EU bestee N$320 miljoen aan kinderontwikkeling

Rita Kakelo
Die Europese Unie (EU) het ’n begroting van sowat N$320 miljoen bewillig vir sy nuwe program wat op vroeë kinderontwikkeling (ECD) in Namibië gemik is.

Uit dié bedrag is sowat N$262 miljoen geoormerk vir die Namibiese tesourie en N$60 miljoen is toegeken aan tegniese ondersteuning vir inisiatiewe wat deur die Verenigde Nasies (VN) se Kinderfonds (Unicef) en sy Wêreldvoedselprogram (WFP) van stapel gestuur sal word.

Die program sal vir die volgende drie jaar duur en sluit die hernuwing van die projekvennootskap met Unicef in.

Met die aanvanklike uitbetaling van N$100 miljoen in Desember 2023 is die projek nou ten volle onder toesig van beide die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, asook die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn.

Die ambassadeur van die EU-afvaardiging na Namibië, Ana-Beatriz Martins, het gesê daaropvolgende uitbetalings sal geskied wanneer ooreengekome maatstawwe vir toegang, kwaliteit en billikheid in ECD en preprimêre onderwys nagekom word.

Die EU se vennootskap met Namibië in onderwys strek reeds oor 15 jaar. Die Harmony ECD-sentrum in die informele nedersetting Mix, waar die bekendstelling plaasgevind het, is ’n voorbeeld van daardie verbintenis.

“Deur hierdie projek vorder ons in ons pogings om toegang vir preprimêre kinders tot geriewe en dienste vir vroeë kinderontwikkeling te verhoog, die aantal preprimêre klasse landswyd uit te brei en bowenal om die kwaliteit van sorg en onderrig wat aan hierdie kinders verskaf word, te verbeter,” sê Martins.

Sy het die Namibiese regering geprys vir hul toewyding tot die welstand van kinders.

“Vroeë kinderontwikkeling en preprimêre onderwys lê die grondslag vir basiese geletterdheid, syfervaardighede en die begin van ’n suksesvolle skoolloopbaan.”

Die onderwysminister, Anna Nghipondoka, het gesê die EU se begrotingsondersteuningsprogram is resultaatgerig en sal op vier sleutelgebiede konsentreer: openbare beleid rakende onderwys; makro-ekonomiese stabiliteit; die bestuur van openbare finansies; en begrotingdeursigtigheid en -toesig.

Nghipondoka sê dié gebiede is van kritieke belang vir die doeltreffende implementering van onderwyshervormings en om aanspreeklikheid in die gebruik van fondse te verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!