Onderwys almal se plig

Inklusiewe, veilige skole
President Hage Geingob sê die private sektor moet hand bysit om onderrig vir almal te verseker.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Die Namibiese regering het private finansieringsbronne nodig om te help om die nasie te onderrig. Dit kan egter nie ten koste van gelykheid gedoen word nie.

“Ons kan nie ’n situasie hê waar die onderrig-ervaring van ’n kind in die Zambezistreek totaal anders is as vir een in Erongo nie. Ons kan nie private skole hê wat armer leerlinge, of leerlinge waarvoor hulle nie voorsiening wil maak nie, uitsluit. Om die hele bevolking te onderrig, is almal se verantwoordelikheid.”

Dit was gister die boodskap van president Hage Geingob wat namens hom deur sy visepresident Nangolo Mbumba tydens die amptelike opening van die nasionale onderwyskonferensie in Windhoek aan konferensiegangers oorgedra is.

Geingob het na die uitdagings in die sektor verwys wat deur die Covid-pandemie teweeg gebring is en gemaan stelsels en meganismes moet in plek wees om beter voorbereid te wees in die geval van nog ’n ontwrigtende en katastrofiese gebeurtenis.

Volgens hom het nasionale konsultasies inklusiewe, veilige en gesonde skole en die finansiering van onderwys uitgewys as fokuspunte om die sektor te verander.

Unicef se streekraadgewer vir onderwys, mnr. Abhiyan Jung Rana, het gemaan die wêreld is getuie van die ergste skok tot onderwys en onderrig in aangetekende geskiedenis.

Hy het verwys na leerarmoede wat met ’n derde in lae- en middelinkomstelande toegeneem het, met ’n beraamde 70% van tienjariges wat nie ’n eenvoudige geskrewe teks kan verstaan nie.

Dié koers was 57% voor die pandemie en 87% in Afrika suid van die Sahara.

“Dit beteken dat selfs voor Covid-19, kon nege uit tien kinders onder die ouderdom van tien nie ’n eenvoudige teks lees nie,” het Rana gesê.

Volgens hom het regerings in Afrika suid van die Sahara relatief goed gedoen om skole veilig en oop tydens die pandemie te hou, met Namibië wat ’n goeie basis geskep het om beplanning en reaksie te koördineer.

Hy het struikelblokke tot Namibië se digitale vernuwing van sy onderwyssektor uitgesonder as beperkte toegang tot inligting- en kommunikasietegnologie en geen toegang tot die internet.

Ten spyte van pogings om te verseker alle leerlinge keer met die heropening van skole terug na die skoolbanke, sê Rana meer as 30 000 kon nie weer opgespoor word nie en meer as 4 000 skoolmeisies het swanger geraak.

Hy het beklemtoon die land het ’n soliede basis om op te bou, maar die krisis in die sektor is ver van verby.

“Dit is nou die tyd om alle pogings te verdubbel om die verlies aan onderrig te keer en leerarmoede vir altyd te verminder. Dit mag die belangrikste en kataliserende taak wees om die welstand van ’n hele generasie te verseker,” het hy gesê.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het gesê haar ministerie staar daagliks “demoraliserende negatiewe terugvoer” in die gesig.

“Die feit dat ons die mees gekritiseerde sektor is, wys net die belangrikheid en hoë sigbaarheid daarvan en die hoë verwagtinge van die nasie van ons. Ons beroep is meer ’n roeping as ’n loopbaan,” het sy gesê.

Volgens haar vind die konferensie in ’n tyd van onsekerheid plaas oor die spoed van ekonomiese herstel, met die impak van globale uitdagings op die plaaslike ekonomiese vooruitsig wat in gedagte gehou moet word.

Sy het MIV/vigs en Covid-19 uitgesonder as redes vir kinders wat wees gelaat is en skool verlaat het, tienerswangerskappe en hoë druipsyfers. Die skaarsste van lopende water en voedsel, sowel as armoede en sosioëkonomiese ongelykheid, plaas volgens die minister ’n reuselas op die onderwysstelsel.

Ouers wat weens verstedeliking na stede stroom, lei tot oorvol klaskamers met die gehalte van onderrig wat aan die kortste end trek. Nghipondoka sê die globale ekonomiese resessie het gelei tot verminderde finansiering vir bedryfs- en kapitale begrotings van onderwys. Die gevolg was ’n agterstand in die konstruksie en opgradering van infrastruktuur wat weer gelei het tot vervalle en oorvol koshuise en klaskamers en ’n tekort aan laboratoriums, beroepsgerigte werkwinkels en biblioteke. Tekorte word ook ondervind in handboeke en skryfbenodighede.

Nghipondoka sê huidige hervormings in die sektor is daarop gemik om ontwikkelingsbehoeftes te takel in terme van vaardighede wat deur leerlinge op verskillende ouderdomme en graadvlakke behaal moet word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!