’n Toekoms vir kinders met gestremdhede
Side-by-Side open skool
Dié skool se leermodel kan landswyd geïmplementeer word.
Tanja Bause
Die Side-by-Side Early Intervention Centre in die informele nedersetting Goreangab in Windhoek bied hoop aan ouers met gestremde kinders wat graag ’n toekoms vir hulle wil skep.
Me. Dina English se dogter, Rosalina (13), is een van talle kinders wat daar ’n heenkome gevind het.
“Ek het erge hoofpyne gekry toe ek swanger was. By die hospitaal het hulle gesê hulle moet die baba uithaal. Ek was vyf maande swanger. Ek het ingegaan vir die operasie en eers ses dae later uit my koma wakker geword. My suster het vir my gesê ek het ’n dogtertjie gehad en dat sy nou in die broeikas is.”
Rosalina is in die hospitaal gehou totdat sy genoeg gewig opgetel het om huis toe te gaan. Sy is met die seldsame sindroom spina bifida gebore, wat niemand vir Dina gesê het nie.
“Ek het toe sy ses maande oud was, opgemerk dat sy nie kan beweeg nie en haar terug hospitaal toe gevat. Hulle het my huis toe gestuur. Ek was talle kere terug en het gevra dat hulle X-strale moet neem want daar is fout met my kind. Ek het nie medies nie en niemand het gehoor gegee nie.”
Toe Rosalina ses jaar oud geword het, het Dina by die spesiale skole Môreson en Dagbreek gaan aansoek doen. By beide skole is sy op ’n waglys geplaas, maar het niks verder gehoor nie. Sy het toe by die Oponganda-sentrum vir kinders met gestremdhede gaan aanklop. Hulle het vir Rosalina ingeneem.
“Die onderwysers het egter vir my gesê sy is baie slim, ek moet haar in ’n skool sit en nie in ’n dagsorgsentrum nie. Sy was toe vir twee jaar by die Onyose Trust, maar hulle is ook net ’n dagsorg. Toe ontmoet ek vir Huipie [van Wyk] en ek het haar gevra om my te help sodat my kind kan lees en skryf. Sy het gesê bring haar Side-by-Side toe en ek sal ’n plan maak.”
Rosalina is nou vyf jaar by Side-by-Side en vir die eerste drie jaar het sy terapie en oefeninge gekry. Toe open die sentrum ’n skool nadat Peter Nsamba in 2021 by hulle aangesluit het.
Rosalina is nou in graad 1 met die oog op graad 2 volgende jaar.
“Sedert my kind hier is, het sy baie verander en ek kan nou ’n toekoms vir haar sien. Ek is baie dankbaar vir die sentrum en die mense met hul groot harte wat my kind ’n toekoms bied,” het Dina gesê.
PETER
Volgens mnr. Julius Nsmaba, die 12-jarige Peter se pa, het sy seun net by die huis gesit en geteken voordat hy van Side-by-Side gehoor en hulp gekry het.
“Peter wou so graag soos ander kinders skool toe gaan. Hy was baie stil en het skaars gepraat. Hy het baie en gou kwaad geword. Nou verras hy my elke dag. Hy kan skryf, lees en hy is gelukkig. Dit is ’n ander seun. ’n Seun vir wie ek ’n toekoms sien. Voor hy soontoe is, kon hy skaars beweeg. Nou met al die oefeninge en terapie beweeg hy self vanaf sy matras na buite toe. Dit is ontsagwekkend om hom so te sien.”
Peter se bene en arms is misvorm en hy kon hulle nog nooit gebruik het nie.
Beide die kinders het groot toekomsplanne met Rosalina wat ’n dokter wil word en Peter se voorneme is om eendag die land se president te word.
SIDE-BY-SIDE
Volgens me. Martha Amanyonga, ’n gemeenskapsontwikkelingswerker vir Side-by-Side, het hulle in 2021 die skool begin aangesien Peter nie skool toe kon gaan nie, maar graag wou.
“Ons het nog kinders geïdentifiseer wat in ’n klaskamer hoort en vandag het ons sewe kinders in die klaskamer wat nog nooit voorheen in ’n skool was nie. Ons probeer die regering oortuig dat ons model in elke skool oraloor die land geïmplementeer kan word sodat alle kinders ’n kans op ’n opleiding het. Ons wil vir hulle wys dat verskillende kinders met verskillende gestremdhede in staat is om te leer en dit is hoe jy hulle kan leer.”
Side-by-Side het vier onderwysers wat die kinders in klein groepe onderrig.
“Die kinders moet gedurig gestimuleer word. Hulle kan nie net sit en vir een onderwyser luister nie, hulle sal verveeld raak. Skole kan ons model volg en landswyd implementeer.”
Volgens haar hoef hulle nie onmiddellik in elke dorp ’n sentrum te bou nie.
“Ons kan in vraghouers, sinkplaathuise of onder ’n boom in die afgeleë klein plekke begin. Ons kan klein begin, maar ons moet begin. Ons kan ’n multidissiplinêre span uitstuur wat onder meer ’n dokter, kardioloog, oogarts, fisioterapeut, oudioloog en werkers van die ministerie insluit.
“Die span kan kinders ondersoek en die pad vorentoe bepaal. Namibië moet ’n werkende multidissiplinêre span saamstel en hulle moet begin om saam te werk en om goed te doen. Dis wat die land en sy kinders met gestremdhede nodig het.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie