ATI-studente wat deel is van die oorbruggingsprogam vir verpleegkundiges het daarop aangedring dat hul klasgelde terugbetaal en die program gestaak word. FOTO VERSKAF
ATI-studente wat deel is van die oorbruggingsprogam vir verpleegkundiges het daarop aangedring dat hul klasgelde terugbetaal en die program gestaak word. FOTO VERSKAF

Klagskrif lei tot terugbetaling van klasgelde

Oorbruggingsprogram word gestaak
Die klasgelde van meer as N$29 000 was veronderstel om noodsaaklike items soos uniforms en stetoskope te dek, wat egter nooit verskaf is nie.
chris Kaukemua Kaukemua
Chris Kaukemua – Die Atlantic Training Institute (ATI) gaan studente van ’n bykomende oorbruggingsjaar vir verpleging se studentegelde terugbetaal, ná ’n klagskrif wat die instelling van administratiewe wanpraktyke en bedrog beskuldig het.

Die studente, met die ondersteuning van die Nasionale Afrika Studentevereniging (Nasa), het beweer hulle is mislei om in te skryf vir ’n program wat nie geakkrediteer is nie en wat akademiese terugslae en finansiële verlies tot gevolg gehad het.

Die klagskrif, wat verlede week uitgereik is, dui op verskeie griewe waaronder ATI se versuim om akkreditasie van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) te verkry, die weerhouding van sertifikate en die versuim om onderrigmateriaal te verskaf waarvoor die studente betaal het.

Die klasgelde van meer as N$29 000 was veronderstel om noodsaaklike items soos uniforms en stetoskope te dek wat egter nooit verskaf is nie.

Frustrasie onder die studente het ’n hoogtepunt bereik nadat verskeie vergaderings met ATI se bestuur op 10, 19 en 24 Mei bloot vae beloftes en geen konkrete optrede opgelewer het nie.

In die klagskrif, wat saam met vreedsame protesoptogte op die ATI-kampus geval het, dring die gegriefde studente onder meer aan op ’n terugbetaling, ’n skriftelike verskoning, bewyse van onderhandelings met regulerende liggame, asook die opskorting van die program totdat voldoende akkreditasie verkry is.

Nasa het gewaarsku indien die instelling nie binne vyf werksdae op die klagskrif reageer nie, die kwessie na die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur verwys sal word vir verdere ondersoek en moontlike optrede.



ATI-WOORDVOERDER

ATI se woordvoerder, Absalom Seburon, het die terugbetalings bevestig en gesê die besluit is geneem om die instelling se reputasie te beskerm in die lig van die ernstige kommer wat studente geopper het.

Volgens Seburon het nog geen student amptelik vir die terugbetaling aansoek gedoen nie, maar die aanbod staan vir alle geraakte studente.

Met verwysing na die sertifikate het Seburon gesê dit is wél uitgereik en dat diegene wat dit nie ontvang het nie, bloot dit nog nie gaan optel het nie. Hy het ontken dat dit weens enige nalatigheid aan die kant van ATI is.

Seburon het ook aangekondig dat die ondersteunende oorbruggingsprogram vir verpleging gestaak gaan word en dat die huidige groep studente die laaste sal wees.

Die besluit, het hy gesê, is in ooreenstemming met nuwe regulatoriese riglyne van die verpleegraad rakende studente met laer akademiese toegangspunte wat tipies vir die program inskryf.

Nasa se streekvoorsitter in die Khomasstreek, Matheus Isak, wat die vergadering bygewoon het wat tot die besluit gelei het, het ATI se verbintenis tot die terugbetalings bevestig.

Volgens hom het die besluit nie net aan die studente se aanvanklike eis vir ’n terugbetaling van 80% van klasgelde voldoen nie, maar het dit ook hul verwagtinge met ’n volle terugbetaling oortref.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer