Onderwys wil vernuwe
Vaardighede word opgeskerp
Onderwysers as besluitnemers op klaskamervlak vorm deel van die beplande hervorming.
Henriette Lamprecht - Covid-19 het uitdagings vererger wat in die Namibiese onderwyssektor ervaar is en vooruitgang uitgewis wat wel in dié bedryf gemaak is.
Baie leerlinge het besluit om die skool te verlaat, jong meisies het swanger geraak en hoë vlakke van geslagsgeweld en misbruik het voorgekom.
Volgens die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondaka, wys die Onderwysbestuur Inligtingstelsel (EMIS) vir 2020 sowat 24 691 leerlinge het in dié jaar die skoolbanke verlaat. Volgens die Nasionale Bevolkingsregisterstelsel (NPRS) is 20 babas in dieselfde jaar vir 13-jarige meisies gebore.
Volgens die minister het haar ministerie hom nou weer opnuut daartoe verbind om Namibië se onderwysstelsel ’n nuwe baadjie te gee om sodoende ’n beter toekoms vir elke kind in die land te verseker. Deel van die vernuwingsproses in samewerking met Unicef, is om alle leerlinge in die land se vaardighede ’n verdere hupstoot te gee.
Afgevaardigdes van die ministerie wat ingesluit het die minister, uitvoerende direkteur, die direkteur vir leerplanontwikkeling, sleutel- tegniese personeel asook Unicef se verteenwoordiger in die land, het in September in New York die Beraad vir die hervorming van onderwys bygewoon.
Voor die beraad is ’n reeks nasionale konsultasies gehou om te sien hoe ver die sektor sedert die nasionale onderwyskonferensie in 2011 gevorder het.
Die nasionale konsultasies het dit volgens Nghipondoka duidelik gemaak die ministerie moet ’n suksesvolle hervormingsagenda hê, sowel as goed ontwerpte benaderings op bestuursvlak en wat onderwysers betrek wat die besluitnemers op klaskamervlak is.
Die beraad het gefokus op die globale krisis in onderwys waarin sowat 147 miljoen leerlinge sedert 2020 meer as die helfte van hul aangesig-tot-aangesig-onderrig gemis het. In 2021 was 244 miljoen kinders nie in die skool nie. Die Covid-19-pandemie het ’n stok in die wiel van die onderrig van meer as 90% van die wêreld se kinders gesteek, die grootste ontwrigting ooit. Die helfte van wêreld het hul begrotings vir onderwys gesny, wat die krisis verder vererger het.
“In 2020 het sowat 18% van graad 1-leerlinge die skool verlaat. Dit beteken hulle kry nie sleutel- basiese leesvaardighede wat nodig is tydens hul eerste jaar van formele skoolonderrig nie,” sê Unicef se verteenwoordiger in Namibië, me. Rachel Odede.
“Die sluiting van skole het reeds bestaande ongelykhede in onderrig in die streke van die land verdiep, weens ongelykhede in toegang tot tegnologie. Om digitale onderrig vir alle kinders moontlik te maak, het die potensiaal om gemeenskappe te skep wat meer inklusief en meer vooruitstrewend is,” het sy gesê.
“Ons volgende stap is duidelik,” het die ministerie se adjunk-uitvoerende hoof, me. Edda Bohn, beklemtoon.
“Ons gaan seker maak ons raamwerk vir ons leerplan is in pas met vereistes van die Vierde Nywerheidsrewolusie en tegnologie wat nodig is om ons leerlinge, gegradueerdes en selfs ons werksmag relevant te maak en te hou,” het sy gesê.
Die ministerie het homself onder meer daartoe verbind om seker te maak geld begroot vir onderwys is tot voordeel van alle leerlinge; kinders mis nie skool omdat hulle honger is nie; toegang tot digitale tegnologie in alle skole is ’n prioriteit; en om ’n nasionale veldtog van stapel te stuur wat op syfer- en leesvaardighede fokus.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie