• Tuisblad
  • Onderwys
  • Covid, tekort aan hulpbronne nie verskonings vir swak prestasies
school2
school2

Covid, tekort aan hulpbronne nie verskonings vir swak prestasies

8 133 kwalifiseer vir graad 12
'n Studie het gedui op goeie prestasies deur skole met hulpbrontekorte, maar waar die bestuur by die betrokke skool goed was
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Slegs 5 812 uit die 38 019 voltydse kandidate wat vanjaar die eksamen vir die Nasionale Senior Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) afgelê het, kwalifiseer moontlik vir verdere studies aan ‘n tersiêre instelling. Uit die meer as 38 000 voltydse kandidate het 21,4% en wel 8 133 leerlinge (‘n styging van 2,6%) gekwalifiseer om aanstaande jaar vir graad 12 oftewel die Nasionale Senior Sertifikaat Gevorderde Vlak (NSSCAS) in te skryf.

‘n Teleurgestelde minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het in ‘n vurige boodskap aan veral onderwysers gesê dit is baie duidelik uit die uitslae dat “doeltreffende en kwaliteitonderrig” nie in baie skole en deur baie onderwysers oraloor in die land plaasgevind het nie. Hoewel die minister erkenning gegee het aan die merk wat Covid-19 op die bemeestering van vaardighede weens verminderde onderrig- en leertyd gelaat het, sowel as ‘n gerasionaliseerde leerplan op verskillende vlakke, is dit volgens haar nie ‘n verskoning nie.

Sy het verwys na die Positiewe Afwykingstudie (Positive Deviance Study) wat gedui het op goeie prestasies deur skole met hulpbrontekorte, maar waar die bestuur by die betrokke skool goed was. Dié prestasies was beter as by skole met die nodige hulpbronne, maar wat sonder voldoende bestuur was.

Sy het erken die ministerie kon weens ‘n afname in hul begroting ook nie alle vereiste poste vir skool- en departementshoofde vul nie, maar het beklemtoon dit is waar die verantwoordbaarheid van onderwysers inkom.

“Dit is nie noodwendig dat ‘n goedgekwalifiseerde en verantwoordbare onderwyser ‘n inspekteur, skool- of departementshoof nodig het om polisieman oor hul onderrig te speel nie,”het sy beklemtoon.

Nghipondoka sê die ontwrigting weens die Covid-19-pandemie in 2020 en 2021 weens verlengde sluitings van skole het ‘n groot demper op onderrig geplaas.

Volgens haar het dit ‘n rimpeleffek geplaas op die prestasies van kandidate wat nie onderrig onder normale omstandighede gehad het nie en wat insluit vanjaar se kandidate wat in 2020 aan die kortste end getrek het. Dit sluit in dié wat toe in graad 9 en verlede jaar in graad 10 of 11 was en gevorder het tot graad 11 of 12 in 2022.

Sy het veral haar skok uitgespreek oor die feit dat 420 leerlinge geen punte in die wiskunde tweede vraestel kon behaal nie.

“Ons het gevind sommige leerlinge kon nie eers 10% van ‘n gegewe bedrag uitwerk nie! Dan vra ek myself wat het in daardie klasse tydens hul skoolloopbaan van 12 jaar gebeur?”

Nghipondoka sê dit is baie duidelik uit antwoordstelle dat sommige onderwerpe in sekere vakke en wat deur die leerplan voorgeskryf is, glad nie onderrig is nie.

“As dit is wat in ons skole gebeur, moet dit dadelik gestop word.”

Vanjaar se voltydse kandidate van 38 019 is ‘n beduidende afname van 8 958 kandidate teenoor verlede jaar se groep wat die eksamens afgelê het.

Die prestasie van leerlinge in fisika en biologie het deur al die simbole verbeter, hoewel die aantal kandidate wat simbole in biologie kon behaal het, afgeneem het.

Die nasionale gemiddelde prestasie in kommersiële vakke het drasties verbeter, grootsliks as gevolg van goeie uitslae in besigheidstudies, ekonomie en entrepreneurskap. Slegs rekeningkunde het nie verbeter nie.

Die gemiddelde prestasie in alle sosiale wetenskapvakke, ingesluit geografie, het effens afgeneem in vergeleke met verlede jaar. A*- en A-simbole is meestal soortgelyk as verlede jaar, met slegs ‘n afname van 0,1%.

Met verwysing na tale het ‘n gemiddeld van 64% van die kandidate ‘n C-simbool en hoër vir eerste tale behaal. Kandidate het in metaal- en houtwerk e nook kantoorpraktyk beter as verlede jaar gevaar. Die nasionale gemiddeld van kandidate wat simbole behaal het, het met 0,7% teenoor 2021 gedaal.

Deeltydse kandidate wat D-simbole behaal het, is 43,3%, ‘n reuse afname van 15,3% teenoor die van verlede jaar.

In totaal het 9 215 kandidate vir die gevorderde vlak (AS) geregistreer. Hiervan was 8 624 voltyds en 591 deeltyds. Prestasie in fisika het ‘n verbetering van 1,4% en 0,7% vir onderskeidelik A- en B-simbole getoon. ‘n Gemiddeld van 81,2% van die kandidate het simbole behaal, terwyl 18,8% nie enige simbool in sekere vakke kon behaal nie.

Nghipondoka het ‘n ernstige beroep op senior onderwysbeamptes en inspekteurs gedoen om hul toesighoudende en raadgewende rolle te vervul. Sy het direkteurs ook gemaan om te verseker alle strukture is in plek vir die ministerie om doeltreffende en verantwoordbare dienslewering by alle skole te verseker.

“Interne doeltreffendheid moet bereik word deur geteikende ingrypings. Duidelike doelwitte moet gebruik word om onderwysers verantwoordbaar te hou.”

Die tekort aan hulpbronne moet getakel word deur pogings wat interne doeltreffenheid in terme van die doeltreffende gebruik van beide materiaal sowel as menslike hulpbronne en tyd verseker.

Die top 20 kandidate vir NSSCAS is Max Feilmeier (Delta SS), Hendrik Smit (Walvisbay Private School), Taro Samuelson (Windhoek Gymnasium), Augustinus Shivute (Onawa SS), Daneel Van Der Walt (Windhoek Gymnasium PS), Di Christa Mahoro (Delta SS), Simon Velishavo (Rukonga Vision School), Enobong Akpabio (Rev. Juuso Shikongo SS), Lucas Ndongo (St. Boniface College, Faith Shimpanda (Oshigambo HS, Rhosta Lyatumba (Jan Mohr SS), Shetu Amutenya (Rukonga Vision School), Kornelia Foloma (Rukonga Vision School), Al-zarrio Beukes (Dr. Lemmer HS), Pinehas Ngulu (Uukule SS), Mione Garbers (Windhoek Gymnasium PS), Engela Genis (Windhoek High School), Lesheni Haininga (Onawa SS), Annel Liina Antonio (Oshigambo HS), Hileni Ndafenongo (Rukonga Vision School).

Die top 20 skole in die land is St. Boniface College, Oshigambo HS, Canisianum RCS, Karstveld Academy, Rukonga Vision School, Edugate Academy, Elcin Nkurenkuru HS, Erongo Karibib Private School, Onawa SSS, Walvis Bay Private School, Windhoek Gymnasium PS, Otjiwarongo SS, Gobabis Gymnasium Private School, Christian PvtS, Oshikoto Heroes' PvtS, St. Josephs RCS, Rehoboth HS, Duneside HS, Rev. Juuso Shikongo SS.

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!