Om aan die rand van die samelewing te bly

Gemarginaliseerde gemeenskappe ‘voel verwaarloos'
'n Voorbeeld is Onamatanga waar sowat 2 000 gemarginaliseerde mense sonder toegang tot drinkwater woon.
Augetto Graig
Die verlies van hul inheemse tale, generasies sonder nasionale dokumente wat hulle sonder enige staatshulp laat, geen toegang tot drinkwater en uiterste honger.

Dit is die donker prentjie van leerlinge in gemarginaliseerde gemeenskappe in tien streke van die land waar ouers sonder inkomste is, leerlinge noodgedwonge uit die skool bly omdat ouers nie skryfbehoeftes kan bekostig nie en meisies so jonk as 12 jaar swanger raak en meestal net tot graad 8 vorder.

Die inligting is vervat in ’n verslag deur die parlementêre staande komitee oor grondwetlike en regsake oor regeringsingrypings om toestande vir gemarginaliseerde gemeenskappe te verbeter. Die komitee wat die verslag in die parlement ter tafel gelê het, het in 2023 Omusati, Kunene, Ohangwena, Oshana, Oshikoto, Otjozondjupa, Omaheke, Zambezi, Kavango-Oos en Kavango-Wes besoek.

Die fokus was op die lewensomstandighede van die San, Ovatue, Ovatjimba en Ovazemba.

In die Omusatistreek ken lede van gemarginaliseerde gemeenskappe oor die algemeen nie meer hul inheemse tale nie.

Baie is reeds geslagte sonder nasionale dokumentasie, wat hul toegang tot enige ondersteuning van die staat verhinder. Die regering voorsien wel aan 269 leerlinge vervoer om vir vakansietye en uitnaweke huis toe te kan gaan, terwyl 41 lede van erkende gemargaliseerde gemeenskappe aan tersiêre instellings studeer.

By Onamatanga woon sowat 2 000 gemarginaliseerde mense sonder toegang tot drinkwater. Verskeie regeringsprojekte wat met verloop van tyd begin is, is nooit voltooi nie. Vir leerlinge is die enigste opsie vir ’n skool 8 km verder by Omakange, wat leerlinge tot graad 7 akkommodeer. Daar is nie ’n pad na die skool toe en ook geen koshuis nie.

Verblyf vir onderwysers en klaskamers is te min, terwyl die skool ook nie omhein is om mens-dier-konflik te voorkom nie. Uiterste honger is hier aan die orde van die dag en die meeste inwoners het weinig onderrig ontvang.

Streng reëls teen die afkap van bome lei ook gedurig tot swaar strawwe vir die inwoners, volgens die komitee. In 2014 is huise vir onderwysers op Olumekugwa begin bou, maar is nooit voltooi nie. Dit het geen water- of kragtoevoer nie en staan reeds vir jare in onbruik.

Kinders hier gaan nie skool nie omdat hul ouers geen inkomste het nie en nie handboeke of skryfbehoeftes kan bekostig nie. Bestaande klaskamers is in ’n vervalle toestand, met die voorskoolse onderwysers wat hul dienste vrywillig aanbied om die jonger kinders te onderrig.

In die Kunenestreek het Otjimuhaka ook nie ’n koshuis nie. Daar is ook nie vervoer vir kinders wat lang afstande moet aflê om by die skool te kom nie. Ouers hier kan ook nie skryfbehoeftes bekostig nie, met die kinders wat wegbly van die skole af.

Lede van die Ovazemba, Ovangambwe en Ovahakahona word nie as gemarginaliseerde gemeenskappe herken nie. Volgens die komitee was dié inwoners nie bewus daarvan dat die regering ander gemeenskappe help nie.

Op Otjijandjasemo het die boorgat wat deur die kantoor van die eerste minister geboor is, lankal nie meer water nie. Daar is dus geen water by die skool nie, met die naaste waterbron wat 4 km verder is. ‘n Skool op die plaas Seringkop huisves 90% van leerlinge wat uit gemarginaliseerde gemeenskappe kom.

Tot die vloere van die skool is vervalle, toilette, geisers en die kombuis is nie in ’n werkende toestand nie en die rioolstelsel is verstop. Sedert 2019 is hier geen handboeke nie, terwyl ouers nie die koshuisgelde kan bekostig nie. Die meerderheid jongmense hier het die skool verlaat.

In Ohangwena by Okaukuejo is ’n ongekwalifiseerde onderwyser aan diens wat nie aangestel kan word nie. Kommunikasie met die leerlinge is gebrekkig weens taalverskille.

Op Tsintsabis het hoofman Geelbooi Thameb van die ||G-Ai Khoen Tradisionele Owerheid aan die komitee gesê: “San-mense raak die slawe van mede-Namibiers”.

Die primêre skool op Tsintsabis het nie genoeg klaskamers nie en kan nie uitbrei om graad 10 of 11 aan te bied nie. Dit ten spyte van die feit dat hierdie uitbreidings vir 2024 en 2025 beplan was. Onderwysers het nie behuising nie en die sewe mans- en een vroue-onderwyser moet ’n stort en ’n toilet deel. Vir die leerlinge is daar geen toiletgeriewe nie. Die administrasiegebou en die koshuis kort volgens die komitee aandag en moet uitgebrei word, terwyl die een watertenk ook te min is.

Soortgelyke omstandighede is by die Oshikoto-meer, Kuvukiland, Namutoni-hek, Plaas Ombili en Plaas Huigub waargeneem.

In die Zambezistreek is diskriminasie deur regeringbeamptes teenoor gemarginaliseerde gemeenskappe aangemeld.

Die sekondêre skool op Ndoro huisves 600 leerlinge. Die vroeë kinderontwikkelingsentrum ontvang geen voedselhulp nie, want daar is nie vervoer hiervoor nie. By Wayawaya is daar ook nie ’n skoolvoedingsprogram in plek nie.

Op Omega 3 voel die Kwe verwaarloos. Die skool hier bied van graad 1 tot 11 aan, maar het geen krag nie. Om afdrukke te laat maak, moet 50 km gery word. Die beperkte koshuis bestaan uit beskadigde tente.

In Mutjiku bied die naaste skool nie onderrig in enige San-dialekte aan nie en die vroeë kinderontwikkelingsentrum se klasse word onder ’n boom aangebied. Tienerswangerskappe kom onder meisies so jonk as 12 jaar voor, met meisies wat meestal nie verder as graag 8 vorder nie.

Op Vergenoeg in die Omahekestreek gaan kinders met vuil klere en sonder om te was skool toe, omdat daar geen water is nie. By Mururani se Kap-en-Bou-nedersetting werk net twee mense uit 100 huishoudings.

Die skool is 2 km vanaf die dorp geleë. ’n Ligpunt is die een universiteitstudent en een student aan die ontwikkelingsentrum vir gemeenskapsvaardighede (Cosdec) wat die skool opgelewer het.

Geen leerling van die skool op Bravo in Kavango-Wes het al ooit tot by ’n universiteit gevorder nie. ’n Skool word sedert 2015 vir die Du Plessis-nedersetting op Omahake beplan, maar het in tien jaar nog nooit verder as beplanning gevorder nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer