• Tuisblad
  • Onderwys
  • Graad 12-sertifikaat 'laaste uitweg' vir aanstelling as aflosonderwyser
FOTO TER ILLUSTASIE. FOTO ARGIEF
FOTO TER ILLUSTASIE. FOTO ARGIEF

Graad 12-sertifikaat 'laaste uitweg' vir aanstelling as aflosonderwyser

Nodig om ononderbroke onderrig te verseker
Ongekwalifiseerde onderwysers word in sommige gevalle in veral afgeleë gebiede vir onderrig in tale soos Setswana, Afrikaans en Khoekhoegowab aangestel.
Henriette Lamprecht
Sou geen gekwalifiseerde onderwyser vir ’n vakante pos aansoek doen of hiervoor beskikbaar is nie, word “professioneel onder- of ongekwalifiseerde onderwysers met spesialisering in die vereiste vak” aangestel.

Kandidate met ’n graad 12-sertifikaat word ook gewerf om die vakante pos as aflos- of tydelike onderwyser te vul.

Volgens die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, word die aanstelling van ongekwalifiseerde onderwysers egter slegs as ’n laaste uitweg oorweeg.

Nghipondoka het in die Nasionale Vergadering (NV) gereageer op ’n vraag deur ’n lid van die Popular Democratic Movement (PDM), me. Elma Dienda, of net gekwalifiseerde onderwysers permanente onderwysposte kan vul.

Ongekwalifiseerde onderwysers word in sommige gevalle in veral afgeleë gebiede aangestel vir onderrig in tale soos Setswana, Afrikaans en Khoekhoegowab waar gekwalifiseerde onderwysers nie vir vakante poste aangesoek gedoen het nie.

Veral dié tale word as ’n “skaars veld” met verwysing na die area van spesialisering in terme van die behoeftes van die skool beskou.

Volgens Nghipondoka is dit om ononderbroke onderrig te verseker. Sy sê haar ministerie het reeds groot vooruitgang gemaak om gemarginaliseerde gemeenskappe deel van die ekonomiese hoofstroom van die land te maak.

In dié verband is lede uit die betrokke gemeenskappe aangestel wat oor onderwyskwalifikasies beskik en met dien verstande ’n vakante pos is beskikbaar. Buiten vir permanente onderwysposte werf die ministerie ook aflosonderwysers wanneer ’n onderwyser in ’n bestaande pos vir langer as tien opeenvolgende dae om welke rede ook al afwesig is, terwyl tydelike onderwysers vakante poste vul wanneer die ministerie nie ’n gepaste gekwalifiseerde onderwyser kan werf nie.

Nghipondoka sê dit word weer eens gedoen om te verseker onderrig gaan ononderbroke voort.

“In beide gevalle wanneer die behoefte ontstaan, word prioriteit gegee aan professioneel gekwalifiseerde onderwysers,” het die minister gesê.

Sy sê die ministerie se mandaat is om gehalte-onderrig aan die land se inwoners te verskaf en op te lei vir volhoubare nasionale ontwikkeling, “ondersteun deur onderwysers se professionele kennis, vaardighede en eienskappe”.

Daarom word alle vakante poste geadverteer om gelyke geleentheid aan alle Namibiërs te bied. Laasgenoemde is volgens die minister in pas met die Nasionale Standaarde en Prestasie Aanwysers vir Skole in Namibië wat die “korrekte plasing vir geskikte gekwalifiseerde onderwysers na gebiede en vlakke van spesialisering voorskryf” in ’n poging om die verskaffing van inklusiewe, gelyke en gehalteonderrig aan inwoners te verseker.

Tydens dieselfde bespreking het Nghipondoka verwys na die ministerie se sleutelaanwyser om die persentasie van leerlinge te bepaal wat vir toelating tot universiteite kwalifiseer. Tydens die basisjaar in 2016 was dit 36%, in 2017 was dit 39,3%, 40,4% in 2018 en 42% in 2019. Volgens die minister was 2020 se teiken 55%, maar net 42,6% kon vir universiteitstoelating kwalifiseer.

Die grootste struikelblok vir kwalifikasie blyk die swak prestasie van die meeste leerlinge in Engels te wees.

“Die meeste van ons leerlinge behaal nie ’n 0 of hoër simbool nie. Die minister plaas nou meer klem op voortgesette professionele ontwikkeling (CPO) vir onderwysers wat reeds in die stelsel is om hul kennis oor die onderrig van Engels op te skerp.”

Nghipondoka sê die persentasie leerlinge wat na verwagting op die skoolbanke gaan bly tot in graad 12, het ook van 46% in 2016 to 58,4% in 2019 gestyg. Bekend as die “oorlewingskoers” is dié aanwyser gebaseer op die koerse vir bevordering, herhaling en skoolverlaters.

Die minister sê die implementering van beleidsrigtings en programme soos die voorkoming en bestuur van swangerskap onder leerlinge, die skoolvoedingsprogram, bevorderingsbeleid en mobiele skole vir gemarginaliseerde gemeenskappe help om leerlinge op die skoolbanke te hou. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!