FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Byna 90% van skoliere in Afrika kan nie lees

Pandemie ergste skok vir onderrig
Dié generasie leerlinge loop die risiko om US$21 biljoen in potensiële lewenslange verdienste in plaaslike waarde te verloor.
Henriette Lamprecht
Sowat 70% van die wêreld se tienjariges verstaan nie ’n eenvoudige, geskrewe teks nie, met “leerarmoede” (learning poverty) wat met ’n derde in lae- en middelinkomstelande gestyg het.

Die koers was voor die Covid-19-pandemie reeds 57% en in Afrika suid van die Sahara waarvan Namibië deel is, het dit tot 89% gestyg weens die ergste skok vir onderrig en leer in opgetekende geskiedenis.

Volgens die verslag deur die Wêreldbank, Unesco, Unicef en die Bill & Melinda Gates Foundation loop dié generasie studente die risiko om US$21 biljoen (trillion in Engels) in potensiële lewenslange verdienste in plaaslike waarde te verloor. Dit is gelykstaande aan 17% van vandag se globale bruto binnelandse produk (BBP) en op van ’n beraamde US$17 biljoen in 2021.

The State of Global Learning Poverty: 2022 wys langdurige sluitings van skole en ’n verlaging in huishoudings se inkomste het die grootste impak in Latyns-Amerika en Karibiese lande gehad waar ’n beraamde 80% van kinders aan die einde van hul primêre skoolloopbaan nie ’n eenvoudige, geskrewe teks verstaan nie. Voor die pandemie was dit sowat 50%.

In Suid-Asië is dit 78% van kinders wat ’n gebrek aan die minimumvaardigheid vir geletterdheid het. Selfs voor Covid-19 was die koers vir leerarmoede 57% in lae en middelinkomstelande, met die verslag wat maan die terugkeer na normaal is nie genoeg om die toekoms van die wêreld se kinders te verseker nie.

Dis veral kinders uit ’n laer sosioëkonomiese agtergrond en ander benadeelde groepe wat die hardste getref word. Kinders met die swakste greep op basiese geletterdheid voor die wêreldwye sluiting van skole is dié met die grootste agterstand om in te haal.

Sonder sterk grondslagvaardighede sê die verslag is dit onwaarskynlik dat hulle die tegniese en gevorderde vaardighede sal bekom wat nodig is om in die toenemend veeleisende arbeidsmarkte en meer komplekse samelewings te floreer.

Dit maan die langtermynkrisis sal nasionale koalisies vir herstel vereis, insluitend families, opvoeders, die burgerlike samelewing, sakegemeenskap en ander ministeries buiten dié van onderwys.

“Gegewe die omvang van die uitdagings en die skaarste van hulpbronne, moet lande hul pogings fokus op die mees kostedoeltreffende benaderings om leerarmoede te takel,” lui die verslag.

Voorstelle is dat regerings seker moet maak elke kind word bereik en bly in die skool, die doeltreffendheid van instruksie word verhoog, terwyl leervlakke gereeld geëvalueer moet word.

Dr. Benjamin Piper, direkteur van globale onderrig by die Bill & Melinda Gates Foundation sê die verslag moet ten minste twee reaksies uitlok.

“Eerstens is diep hartseer oor die omvang van die leerkrisis. Die data wys die skokkende ongelykheid wat voortduur, met 87% van kinders in Afrika wat nie ’n eenvoudige teks kan lees of verstaan nie. Dis hartseer, maar ook verkeerd. Die tweede is dat ons oplossings het wat op skaal en in regeringstelsels kan werk,” het hy gesê.

Mnr. Robert Jenkens, Unicef se globale direkteur vir onderwys, het op sy beurt gemaan om kinders terug in klaskamers te kry, is bloot die eerste stap.

“As ons daar gaan stop, gaan ons miljoene kinders beroof van die kans om hul volle potensiaal te bereik. Elke kind het nie net die reg om in die skool te wees nie, maar ook om hier te leer en die basiese vaardighede te bemeester wat die grondslag is vir hoër onderrig en hoër inkomstevlakke. Ons moet elke kind in elke situasie bereik. Ons moet hul leervlak evalueer en hulle help om die basiese te bemeester, sodat hulle as selfversekerde leerlinge vorentoe kan beweeg,” het hy gesê.

Dit geld volgens hom veral vir kinders in konflik- en krisissituasies wat ook psigomaatskaplike ondersteuning moet kry. Hy het gemaan die wêreld kan nie toelaat dat kinders net nog ’n slagoffer van die pandemie word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!