Olifante in die Mudumu Nasionale Park. Foto https://visitnamibia.com.na/
Olifante in die Mudumu Nasionale Park. Foto https://visitnamibia.com.na/

Wilde diere ’n seën én vloek

Verliese weens mens-dier-konflik
Die gemeenskap vra om jagkwotas vir bewaringsgebiede te verhoog en inwoners te bemagtig om probleemdiere te skiet wanneer hul lewens of eiendom in gevaar is.
Ellanie Smit
Die inwoners in die Sangwali-gebied in die Judea Lyabboloma-kiesafdeling van die Zambezistreek het nasionale parke in hul gebiede as beide ’n seën en ’n vloek beskryf, aangesien hulle steeds swaar verliese ly weens mens-dier-konflik.

Dit is volgens die verslag deur die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne oor die mosie oor mens-dier-konflik.

Die komitee het openbare verhore in vyf streke gehou, naamlik Zambezi-, Kavango-Oos- en -Wes, Kunene en Erongo gedurende die tydperk van Augustus 2023 tot Augustus 2024, om die mening van die geraakte gemeenskapslede oor die onderwerp aan te hoor, voordat die verslag saamgestel word vir voorlegging aan die Nasionale Vergadering.

Sangwali grens aan die Nkasa Rupara Nasionale Park in die ooste en Mudumu Nasionale Park in die weste.

“Hoewel bewaringsgebiede in die gebied voordeel trek uit die invloei van wilde diere vir toerismedoeleindes, kan dieselfde nie gesê word vir inwoners wat in vrees leef om hul lewens en eiendom te verloor nie.”

Daar word gesê dat ’n aansienlike aantal mens-dier-konflikvoorvalle jaarliks ervaar word in die gebied, wat die tuiste is van ’n groot aantal wild soos onder meer olifante, leeus, buffels, krokodille en seekoeie.

Die verslag lui dat die nedersettings wat net binne die Balyerwa-bewaringsgebied val, sedert 2020 toenemende voorvalle van mens-dier-konflik ervaar het.

In 2020 was daar 139 voorvalle, insluitend 109 voorvalle van oesskade, 29 veeverliese en een mens wat aangeval is.

In 2021 het die totale aantal voorvalle tot 201 gestyg, met 193 voorvalle van oesskade en agt veeverliese, terwyl in 2022 ’n totaal van 188 voorvalle aangeteken is, met 180 voorvalle van oesskade en agt veeverliese.

Volgens die verslag van Januarie tot middel Augustus 2023 alleen is meer as 180 gevalle aangeteken wat skade aan oeste, veeverliese en selfs verliese aan menselewens behels het.

“Die voorvalle het dit vir inwoners moeilik gemaak om te oorleef aangesien hulle afhanklik is van saailande vir hul lewensbestaan,” lui die verslag.

Die statistiek wat deur Salushando verskaf is, was slegs vir gebiede soos Nongozi, Mbambazi, Sauzuo, Mambali en Lyanshuru en sluit ander nedersettings uit wat in ander bewaringsgebiede gevind word.

Daar is drie bewaringsgebiede in die Judea Lyabboloma-kiesafdeling, naamlik Dzoti, Wuparo en Balyerwa.

Die Sangwali-gemeenskap het by die regering gepleit om alle wilde diere as probleemdiere as deel van die vergoedingsbeleid te beskou om in aanmerking vir vergoeding te kom.

Ander diere soos hiënas, luiperds, bosvarke, wildsbokke, jakkalse en bobbejane veroorsaak ook verwoesting in landerye.

Vergoeding is slegs beperk tot oesskade wat slegs deur drie wilde diere veroorsaak word, naamlik olifante, buffels en seekoeie.

Die gemeenskap het verder ’n beroep op die regering gedoen om jagkwotas vir bewaringsgebiede te verhoog en inwoners te bemagtig om probleemdiere te skiet wanneer hul lewens of eiendom in gevaar is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer