Khorixas VTC-projek (uiteindelik) voltooi

Rita Kakelo
Die Khorixas Sentrum vir beroepsopleiding waarvoor wyle dr. Nickey Iyambo, die voormalige minister van onderwys, kuns en kultuur, reeds op regeringsvlak aanvoerwerk gedoen het, is teen ’n koste van N$51 miljoen voltooi.

Die projek is deur die ministerie van hoër onderwys, tegnologie en vernuwing en die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) aangepak.

Die beroepsentrum is gebou op 25,5 hektaar grond wat die Khorixas-dorpsraad geskenk het en is Woensdag amptelik ingewy. Dit vorm deel van ’n inisiatief onder die regering se omvattende strategie vir die transformasie en uitbreiding van beroepsopleidingsentrums (VTC’s).

Die program het die groei en uitbreiding van infrastruktuur en programme by VCT's gerig, terwyl dit ook sleutelinisiatiewe geïdentifiseer het om ’n doeltreffende VTC-voetspoor in al 14 streke in Namibië te vestig.

Kunene was een van die streke waar dit volgens die minister van hoër onderwys, dr. Itah Kandjii-Murangi, nie gevestig was nie.

Sy het tydens die amptelike opening gesê die sentrum in Khorixas sal opleiding vir potensiële vakmanne in loodgieter-, hout- en pleisterwerk asook ’n sertifikaat in verkoeling aanbied.

Die eerste fase van die projek – fase 1A – is einde 2019 teen ’n koste van N$21 miljoen voltooi. Tydens fase 1B is die tender vir die konstruksie van die geboue toegeken en is die perseel aan die kontrakteur oorhandig. Die koste van dié fase was N$58,5 miljoen.

“In terme van die verdere uitbreiding van die sentrum oor die kort tot medium termyn en gegewe die beskikbaarheid van die vereiste finansiële hulpbronne, is ons in die proses om reëlings te finaliseer vir die konstruksie van verblyfsgeriewe vir studente en personeel, sowel as ’n bykomende blok klaskamers om voorsiening vir meer teoretiese opleidingsessies te maak,” het Kandjii-Murangi gesê.

PRESIDENT

President Nangolo Mbumba het tydens dieselfde geleentheid Namibië se ryk potensiaal beklemtoon en verwys na die land se natuurlike hulpbronne, kultuurerfenis en hardwerkende inwoners wat as bates nasionale vooruitgang kan dryf.

Volgens Mbumba betree die land ’n opwindende fase in terme van ontwikkeling, met ontluikende sektore soos groen waterstof en olie en gas wat beduidende geleenthede bied om die ekonomie te verander en wat tot groter sukses kan lei.

Die president sê die sentrum op Khorixas sal ’n noodsaaklike poort vir jong mense wees wat hulself deur opleiding en deelname aan hierdie groeiende sektore wil bemagtig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 40° Rundu: 22° | 40° Eenhana: 22° | 37° Oshakati: 24° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 20° | 35° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 37° Henties Bay: 15° | 21° Swakopmund: 16° | 16° Walvis Bay: 15° | 20° Rehoboth: 20° | 36° Mariental: 20° | 37° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 20° | 38° Lüderitz: 16° | 31° Ariamsvlei: 18° | 35° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 21° | 39° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 35° Maputo: 21° | 39° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 17° | 24° Durban: 20° | 23° Johannesburg: 21° | 34° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 23° | 37° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!