trust
trust

Eerste duisend dae vir goeie begin

Grondslag in vroeë kinderontwikkeling vir onderrig gelê
Net 55% van alle leerlinge wat met graad 1 begin, kry die geleentheid om vir 'n jaar 'n pre-primêre klas by te woon.
Henriette Lamprecht
Van 2020 tot einde verlede jaar is 360 000 kinders weekliks, asook 900 skole en 500 vroeë kinderontwikkelingsentrums (ECD’s) daagliks bereik. Meer as 1,1 miljoen kilometer is afgelê om 12 miljoen boekies wat in 12 tale (insluitend gebaretaal) vertaal is, in 14 streke af te lewer.

Dié syfers weerspieël die reikwydte van die verspreiding van ondersteunende studiemateriaal waarmee Namibia Media Holdings (NMH) in 2020 tydens die Covid-19-inperkings begin het om te verseker onderrig gaan ononderbroke voort.

Meer as 50 000 uur is bestee aan die ontwikkeling van inhoud, ontwerp en vertaling, terwyl 18 000 minute oftewel 300 uur van aanlyn-onderrig, 880 aanlyn lesse en 2 800 werksblaaie geskep is.

By die amptelike bekendstelling van die African Child Development Trust (ACDT) het die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, wat die projek voortaan bedryf en waarvan sy ook die beskermvrou is, verwys na die erge impak wat die pandemie op die sektor gehad het.

“Die aankoms van dié onwelkome gas het kwessies oor gelykheid en voortgesette toegang tot onderrig vererger,” het Nghipondoka gesê, wie se toespraak deur die adjunkminister, me. Foustina Caley, met die uitgelese gaste gedeel is.

NMH, Unicef, Amos Meerkat Syllabus-skole, die Namibia Community Trust sowel as onderwysers betrokke by die projek was volgens haar “redders” en “vriende” wat help verseker het onderrig vir pre-primêre en junior primêre leerlinge gaan ononderbroke voort.

“Die projek is een van die grootstes in onderwys, waar die regering en private besighede saamgespan en saamgewerk het.”

KWALITEIT VERSEKER

Agt onderwysers en twee senior onderwysbeamptes het onderrigmateriaal in lyn met die leerplan verskaf. Die inhoud is deeglik deur beamptes van die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (NIED) en Programme en Kwaliteitversekering (PQA) ontleed om te verseker dit bied kwaliteitonderrig.

Deel van die span was 18 vertalers, twee gebaretaal-onderwysers en twee aanlyn onderwysers.

Om volhoubaarheid van die projek te bevorder en dit na die volgende vlak te neem, is die ACDT in die lewe geroep om voortgesette, ononderbroke en inklusiewe kwaliteitonderrig” vir minstens die volgende drie jaar te verseker.

Die projek beloop sowat N$16 miljoen per jaar om 380 000 kinders teen ’n koste van N$2,15 per kind te bereik wat elke tweede week ’n boekie van sy of haar onderwyser ontvang.

“In die junior primêre fase is sulke werkboekies sentraal om inhoud weer vas te lê en leerdery interessant te hou.”

Met verwysing na gratis onderrig sonder enige fooie het die minister gesê haar ministerie kan net die salarisse vir onderwysers, infrastruktuur, nutsdienste en ’n paar projekte finansier.

“Daar sal altyd die behoefte wees om by te dra om te verryk, maar ook om standaarde te handhaaf terwyl leerlinggetalle verby die beskikbare hulpbronne groei.”

Nghipondoka sê 17,5 % van skole is steeds sonder krag, terwyl net 531 skole rekenaarkamers het. Laasgenoemde dui op die “geweldige digitale gaping”.

Sy het beklemtoon die lê van ’n stewige grondslag vir suksesvolle onderlig lê in die eerste duisend dae van ’n kind se lewe. Tog het net 55% van alle leerlinge wat met graad 1 begin, die geleentheid gehad om vir ’n jaar ’n pre-primêre klas by te woon.

“Saam moet ons die toegang tot ECD’s en kindertuine uitbrei om elke kind sy verdiende en regte begin te gee.”

Onderwysers se kapasiteit moet ook voortgeset versterk en gebou en ’n professionele raad vir onderwysers moet geskep word waar hulle kan registreer.

Nghipondoka sê haar droom vir alle onderwysers in die land is om ten volle rekenaarvaardig te wees en toegang tot ’n bekostigbare toestel en gratis data te hê om die web en sy bronne te kan gebruik.

NMH se uitvoerende hoof, mnr. Albe Botha, het beklemtoon dis tyd om kinders vanaf ’n vroeë ouderdom te ontwikkel en te verseker hulle het ’n beter kans om hul skoolopleiding te voltooi.

ONDERWYS TOEGANKLIK

“Dis tyd dat ons ophou die blaam oor gratis, beskikbare onderwys rondskuif, maar dit een tree op ’n slag, een graad op ’n slag, ’n werklikheid maak,” het hy gesê.

Me. Octavia Tsibes, een van die trustees, sê: “Die projek het vlerke aan ons onderwysstelsel gegee en ons toegelaat om ons leerlinge uit verskillende agtergronde in hul moedertaal te bereik.

“Die projek is soveel meer as net boekies. Dis ’n meganisme vir verandering en ’n manier om te inspireer en ons land vorentoe te neem.”

Die trust se doel is om geld in te samel vir die produksie en verspreiding van die boekies vir die volgende drie jaar, terwyl dit ECD’s wil bemagtig en toerus. Dit sal ook fokus op ander opvoedkundige programme en behoeftes in die toekoms.

Die vyf trustees is die uitvoerende direkteur in die ministerie van onderwys, me. Sanet Steenkamp; die uitvoerende hoof van MTC, mnr. Tim Ekandjo en mee. Maggy Mbako, Octavia Tsibes en Sharnay Botha van NMH.

Meer inligting is op die webtuiste www.acdtrust.com beskikbaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!