Afrika-akademici vergader in hoofstad

Unam speel gasheer
Die konferensie vir Afrika-universiteite einde vandag by die Windhoek Buitekluboord.
Augetto Graig
Sowat 800 van Afrika se topakademici is tans in die hoofstad om met meer as 400 universiteitsleiers en lede van verenigings gesprekke te voer onder die vaandel van vanjaar se tema “Die bevordering van uitnemendheid in hoër onderwys in Afrika” .

Die Universiteit van Namibië (Unam) speel tot vandag gasheer vir die Vereniging van Afrika-universiteite (AAU) se 22ste Konferensie van rektors, visekanseliers en presidente van Afrika-universiteite (COREVIP).

Die geleentheid vind by die Windhoek Buitekluboord plaas waar die Afrika Handves vir Transformatiewe Navorsingsamewerking Woensdag bekend gestel is.

Unam se visekanselier, prof. Kenneth Matengu, het in sy openingstoespraak die belangrikheid van uitnemendheid in Afrika se universiteite beklemtoon.

Hy het met behulp van data-landkaarte geïllustreer hoe min navorsing en kennis in Afrika geskep word teenoor die res van die wêreld.

Hy het ook uitgelig hoe min huishoudings elektrisiteit het, wat studente die geleentheid sou gee om in die aande te studeer; hoe min Afrikane geletterd is; en hoe min tyd studente in Afrika op kampus deurbring.

Ten spyte daarvan dat studente in Afrika oor die algemeen net by ’n betrokke onderwysinstansie kan studeer, bestee hulle in vergelyking met die res van die wêreld se studente korter periodes op kampus.

Elders bly studente vanaf 08:00 tot 17:00 by die instansie, waar in Afrika daardie tydperk gewoonlik net vanaf 07:30 tot 13:00 strek, sê hy.

Matengu het ook gewys op die min universiteite in Afrika wat op die ranglys van topuniversiteite in die wêreld is; die verhouding tussen dié ranglys en ekonomiese ontwikkeling in gebiede waar topuniversiteite geleë is; en die impak van navorsing deur universiteite op die samelewing, insluitend voedselkwesbaarheid.

In die afwesigheid van doeltreffende hoër onderwys, is inwoners van die betrokke lande ook meer kwesbaar vir armoede, volgens die navorsing.

Hy sê die toename in die jeugbevolking in Afrika kniehalter voorbereidings en dat onderwys in Afrika homself moet staal om aan toekomstige vereistes te voldoen.

Dit terwyl hoër onderwys in Afrika se begrotings aansienlik minder is as in die res van die wêreld, brei hy uit.

“Dus is die bevordering van uitnemendheid in hoër onderwys in Afrika baie belangrik.

“Kom ons deel beste praktyke om doktorale opleiding uit te brei; die ontwikkeling van unieke programme wat die vasteland se talent benut; die samewerking tussen noord en suid bevorder; die rol van nywerhede te ondersteun om Afrika ’n vervaardiger van tegnologie eerder as slegs ’n verbruiker te maak, om die diaspora te betrek en om dringend die mobiliteit vir die finansiering van navorsing en ontwikkeling, studente en werknemer prakties te verseker,” het hy gevra.

Die minister van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, het uitgebrei oor die vordering wat hoër onderwys in Namibië sedert onafhanklikwording gemaak het.

In 1989 het net 3 443 studente toegang tot tersiêre onderwys in Namibië geniet, sê sy.

Teen 2021 was 69 932 studente by plaaslike instansies vir hoër onderwys ingeskryf, sê sy. Verder was 7 212 uit 10 108 gegradueerdes in daardie jaar vrouens.

Sedert 1990 het die Namibiese regering N$3,8 miljard vir hoër onderwys begroot, sê sy, wat teen 9,6% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir Namibië onder die top-onderwysbeleggers in die wêreld plaas, volgens die minister.

Nogtans benodig die finansiering van hoër onderwys steeds aandag, “in ons strewe om te reageer op die vereiste vaardighede vir die toekomstige arbeidsmag in hierdie digitale era. Daarom het hierdie konferensie op ’n geskikte tyd gekom”.

Namibië se eerste onderwysminister, Nahas Angula, en die Speaker, prof. Peter Katjavivi, is vir hul lewenslange bydrae tot onderwys in Namibië vereer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!