Capricorn, ACDT belê in onderwys

ACDT bereik meer as 13 miljoen kinders
Iréne-Mari van der Walt
Jeanette Diegaardt – Die Capricorn-stigting het gister sy vennootskap met die African Child Development Trust (ACDT) versterk deur N$575 000 aan die trust te skenk.

Die geld is geoormerk om minderbevoorregte kinders oraloor Namibië, selfs in die afgeleë dele van die land, te bereik.

Capricorn belê deur hul korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid (CSR) gereeld in die onderrig van die Namibiese kind.

“Onderrig is een van ons fokusareas en onder hierdie fokuspunt wil ons ook die ministerie van onderwys, kuns en kultuur ondersteun in die lewering van gehalte-onderrig en om die mees kwesbare gemeenskappe in die land te bereik,” het die Capricorn-stigting se koördineerder, Veripura Muukua, by die oorhandigingsgeleentheid gesê.

Die Capricorn-stigting dien as die CSR-drywer van die Capricorn-groep en word deur die volgende Namibiese entiteite gefinansier, naamlik Bank Windhoek, Capricorn Asset Management en Entrepo.

Dié skenking sal ACDT bemagtig om opvoedkundige boekies landswyd te versprei. Tot op hede het ACDT reeds ongeveer 150 000 boekies versprei.

“Vandag is ’n baie spesiale dag aangesien ons ons vennootskap met die Capricorn-stigting hernu het,” het ACDT se koördineerder, Sharnay Botha, gesê.

Sy het bygevoeg dat die stigting se helpende hand ’n noodsaaklike deel van die projek gevorm het sedert sy totstandkoming tydens die Covid-19-pandemie.

“Ons voel geëerd om hulle aan boord te hê aangesien ons reeds 13 miljoen kinders bereik het,” het Botha gesê.

ACDT is in 2020 gestig met die doel om by te dra tot die algehele opvoedkundige ontwikkeling van kinders in Namibië en het ten doel om deur sy projekte en programme by te dra tot die volgehoue ontwikkeling van kinders.

’n Spesifieke fokusarea van ACDT is vroeë kinderontwikkeling en om te verseker dat onderwysers, ouers en kinders toegerus is en gehalte-opvoedkundige en ontwikkelingsopleiding en -materiaal ontvang.

“Ons is ook daartoe verbind om te verseker dat kinders en onderwysers opvoedkundige materiaal in hul moedertaal ontvang. Tans bestuur ACDT ’n opvoedkundige program vir Namibiese kinders van 5 tot 10 jaar in 12 verskillende tale, insluitend gebaretaal.

“Ons bereik weekliks 30 000 kinders in sentrums vir vroeë kinderontwikkeling en preprimêre skole in al 14 streke van die land en reis daagliks meer as 11 000 km om te verseker dat elke kind bereik word.

“ACDT het tot op hede meer as 13 miljoen opvoedkundige materiaal aan kinders oraloor Namibië gedruk en versprei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!