Nuwe leerplan beleef talle uitdagings
Geen onderwysers vir beroepsvakke
Weens 'n gebrek aan menslike hulpbronne word talle tegniese beroepsgerigte vakke tans deur onderwysers onderrig wat nie hierin opgelei is nie.
Henriette Lamprecht
Onderwysers is nie voorberei om die hersiende leerplan in staatskole te fasiliteer nie, geen gekwalifiseerde onderwysers was beskikbaar om die hersiende vlakke waaronder beroepsgerigte vakke vir graad 4 tot 7 en gevorderde vlak (AS) te onderrig nie, terwyl daar ook nie ’n voldoende begroting was om die implementering van die hersiende leerplan te ondersteun nie.
Me. Loide Shaanika, sekretaris-generaal van die Namibiese Onderwysersunie (Nantu), het tydens die nasionale onderwyskonferensie wat tans in Windhoek aan die gang is, gesê onderwysers is ook nie deel van voortgesette professionele ontwikkeling in hul loopbane in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur nie, terwyl geleenthede hiervoor beperk is.
Shaanika het ook verwys na die tekort aan klaskamers, water vir landboukundige doeleindes, rekenaars vir inligting- en kommunikasietegnologie, mikroskope, sowel as sekere handboeke vir onder meer huishoudkunde vir graad 10 en 11.
Weens ’n tekort aan menslike hulpbronne word baie tegniese beroepsgerigte vakke tans deur onderwysers onderrig wat nie hierin opgelei is nie. Dieselfde geld vir vakke soos biologie en wiskunde.
Volgens Shaanika is daar ’n gebrek aan koördinering tussen opleidingsinstellings vir onderwysers en die ministerie in terme van die kombinasie van vakke op opleidingsvlak en wat regtig nodig is in skole.
Met verwysing na onderwysers vir lewensvaardighede, heers ’n tekort aan gekwalifiseerde raadgewers in staatskole landswyd.
Shaanika sê die hersiende leerplan neem nie die huidige personeelstandaarde en die verhouding van onderwyser tot die aantal leerlinge in ag nie. Dit het daartoe gelei dat leerlinge en onderwysers van een skool na ’n ander beweeg wat weer uitdagings veroorsaak, soos ’n gebrek aan koshuisgeriewe en verblyf vir onderwysers. Sy het namens die onderwysersunie gemaan die regering moet meer hulpbronne aan skole toeken om die gehalte van onderrig te verbeter.
“Ons moet aandag gee aan die kwessie van onderwysers wat wag om opleiding te ontvang in vakke soos wetenskappe, biologie en ook tegniese vakke om sodoende in die behoeftes van skole te voorsien,” het sy gesê.
Shaanika het beklemtoon die regering en sy ontwikkelingsvennote, sowel as ander rolspelers moet die voortgesette professionele ontwikkeling van onderwysers volhoubaar ondersteun.
“Ons dring steeds by die regering aan om voort te gaan om ’n onderrigstelsel te skep wat demokraties is, gelykheid bevorder, maatskaplike en ekonomiese verskille verminder en ons mense bemagtig om beheer van hul toekoms te neem. Dit kan gedoen word deur die toekenning van hulpbronne en die smee van verskillende vennootskappe om dit op plaaslike en streek-, sowel as globale vlak te verwesenlik.”
Die hersiende leerplan wat vanaf 2015 tot 2022 geïmplementeer is, se doel was om die Namibiese leerplan in pas te bring met die behoeftes van die samelewing en ook nasionale ontwikkelingsdoelwitte.
Die proses het in Januarie 2015 ná ’n kabinetsbesluit begin, met die implementering van die finale fase wat graad 12 (gevorderde vlak) wat vir vanjaar geskeduleer is.
Die hersiende leerplan het fases in die stelsel verander en wel laer primêr (graad 1 tot 4) tot junior primêr, bo-primêr (graad 5 tot 7) na senior primêr (graad 4 tot 7), junior sekondêr (graad 8 tot 10) tot junior sekondêr (graad 8 tot 9), senior sekondêr (graad 10 tot 11) en graad 12 tot gevorderde vlak (graad 12). Graad 10 is ook nie langer ’n punt om die skool te verlaat nie, maar wel graad 11.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie