’n Verbod is geplaas op die verkoop van witrenosters vir teeldoeleindes buite hul natuurlike habitat. FOTO ARGIEF
’n Verbod is geplaas op die verkoop van witrenosters vir teeldoeleindes buite hul natuurlike habitat. FOTO ARGIEF

Witrenosters: Verbod op uitvoer buite hul habitat

Reeds in 'Staatskoerant’ gepubliseer
Alle witrenosters wat uitgevoer word, moet onthoring wees, mikroskyfies hê en vergesel word van 'n renosterindeksstelsel-sertifikaat.
Ellanie Smit
’n Verbod is geplaas op die uitvoer van lewende witrenosters vir teeldoeleindes vanaf Namibië na gebiede buite hul natuurlike habitat.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het dié verbod gister aan Network Media Hub (NMH) bevestig. Hy het gesê dit is reeds in die Staatskoerant gepubliseer.

“Ingevolge artikel 49 van die natuurbewaringsordonnansie en saamgelees met subartikel 2, kondig ek aan dat ek die uitvoer van lewende witrenosters vir teeldoeleindes buite hul natuurlike habitat verbied,” sê Shifeta in die staatskennisgewing wat deur die ministerie van justisie op 17 Oktober gestempel is.

Volgens Shifeta val dit onder die voorwaardes dat ’n beperking van net vyf diere van Namibiese oorsprong op enige gegewe tyd in enige dieretuin of enige ander geriewe aangehou word.

Die geriewe moet by die Wêreldvereniging van Dieretuine en Akwariums geregistreer wees of ’n geakkrediteerde lid wees van ’n streekdieretuinorganisasie wat erken word deur die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Spesies (Cites).

Die invoerland moet dit ook aanvaar as ’n betroubare vereniging vir onderrigdoeleindes by die bestuursowerheid van die betrokke land.

Shifeta sê ander voorwaardes sluit in dat alle witrenosters wat uitgevoer word, onthoring moet word, mikroskyfies moet hê en vergesel moet word van ’n renosterindeksstelsel-sertifikaat. Personeel van die ministerie moet ook teenwoordig wees terwyl die diere vir uitvoer gelaai word.

Die verbod volg nadat die ministerie onlangs gesê het hy gaan die uitvoer van lewende witrenosters buite hul natuurlike habitat meer doeltreffend reguleer, met ’n toename in die uitvoer van dié diere net vir teeldoeleindes na die Verenigde State van Amerika (VSA).

Die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, het op sy beurt gesê dit volg op die onlangse uitvoer van 39 renosters wat tydens ’n private transaksie veilig vanaf Namibië na die VSA uitgevoer is.

Die witrenosters wat by die Kifaru Luxury Lodge and Bush Camp naby Outjo aangekoop is, het verlede week veilig in Texas geland nadat dit met ’n Boeing 747 vanaf die Internasionale Lughawe Hosea Kutako vervoer is.

Terwyl die ministerie die uitvoer van die lewende witrenosters van Jaco Muller na die VSA goedgekeur het, het hy erken hy is bekommerd oor die groot belangstelling om witrenosters na veral die VSA net vir teeldoeleindes te stuur.

’n Verklaring deur die Rhino Momma Project sê die Muller-familie en hul span se verbintenis om die nalatenskap van die suidelike witrenoster se genetiese nalatenskap te bewaar, het gelei tot die stigting van die niewinsgewende organisasie. Die program het reeds daartoe gelei dat 163 renosters gebore is.

Luidens die verklaring skiet die vermoë om geld in te samel egter te kort om die finansiële en morele las te dek wat die familie moes dra.

“Terwyl die verkoop van die renosters finansiële verligting in hulpbronne op die kort termyn verskaf het, bly die swaar finansiële las steeds daar aangesien hul pogings oor meer as ’n dekade strek.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!