Van die top-20-leerlinge in die land. Foto Enzo Amuele
Van die top-20-leerlinge in die land. Foto Enzo Amuele

Eksamenuitslae bekend gemaak

Rukonga Vision School blink uit
Die onderwysminister het gister gesê 40 682 voltydse kandidate het einde verlede jaar vir die NSSCO-eksamens geregistreer.
Tanja Bause
Frank Steffen

Die eksamenuitslae van die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) en Gevorderde Vlak (NSSCAS) van 2023 is gister vrygestel.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, Anna Nghipondoka, het gesê 40 682 voltydse kandidate het einde verlede jaar vir die NSSCO-eindeksamens geregistreer. Dit is 2 663 kandidate (7%) meer teenoor die 38 019 voltydse kandidate wat vir 2022 se eksamens vir dieselfde vlak geregistreer het.

Nghipondoka het bygevoeg dié kandidate het hul eksamens by 381 voltydse sentrums afgelê teenoor 363 in die vorige akademiese jaar.

Wat NSSCAS betref, het sy opgemerk: “Hoewel sommige kandidate na tersiêre instellings gegaan het om met hul opleiding voort te gaan, het 8 138 voltydse en 935 deeltydse kandidate in totaal vir NSSCAS in 2023 geregistreer.

“In totaal het 132 voltydse en 20 deeltydse sentrums NSSCAS-kandidate geakkommodeer. Die voltydse sentrums het met 33 toegeneem, terwyl die deeltydse sentrums tot 20 sentrums gedaal het.

“Soos ons almal weet, moet kandidate ’n C-simbool of hoër behaal het in vakke op gewone vlak – wat ook op NSSCAS-vlak aangebied word – om na graad 12 gevorderde vlak te vorder.”

Die topdrie- NSSCAS-presteerders is Jonathan Louw van die Sekondêre Skool Delta in Khomas, Titus Shatimwene van Rukonga Vision School in Kavango-Oos en Findano Haiduwa van die Sekondêre Skool Onawa in die Omusatistreek.

Die topdrie-presteerders op gewone vlak is almal van die Rukonga Vision School van die dorp Divundu in die Kavango-Oosstreek – Andreas Shinime, Zelda Kamuhamba en Mbushange Nehemia.

Die Sekondêre Skool Onawa buite Outapi in die Omusatistreek word goed in die top-20-lys van suksesvolle NSSCAS-kandidate verteenwoordig. Ses van die topleerlinge kom van dié skool, terwyl Rukonga Vision School en Windhoek Gimnasium spog met drie leerlinge elk op die lys.

Rukonga Vision School oorheers weer die top-20-lys van presteerders wat die eksamen op gewone vlak afgelê het. Nege van die 20 kandidate is leerlinge van dié skool, gevolg deur St. Boniface College in Rundu en Hoërskool Oshigambo in Oshigambo naby Ondangwa.

Laasgenoemde skole is privaat skole wat deur drie kandidate elk verteenwoordig word.

Ngipondoka het die uitslae gister bekend gemaak nadat die uitslae aan ’n staatsbeheerde koerant uitgelek is, wat die uitslae gister reeds gepubliseer het.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie, Sanet Steenkamp, het haar dankbaarheid teenoor onderwysers, leerlinge en ouers uitgespreek wat hard in stedelike gebiede gewerk het, maar selfs meer dikwels, in afgeleë gebiede. Sy het gesê die ministerie het baie hulpbronne en tyd in kapasiteitsbou belê.

Die minister het in haar toespraak spesifiek melding gemaak van die feit dat die ministerie daarop gefokus het om die uitslae in natuurwetenskapvakke te verbeter.

“Baie voortgesette professionele ontwikkeling (VPO)-aktiwiteite vir onderwysers het plaasgevind, wat ten doel gehad het om onderrig te verbeter, onder andere die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied) en Cambridge-opleiding vir praktiese vaardighede in chemie, fisika en biologie.

In die geval van NSSCAS het 11,6% van al die wetenskapvakke wat geskryf is “ongegradeer” gebly, wat ’n mislukking aandui (10,9% in 2022).

Die gemiddeld is wesenlik beïnvloed deur 27,6% van die wiskunde-eksamenvraestelle wat ongegradeer bly – dieselfde geld vir 9,2% in chemie, 10,8% in fisika en 14,3% in biologie.

Leerlinge wat tans hul volgende stappe wil beplan, kan ’n voorlopige (nie-amptelike) sertifikaat versoek en gebruik maak van die APS-sakrekenaar wat op Synergi beskikbaar is.

Stuur #EXAMS in ’n WhatsApp-boodskap na die nommer 264 85 785 6231 en volg die instruksies wat aan jou gestuur sal word om jou volgende stap te beplan.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!