Onderwys in almal se taal

Projek verskuif grense, bewaar kultuur
Taal is ook uiters belangrik vir kulturele ontwikkeling en vir die voortbestaan van kulture.
Yochanaan Coetzee
Die feit dat Namibië ‘n diverse land is, is een van die hoofdoelwitte van Namibia Media Holdings (NMH) se onderwysprojek om te verseker dat elke kind toegang sal hê tot ‘n werkboek in sy of haar huistaal.

“Die belangrikheid van onderrig in ‘n mens se moedertaal moet nie onderskat word nie,” sê die projekkoördineerder, me. Sharnay Botha.

“Studies het bevind kognitiewe ontwikkeling is betreklik vinniger by diegene wat hul moedertaal vlot praat. Dit illustreer weer eens dat kinders wat op ‘n jong ouderdom in hul moedertaal onderrig word, hoër akademiese sukses behaal,” het sy bygevoeg.

Om jou moedertaal magtig te wees, maak dit ook baie makliker om ‘n nuwe taal aan te leer. Taal is ook uiters belangrik vir kulturele ontwikkeling en vir die voortbestaan van daardie kultuur.

Die beste manier om ‘n kultuur te ken, is om die taal te ken. Onderrig in hul moedertaal help kinders dus om verbind te bly met hul wortels en hul kultuur te waardeer.

ONDERWYS NEEM DIE VOORTOU

“Toe ons die projek in 2020 van stapel gestuur het, was ons boeke in agt tale beskikbaar. Ons akkommodeer vandag 12 taalgroepe, insluitend Engels, Oshikwanyama, Oshindonga, Otjiherero, Khoekhoegowab, Afrikaans, Rukwangali, Rumanyo, Silozi, Thimbukushu, Duits en gebaretaal.”

Dié reusetaak kon verwesenlik danksy die insette van al die belanghebbendes, waaronder die ministerie van onderwys, kuns en kultuur; NMH; Unicef; die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied); en veral die span onderwysers en vertalers wat onverpoos gewerk het om hierdie projek so effektief en verreikend as moontlik te maak.

’n Span van 18 vertalers vertaal die Engelse Junior-fase boeke in 10 tale.

“Ons by NMH is daartoe verbind om te verseker dat inklusiewe onderwys ‘n topprioriteit bly. Daarom word elke aanlyn les ook in gebaretaal vertaal om kinders met gehoorgestremdhede te akkommodeer.

“Dit is belangrik dat alle kinders aan elke aktiwiteit kan deelneem ongeag hul kulturele of sosioëkonomiese agtergrond. Ons onderwysers en vertalers werk hard om te verseker dat elke aktiwiteit van toepassing is op kinders met verskeie kulture en agtergronde, om te verseker elke Namibiese kind kan by elke aktiwiteit baat,” het Botha bygevoeg.

Lê DIE GRONDSLAG

“Een van die probleme wat ons in die gesig gestaar het toe ons die projek begin het, was om te verseker dat die regte aantal boeke in die regte tale in elke streek versprei word,” het sy verduidelik.

Baie beperkte statistieke was beskikbaar oor die tale van leerlinge per graad en per streek. Dit het dit baie moeilik gemaak om te verseker die korrekte aantal boeke word in elke taal versprei.

Die projek het toe sy toegang tot honderde skole gebruik om meningspeilings landswyd te doen. Hierdie opnames het data ingesamel oor elke skool se besonderhede, ligging en bowenal die aantal leerlinge in elke graad, asook die taal waarin elkeen van hierdie kinders onderrig word.

“Meer as 700 opnames is uit alle streke teruggestuur wat akkurate inligting bevat wat op datum is. Dit het ons in staat gestel om presies te weet hoeveel boeke gedruk moes word en watter taal waar versprei moes word,” het Botha gesê.

Onder die terugvoering wat ontvang is, was eerstehandse weergawes van hoe hierdie boekies goed ontvang en terdeë geniet is deur die leerlinge waarvoor hulle geskep is.

“Met die boekies kan ons goed uitknip en plak; ek het dit so baie geniet. Dankie! Ek het dit geniet om in my taal te leer,” het die jong Claudius Isaack, ‘n graad 2-leerling, gesê.

Vir meer inligting, besoek gerus Zoshy.com en hou NMH se platforms dop vir meer inligting.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer