’n Eerste tree na ’n suksesvolle toekoms

Oorbruggingsjaar fokus op volledige persoon
Wanneer 'n leerling die dag finaal sy skoolloopbaan groet, word hulle met een van die moeilikste vrae gekonfronteer: Waarheen nou?
Henriette Lamprecht
Matrikulante wat nie direk ná skool verder wil gaan studeer nie of onseker is watter rigting hulle wil inslaan, is dikwels verward en moedeloos oor ’n toekoms wat op daardie oomblik nie ’n duidelike prentjie bied nie – selfs vir hul onderwysers en ouers.

Wanneer ’n leerling die dag finaal die skoolbanke vaarwel roep, word hulle met een van die moeilikste vrae gekonfronteer: “Waarheen nou?”

Onsekerheid oor hul toekomspad en ’n gebrek aan toekomsplanne maak dat vele jong mense met die voltooiing van hul skoolloopbane angstig en onseker is oor wat hulle volgende moet aanpak.

“Hulle is die leiers van môre. Dis ons plig om voort te gaan om hulle na hul toekoms te lei en wat tog ook ons toekoms is,” sê Dalene Jordaan, oudonderwyser en stigter van The Labyrinth Programme – ’n oorbruggingsjaar wat spesiaal saamgestel is om juis op ’n holistiese manier die volgende treë saam jong mense te stap.

“Ons as onderwysers het gesien ons jong kinders is waarlik soekend na ’n sinvolle toekoms,” sê Dalene, wat 46 jaar ondervinding in die onderwys het en waarvan 40 in opvoedkundige bestuur was.

“Nou in graad 11 is kinders ook ’n jaar jonger as 18 wanneer hulle gewoonlik matriek sou voltooi. Voorligting is ook nie meer in alle skole ’n gegewe nie,” sê Dalene.

Volgens haar word kinders aan so min blootgestel, met tegnologie wat hulle dikwels hierin pootjie, dat hulle nie bewus is van al die ander opsies wat ná skool beskikbaar is nie.

Die program help bestuur die tydperk tussen twee lewensfases – tiener en jong volwassene – verduidelik sy.

“Dis nie ’n maklike of gladde oorgang nie. In die program beplan ons inisiatiewe vir ’n volhoubare toekoms deur bande met mentors te smee en jong mense met vaardighede in sleutelgebiede toe te rus.

“Klem word gelê op beroepsvoorligting en die ontwikkeling van sosiale vaardighede.”

Dalene verduidelik die natuurlike verloop van ’n tipiese jong volwassene se lewe soos volg. Hulle leer bestuur en verfyn dié vaardighede ná ’n paar jaar op universiteit (ouderdom 20), leer hoe om werk te soek en ’n loopbaan te beplan ná hul eerste kwalifikasie (ouderdom 22), leer eers oor arbeidswette en persoonlike finansiering wanneer hulle begin werk (ouderdom 23), begin moontlik nadat hulle ’n paar jaar gewerk het meer leer oor hoe om ’n besigheid te begin (ouderdom 25) en verstaan die waarde van iets soos selfverdediging of basiese lewensondersteuning eers nog later (ouderdom 26).

“Tussendeur dit alles moet hulle leer hoe om hul fisieke, spirituele en geestesgesondheid te bestuur.”

VERSNEL DIE ‘NORMAAL’

Ons het dit altyd as ’n natuurlike vordering beskou, verduidelik Dalene, maar “die waarheid is dis stadige vordering. Die Labyrinth-program verpak en verkort hierdie agtjaarlange leerervaring tot tien maande, wat hulle in ’n ander liga as hul ouderdomsgenote plaas.”

Volgens Dalene word kundiges uit verskeie sektore gebruik om hul kennis, ervaring en vaardighede te deel.

“Ons bou aan die stelsels van kernvaardighede in die strewe om hulle voor te berei om onafhanklik te wees, dit terwyl ons dit ook pret hou!”

Die program het ten doel om jong volwassenes aan te moedig om “sonder vrees die verantwoordelikhede en uitdagings aan te pak wat hulle op hul reis tot volwassenheid teëkom”.

“’n Sterk grondslag wat hulle kan gebruik om gelukkiger, gesonder en meer suksesvolle lewens te lei!”

Sy beskryf die jaar as een waarin jong mense vertroue opbou en duidelikheid kry om met nuutgevonde en noodsaaklike lewensvaardighede die uitdagings te bowe te kom.

FOKUSPUNTE

Die leerplan dek sewe ontwikkelingsgebiede om die “hele persoon” te ontwikkel. Dit sluit in verhoudings, gesondheid en welstand, onderrig, beroepsvoorligting, onderrig, diens, finansies en emosionele, spirituele en morele waardes.

Die fokus op gesondheid en welstand behels onder meer onderrig basiese lewensondersteuning, weeklange besoeke aan ’n hospitaal en aftreeoord sowel as ’n inrigting vir geestesongesteldhede.

Met betrekking tot loopbaangerigtheid is daar ’n kursus in entrepreneurskap, terwyl verskeie mentors en opleiers hulle in onder meer die bankwese, die kantoor van die ombudsman, verpleging, laboratoriumwerk, konstruksie, gasvryheid en toerisme, die hof en ook polisiëring sal begelei.

’n Kursus in inligtings- en kommunikasietegnologie, ’n tweeweeklange toer van tersiêre instellings, padveiligheids- en bestuursvaardighede en werksvoorvaardes soos vervat in die arbeidswet, fokus op onderrig, terwyl die komponent vir spirituele en emosionele welstand onder meer fokus op spanbou, leierskap en besluitnemingsvaardighede.

Die verhoudingsaspek met van mense tot diere en die natuur, sluit onder meer honde- en perdeterapie, ’n junior wildbewaarderprogram en ’n besoek aan ’n sterrewag in.

Sleutelkomponente van finansies fokus op entrepreneurskap, bemarking en verkope, finansiële volhoubaarheid en die bestuur van persoonlike finansies. Vrywillige werk by onder meer die Dierebeskermingsvereniging (DBV), hospitale, kinder- en ouetehuise dek diens.

Volgens Dalene hang die duur van die kursus af van die instelling wat dit aanbied en kan dit wissel van drie dae, ’n week of selfs twee maande. Verskeie uitstappies vorm deel van die oorbruggingsjaar en sluit ook fietsry deur die woestyn en ’n staptog in.

GEVALLESTUDIE

Een van verlede jaar se deelnemers aan die oorbruggingsjaar, ’n jongman van 23 jaar, het aan haar verduidelik hy het net twee keuses ná matriek gehad – speel sokker of studeer aan die Universiteit van Namibië (Unam).

Sy punte was te swak vir verdere studie, terwyl hy ’n ernstige kniebesering opgedoen het wat sy sokkerdroom versplinter het.

“Hy het nie geweet waarheen om te draai nie en het ons eerste oorbruggingsjaar gedoen. Hy studeer nou aan ’n kollege om homself as ’n elektrisiën te bekwaam; hoe wonderlik is dit nie!”

Haar grootste droom is dat jong mense wat die oorbruggingsjaar doen, “hulself en vrede sal vind” en as geheel as mens sal ontwikkel, sê Dalene. Ook, dat hulle werk en of dan ’n studierigting van hul keuse kry.

“Die hoop is dat hulle mentors sal ontmoet namate hul reis vorder. Ons vennote word hul mentors.”

Die program strek oor tien maande en fokus op die ouderdomsgroep 17 tot 24 jaar. Tien deelnemers per jaar word ingeneem en begelei deur ’n groepskoördineerder en/of mentor.

Volgens Dalene gaan die benadering tot die “mens in geheel” van die standpunt af uit dat elke individu ’n komplekse wese is wat swaar beïnvloed word deur ’n verskeidenheid interne en eksterne faktore binne en buite die werksplek.

ERKENNING

“Die ses aspekte van Hele Persoon Ontwikkeling (Whole Person Development) is emosionele intelligensie, sowel as fisieke, spirituele, maatskaplike, sielkundige en professionele ontwikkeling.”

Die oorbruggingsjaar word “landwyd” aangebied, met die basis wat die Flexona Academy in Windhoek-Noord is. Jong mense vanaf 17 tot 24 jaar “kry sertifikate so ver hulle gaan”, sê Dalene.

“By Rock Lodge doen hulle bv. ’n vlak 4 NQA-entrepreneurskapkursus en by Basic Life Support kry hulle ook ’n ‘certificate of achievement’. Meestal is dit ’n erkenning van bywoning.”

Volgens Dalene sluit die koste van die oorbruggingsjaar in vervoer, verblyf en maaltye tydens reise buite Windhoek, van die kursusse wat aangebied word, die bespreking van lokale vir aanbiedings, uitstappies, toegangsfooie tot omgewingsbewaringsgebiede, bemarking en advertensie asook kursusmateriaal waar van toepassing.

Saam met Dalene as afrigter is Louise Jankowitz, terwyl Di-Jana Gous as chaperone en mentor optree.

Vir meer inligting kan Dalene by [email protected] of 081 213 6839 gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!