Ohangwena stuur 800 leerders huis toe
As watervlakke nie daal nie, kan skole langer toe bly
Twee skole in die Ohangwenastreek se deure is vir twee weke gesluit weens vloedwater.
Tuyeimo Haidula en Enzo Amuele – Net vyf dae nadat skole vir die 2023 akademiese jaar geopen het, het die Ohangwenastreek se onderwysdirektoraat twee van sy skole gesluit weens voortdurende vloedwater.
Meer as 800 leerlinge is huis toe gestuur.
Die onderwysdirekteur in die streek, Isak Hamatwi, het gister aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê dat die Gekombineerde Skool Onghala, wat meer as 500 leerlinge huisves, en die Primêre Skool Shingunguma met 331 leerlinge, vir die volgende twee weke gesluit sal wees.
“Indien die watervlakke nie ná twee weke gesak het nie, sal die besluit gehandhaaf word,” het hy gesê.
Hamatwi het Maandag gesê ses skole in die streek is tot dusver deur die vloede geraak, asook die Ohangwena-sone wat aan Angola grens.
Ander skole wat gemonitor word, is die Gekombineerde Skool Onyofi, die Primêre Skool Ndilokelwa, die Senior Sekondêre Skool Udjombala en die Primêre Skool Ohaingu.
Hamatwi meen indien die situasie voortduur, kan leerlinge van dié skole versoek word om tuis te bly.
Die Onghala-skool het ’n ouervergadering belê om die impak van die vloed te bespreek en ouers en voogde in kennis te stel van die besluit om onderrig vir die volgende twee weke op te skort.
Dié skool se hoof, Absai Haiduwa, het ook bevestig dat hulle die skool se sluitingstydperk sal verleng as die watervlakke nie in die volgende twee weke gedaal het nie.
Hy het die versekering gegee dat die skool se bestuur die tradisionele leiers sal inlig en die radiostasies sal nader om aan te kondig wanneer klasse weer hervat.
“Ons het die klasse opgeskort om die leerlinge veilig te hou. Daar is slange in die water. Dit is nie veilig vir die leerlinge nie en ook nie vir sommige van die ouers wat hul kinders help om deur die vloedwater te loop nie,” het Haiduwa gesê.
Volgens Hamatwi sal dit die situasie vergemaklik as die skool toegang tot kano’s kan hê om die leerlinge te help om die water oor te steek. Hy het gesê hulle sal hul ramprisikobestuursverslag by die kantoor van die eerste minister indien en wag om te sien watter hulp aan hulle verleen sal word.
OUERS IS TELEURGESTELD
Anna Haimbala het drie kinders in die skool en het die ouervergadering bygewoon.
Hoewel sy teleurgesteld is en sleg voel dat die kinders se klasse opgeskort is, meen sy dat niemand blameer kan word nie, want ’n vloed is ’n natuurramp.
“Ons is nie kwaad nie. Dit is die natuur. Ons wens net daar was beter oplossings wat voordelig vir die leerlinge se opvoeding kon wees,” het sy gesê.
Haimbala het Maandag gesê sy het haar kinders gehelp om die vloedwater oor te steek om by die skool te kom, maar toe sy sien dat die water haar heupvlak bereik, het sy kinders in die laer grade gevra om terug huis toe te gaan en sy het die kinders in hoër grade begelei.
Nog ’n ouer, Talaonghenda Nghidengwa, deel dieselfde sentiment. Nghidengwa het gesê sy is teleurgesteld dat die nuutgeboude grondpad wat na die Onghala-skool lei, heel moontlik deur die water vernietig sal word. Ná die ouervergadering het die kinders en hul ouers deur die water geloop terug na hul huise toe.
Sommige ouers het gisteroggend ’n klein opblaasbootjie gebruik om ’n dringende vergadering by die Gekombineerde Skool Onghala by te woon.
TIENJARIGE VERDRINK
Lucia Ndapandu Nghinananye (10) het Sondagmiddag in ’n gronddam in die nedersetting Omungwelume in die Ongenga-kiesafdeling verdrink.
Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het gesê hulle vermoed die oorledene en ander kinders was besig om vis te vang.
Shikwambi het die publiek gewaarsku om nie die vlak en krag van die water te onderskat nie.
“Baie mense begin nou vis en paddas vang, kinders begin swemaktiwiteite aanpak terwyl sommige deur die water moet loop om by die skool te kom. Inwoners in die Ohangwenastreek word gemaan om baie versigtig rondom die water te wees,” het sy gesê.
Shikwambi het gesê ouers moet kinders leer en daarvan weerhou om in die water te speel, deur dit te loop en om daarin te swem; tensy dit onder toesig plaasvind.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie