

Die boek is geredigeer deur Brian W. van Wilgen (Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika), Urs Schaffner (Commonwealth Agricultural Bureaux International, algemeen bekend as CABI, Switserland), Albrecht Ehrensperger (Universiteit van Bern, Switserland) en Ketema Bekele (Haramaya Universiteit, Ethiopië) en is aanlyn beskikbaar by The Ecology and Management of Invasive Prosopis Trees in Eastern Africa | CABI Invasives Series.

– Bron: Universiteit Stellenbosch

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer