FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF

Nóg klaskamers landwyd gebou

Kwart van agterstand ingehaal
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het in 2019 reeds 'n agterstand van 4 550 klaskamers gehad.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Bykomende 512 klaskamers by bestaande skole in al 14 streke in die land gaan vanjaar gebou word teen ’n beraamde koste van N$200 miljoen. ’n Vrystelling is deur die ministerie van finansies aan die ministerie van onderwys, kuns en kultuur toegeken om weer van die dienste van August 26 Construction vir die bou van die klaskamers gebruik te maak wat teen die tweede helfte van die jaar voltooi te wees. Die ministerie het met die hulp van die konstruksiemaatskappy ’n rekordgetal van 510 klaskamers en 70 toilette tydens die vorige finansiële jaar gebou, die eerste keer dat dit so baie klaskamers in ’n finansiële jaar en in ’n tydperk van vier maande kon bou. Met die voltooiing van die nuwe 512 klaskamers sal die ministerie meer as ’n kwart van die aanvanklike agterstand van 4 550 klaskamers in 2019 ingehaal het.

Die minister Anna Nghipondoka het in die Nasionale Vergadering tydens die bespreking van haar ministerie se begrogting van meer as N$18, 381 miljard gesê verskeie koshuise, primêre skole sowel as die konstruksie van ’n sentrum vir die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) op Walvisbaai vorm deel van die begroting. Die konstruksie van ’n laerskool op Otavi, sowel as ’n skoolsaal en kombuis by die primêre skool Tsaraxa-Aibes op Otjiwarongo is reeds voltooi, terwyl vier skoolkoshuise in die Kavango-Wes- en Zambezistreek danksy die ondersteuning van die Chinese regering ook voltooi is.

Onderwys het die grootste hap van die nasionale begroting gekry (21,85%) waarvan 95% (N$17, 411 miljard) vir sy bedryfskoste en die oorblywende 5% (N$970 miljoen) vir die ministerie se kapitale uitgawes is.

Volgens Nghipondoka styg die Universele Onderwystoelaag (UEG) vir voorskoolse en laerskoolleerlinge van N$200 tot N$300 per leerling, terwyl dit vanaf N$300 tot N$400 vir sekondêre leerlinge verhoog is. Vir leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes sal die bedrae vyfvoudig verhoog. Die toelaes sal direk uit die sentrale koffers op nasionale vlak na skole oorbetaal word. N$15 per leerling word ook aan skole oorbetaal om produkte soos sanitêre doekies en toiletware aan te koop. Dit geld net vir kwesbare meisies en seuns. Vir skoolbenodighede kry voorskoolse en laerskoolleerlinge N$100 elk en dié in die hoërskool N$150 per leerling.

Vir gemeenskaps- en kerkkoshuise sal die ministerie voortgaan om ’n toelaag van N$22 per koshuisganger per dag te betaal om hul maaltye te dek. ’n Bykomende bedrag van N$15,50 per vierkante meter word betaal aan kerkkoshuise vir onderhoud. Volgens Nghipondoka is die verskafffing van kos aan skole in terme van die voedingsprogram vir skole sowel as maaltye by koshuise een die van grootste koste drywers in die ministerie. N$123 miljoen is geoormerk vir die verskaffing van mieliepap aan 468 000 laerskoolleerlinge, terwyl N$659 miljoen gebruik sal word om maaltye aan 68 000 koshuisleerlinge te voorsien.

Nghipondoka het ook verskeie suksesse gedeel wat tydens die 2023/24 finansiële jaar behaal is en wat insluit kapasiteitsbou vir voorskoolse en laerskoolonderwysers om syfer- en geletterdheidsvaardighede te verhoog. Onderwysers is ook bemagtig met vaardighede om vroeë geletterdheidontwikkeling te evalueer en om te verseker dit word ten volle bemeester voordat ’n leerling na die volgende graad en fase van sy of haar skoolloopbaan beweeg. Die ministerie het ook ’n hulpmiddel ontwikkel om leerlinge te identifiseer wat struikelblokke in die grondslagfase ervaar. Die voortgesette ontwikkeling van onderwysers het verseker dat byna 600 onderwysers opleiding ontvang het in gewone sowel as gevorderde vlak-vakke. Meer as ’n 100 onderwysers en onderwysbeamptes het verlede jaar opleiding ontvang oor die inhoud van eksamenverslae en om terugvoer te gee oor foute wat tydens die nasionale merk van vraestelle opgemerk is. Volgens Nghipondoka het dié opleiding ’n beduidende bydrae gemaak tot die verbetering van die finale uitslae van die Nasionale Sertifikaat se gewone en gevorderde vlak-uitslae (NSSCO en NSSAS) vir 2023.

Byna 19 000 volwassenes is ingeskryf vir basiese geletterdheidsklasse, terwyl 5 212 ouers en versorgers van graad 1-leerlinge by 325 primêre skole ingeskryf is vir die geletterdheidsprogram vir families (FLP). Dié program het ten doel om ouers aan die graad 1-leerplan bloot te stel en toe te rus om sodoende kinders tuis met hul huiswerk te kan help.

Nghipondoka sê die begroting is in lyn met die ministeriële implementeringsplan wat verlede jaar in die kabinet goedgekeur is en wat ook ’n toegewyde implementeringseenheid het. Dit dien as riglyn om broodnodige verandering in onderwys in die land teweeg te bring.

“Ons begroting is gerig op dié plan om sistematies die uitdagings aan te spreek wat ons in onderwys het.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!