FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF

Bedryfsuitgawes vreet 98% van onderwys se geld

Tekort aan koshuise, ablusiegeriewe
Die reusebehoefte aan infrastruktuur kan weens die druk op die staatskas nie deur die regering alleen gefinansier word nie.
Henriette Lamprecht
Die agterstand in die konstruksie van klaskamers staan tans op 4 479 landswyd, terwyl meer as 1 000 koshuise en meer as 1 000 ablusiegeriewe ook nog op die lys is wat al langer word. Dit terwyl die aanvraag na onderriggeriewe aanhou styg.

Dit lei tot oorvol klaskamers en ’n gebrek aan ruimte wat die gehalte van onderrig en leer negatief beïnvloed.

“Oorvol klaskamers is geneig om onderwyser-gesentreerd te wees en leer is passief, met die gevolg dat leerlinge motivering verloor en onderwysers se werkslading verhoog” sê die minister van onderwys, kuns, en kultuur, me. Anna Nghipondoka. Volgens haar moet 1 176 koshuise en 1 075 ablusiegeriewe nog gebou moet word.

Sy het tydens die motivering van haar ministerie se begroting van N$14,74 miljard gesê dit verteenwoordig 21% van die nasionale begroting en is ook die hoogste toekenning aan enige ministerie.

Die ministerie se grootste porsie (97,8%) word deur die bedryfsbegroting verorber met die meeste geld wat aan personeeluitgawes gaan. Net 16% is vir ander bedryfsuitgawes geoormerk.

Die oorblywende 2,1% (N$300 miljoen) is vir kapitale uitgawes wat ’n vermindering van 25% is teenoor die N$398,8 miljoen van verlede jaar.

Volgens Nghipondoka is dit duidelik dat die reusebehoefte aan infrastruktuur gegewe die huidige druk op die staatskas nie deur die regering alleen gefinansier kan word nie.

“Die ministerie moet ernstig aandag skenk aan openbare-private-vennootskappe (PPP’s) om sy versnelde infrastruktuur-ontwikkelingsplan (AIDeP) te finansier,” het sy gemaan.

Die plan is ’n inisiatief van die ministerie om konstruksie van geriewe te versnel deur verminderde projeksiklusse en ’n meer kostedoeltreffende manier deur standaardontwerpe te gebruik.

Nghipondoka het klem gelê op preprimêre onderrig, met finansiering hiervoor wat jaarliks verhoog is. Die N$415,1 miljoen wat hiervoor geoormerk is, verteenwoordig 3% van die ministerie se totale begroting en sluit die Vroeë Graad Lees en Evaluering (EGRA) in die hersiene leerplan vir die junior primêre fase in. Dit is ’n hulpmiddel om basiese leesvaardighede te meet en gevolglik ingryping en ondersteuning te verseker. Die Jolly Phonics-program vir onderwysers in dié fase word vanjaar ook in alle streke van stapel gestuur om geletterdheidsvlakke by leerlinge te verhoog.

Volgens die minister kry primêre onderrig die grootste gedeelte van die begroting en wel N$8,5 miljard wat 61% van die totale toekenning is.

Buiten salarisse en toelaes wat die grootste hap vat, jaag die universele primêre onderrigtoelaag vir 606 585 primêre skoolleerlinge teen N$200 per leerling die ministerie jaarliks N$121,37 miljoen uit die sak.

’n Bykomende N$100 per leerling is begroot vir vervoer na die streekdirektoraat vir die aankoop van skryfbenodighede vir dié leerlinge. Dit is nog N$60,6 miljoen.

Aangesien staatskoshuise veral in afgeleë landelike gebiede nie beskikbaar is nie, moet die ministerie gemeenskaps- en private koshuise subsidieer. Die per kapita per leerling per dag is N$22 en word jaarliks aan 113 van dié koshuise betaal wat minder as 20 000 leerlinge huisves.

Nog ’n groot uitgawe is die skolevoedingsprogram wat ’n maaltyd bestaande uit mieliepap aan sowat 424 248 leerlinge in 1 531 skole in al 14 streke verskaf.

Net N$20 miljoen is beskikbaar vir die bou van nuwe klaskamers in dié fase.

Vir die sekondêre fase, sê Nghipondoka die grootste uitgawes is onder meer klaskamers, onderwysers tot handhoeke en voorrade vir tegniese beroepsgerigte vakke die grootste uitgawes. Vir die aankoop van handboeke is N$30 miljoen begroot. Die universele sekondêre toelaag is N$300 per leerling wat N$68,6 miljoen vir 228 713 leerlinge beteken. ’n Verdere N$150 per leerling is vir skoolbenodighede wat N$34,3 miljoen beloop.

Altesaam N$69 miljoen is uitgesit vir konstruksie en opknap van sekondêre skole en koshuise.

Volwasse-onderrig, biblioteke en die kuns- en kultuurbedryf moet N$429 miljoen deel wat ook nieregeringsorganisasies soos die Kollege vir die Kunste en die Nasionale Kunsgalery insluit.

Nghipondoka sê die ministerie beplan ook ’n nasionale onderwyskonferensie in Augustus vanjaar om onder meer te sien hoeveel van die resolusies van die laaste een in 2011 is geïmplementeer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!