Wie loer daar?

Tanja Bause
’n Ongewone diertjie is tans besig om mense se harte te steel en te wys dat hulle tog sag en liefdevol kan wees.

Betty die vrugtevlermuis bly saam met haar mensma, Chante Nel, op ’n plaas sowat 10 kilometer buite Grootfontein.

“Op 24 Oktober het ons een oggend wakker geword en my pa het iets snaaks in die tuin gewaar. Hy het ondersoek gaan instel en op ’n babaluislang wat ’n vrugtevlermuis gevang het, afgekom. Toe ek en my ma gaan kyk, het ons gesien daar was ’n vlermuis-baba tussen die ma en die slang. Ons het gewik en weeg of ons met die natuur moet inmeng.

“Daar was net iets in daardie mamma se oë wat my laat besef het ek kon nie net niks doen nie. Ek het saggies die baba verwyder en probeer om nie die slang te pla nie. Dit was immers haar kos en sy het hard daarvoor gewerk en dit verdien, maar ek kon net nie die baba los nie. Ek het die baba gered en vinnig in die huis ingedra en onmiddellik begin google.”

Die Nel-gesin het baie ondervinding met weesdiere wat hulle al grootgemaak het. Dus het hulle allerhande verskillende soorte formulemelk op die plaas.

“Ons het gelees en uitgevind dat babaformulemelk die beste vir Betty sal wees. Ons het ook piesang fyngemaak en vir haar in haar melk gemeng. Sy het ook – soos al die ander diertjies – heuningwater gekry.”

Chante vertel hulle het interessante feite geleer en raakgelees oor hoe om vir Betty skoon te maak, haar te bad en hoe om haar te sus.

“Jy rol ’n kombersie op en dan hou sy daaraan vas en jy vou dit om haar. Dan is jy die mamma, want sy sou haar vlerke om haar ma vou en so vashou. Sy het intussen dié stadium ontgroei asook die melkstadium. Sy vreet nou al vir ’n week vrugte en hang onderstebo wanneer sy slaap.”

Betty se vlerk wat onder die slang vasgevang was, is nie heeltemal gesond nie. Chante sê haar vlerk het al baie beter geraak, maar Betty kan in dié stadium nog nie vlieg nie.

“Ek dink sy probeer vlieg omdat ek haar baie in die aande op die vloer vind. Sy het ook woelig begin raak en sy oefen haar vlerke.”

Betty is baie soos ’n babahondjie, sê Chante.

“Sy lyk soos ’n babahond met vlerke. Sy lek haarself en vir my soos ’n hondjie sal doen.

“Ek dink as sy kon vlieg, het sy my onderstebo gevlieg vir haar kos, maar sy kan nie vlieg nie, so nou raak sy baie opgewonde as jy aangeloop kom en dan klim sy op ons.

“Sy sal selfs van haar mandjie afklim en op die vloer na ons toe aangestap kom. Sy roep ons as sy honger is.

“Betty roep as sy aandag soek of as sy op die grond geval het en opgetel wil word. Sy kommunikeer en maak dit duidelik as sy ons soek of iets nodig het.”

Betty is die eerste vlermuis wat hulle grootgemaak het en sy het Chante se oë oopgemaak oor hoe oulik vlermuise eintlik is en hoe hulle hul eie persoonlikheid het.

“Ons het aan die begin ook maar bietjie vir haar gegil, maar sy is so liefdevol, saggeaard en oulik dat sy my hele siening oor vlermuise verander het.

“Hulle is net skadelose diere wat jou nie gaan aanval nie. Hulle gaan nie vir jou kom nie want hulle is bang vir jou en glad nie aggressief nie – so hanteer hulle met respek.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!