EMPLOY US: A group of unemployed graduate teachers who earlier this constructed their own school in Rundu.
EMPLOY US: A group of unemployed graduate teachers who earlier this constructed their own school in Rundu.

Geen geld om onderwysers aan te stel

Ministerie se reaksie laat méér vrae ontstaan
Terwyl baie onderwysers met swaar werklading en oorvol klaskamers sukkel, het duisende onderwysgraduandi dringend werk nodig.
Elvira Hattingh
Kenya Kambowe - Skole in die twee Kavangostreke wat reeds ’n personeeltekort ervaar, is verlede week ’n ernstige slag toegedien toe die regering aangekondig het dat daar nie geld is om meer as 3 000 werklose onderwysgraduandi by staatskole aan te stel nie.

Hierdie besluit kom ten spyte van ’n toename in leerlinggetalle – ’n situasie wat onderwysers gedwing het om hul werklading oor die jare te verdubbel, met sommige wat soms meer as 45 leerlinge in ’n klas onderrig.

Die toelaatbare verhouding van onderwysers tot leerlinge in staatskole is 1:35.

‘DAAR IS NIE GELD NIE’

In reaksie op ’n onlangse mediaverklaring wat onderteken is deur duisende werklose onderwysgraduandi, van wie sommige al meer as vyf jaar werkloos is, het die waarnemende uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, Knox Otto Imbuwa, gesê die ministerie het nie die finansiële kapasiteit om al die onderwysers aan te stel nie.

“Terwyl ons simpatie het met diegene wat nog werk in die onderwyssektor moet kry, kan die ministerie ongelukkig nie verplig word om die werklose gegradueerdes buite sy finansiële kapasiteit en fisiese infrastruktuur aan te stel nie,” het Imbuwa gesê.

Imbuwa se verklaring kom net sewe maande nadat president Hage Geingob hoop onder werklose onderwysers aangevuur het toe hy gesê het N$200 miljoen is opsy gesit vir die indiensneming van nuwe onderwysers tydens sy staatsrede (Sona).

“Ek herhaal die regering se verbintenis daartoe om ons onderwyssektor te transformeer. Hierdie boekjaar het die regering N$20,6 miljard, of 24 persent van openbare uitgawes, aan die onderwyssektor bewillig, waarvan N$200 miljoen vir die werwing van nuwe onderwysers is,” het Geingob destyds gesê.

LEë BELOFTES

Die onderwysgraduandi het bevraagteken of Geingob poog om politieke punte te wen.

Hulle het geskryf dat die president tydens sy toespraak “N$200 miljoen vir bykomende onderwysposte belowe het. Tot dusver is dit nog nie nagekom nie. Kan ons aflei dat dit ’n blote belofte en ’n politieke stelling was om goedkoop politieke punte te wen? Hoekom is die president baie gemaklik daarmee om leë beloftes te maak vir politieke punte ten koste van die kinders en jeuggraduandi in die strate?”.

GEREED VIR PROTESAKSIE

Voor die ministerie se reaksie het die werklose gegradueerdes die ministerie 14 dae gegee om te reageer, en gewaarsku dat hulle bereid is om te betoog en die streekkantore te sluit.

“Ons gee die ministerie van onderwys, kuns en kultuur 14 werksdae om positief te reageer omdat ons eise redelik en opreg is. Die reaksie moet meganismes insluit wat aangewend moet word en die tydsraamwerk vir sodanige implementering,” het die groep opgemerk.

“Indien daar versuim word om te reageer of ’n ongunstige reaksie gegee word, sal ons optree teen die ministerie, insluitend die sluiting van die direktorate van onderwys, kuns en kultuur, onder andere.”

By navraag vir kommentaar het die leier van die groep, David Nekaro, gesê hulle het kennis geneem van die ministerie se reaksie, wat hulle met meer vrae as antwoorde gelaat het.

Hy het gesê die groep sal vergader en die ministerie se reaksie bespreek voordat daar oor die pad vorentoe besluit word.

In onlangse jare is daar berig oor werklose onderwysgraduandi wat hul eie skole bou met die hoop om die skool deur die staat te laat registreer en werk te verseker.

In Kavango-Oos is daar sowat vyf ongeregistreerde gemeenskapskole.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!