Onmenslike verval van staatskole, koshuise
Geen roetine instandhouding in jare
Sommige skole en koshuise is deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste as ongeskik verklaar om leerlinge te huisves.
Henriette Lamprecht
Stukkende vensters, ligskakelaars waarvan die elektriese drade uitpeul, deure wat weens ’n gebrek aan slotte met stukke draad gesluit moet word, gate en krake in vloere en geen plafonne of plafonne wat gevaarlik uitgesak het, asook verstopte dreine, toilette en krane wat nie in ’n werkende toestand is nie en tydelike klaskamers wat met sinkplate en pale aanmekaargeflans is wat nog die koue nog reën en hitte uithou.
Dit is die donker en haglike prentjie wat geskets word in ’n ouditverslag oor die vervalle infrastruktuur by 25 skole in die Zambezi, Kavango-Oos, Kavango-Wes, Ohangwena en Omusati waar instandhoudingswerk vir jare agterweë gebly het.
Die slotsom ná besoeke aan die betrokke skole en koshuise is dat die infrastruktuur en die instandhouding en bestuur daarvan “in alle materiële aspekte” nie aan die betrokke standaardvereistes voldoen nie.
Dit beskryf die verval as “betreurenswaardig”, met sommige van die skole en koshuise wat duidelik nie geskik is om leerlinge te huisves nie.
Die betrokke streke het volgens die verslag nie begrotingstoekennings vir instandhouding aangedui nie en het ook nie bateregisters of ’n jaarlikse program vir instandhouding nie. Ook kort ’n vereiste gerekenariseerde bestuurstelsel vir die beplanning, implementering en rapportering van enige instandhouding. Geen roetine- en voorkomende instandhouding is op ’n vereiste basis gedoen nie, hoewel uitgawes hiervoor wel aangegaan is.
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se rekenpligtige beampte moet gevolglik verduidelik waarom die haglike toestande steeds heers, ten spyte van die feit dat instandhoudingswerk by sommige skole gedoen en uitgawes hiervoor aangegaan is.
Die verslag verwys na die raamwerk vir onderhoudsbestuur (MMF) wat dien as beheermeganisme om die instandhouding van alle regeringsgeboue te reguleer. Die oudit was om te bepaal of die infrastruktuur van regeringskole onderhou word in ooreenstemming met die MMF en verwante kabinetsbesluite.
’n Vorige ouditverslag het toe reeds gewys sommige regeringskole is vervalle en oorvol. Koshuise oraloor die land is in ’n vervalle toestand, met sommige wat deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste as ongeskik verklaar is om leerlinge te huisves. Ook is toe al vasgestel geen opnames vir behoeftes vir herstelwerk is gedoen nie, terwyl koshuise geen herstelwerkprogram in plek het nie. ’n Bykomende ouditverslag deur die ministerie van onderwys het ook bevind die algemene toestand van koshuise waar inspeksies gedoen is, is “baie swak” en het dringend grootskaalse opknappings nodig.
Die jongste ouditverslag verwys na die impak wat die vervalle infrastruktuur op leerlinge het wat in “vieslike omstandighede” moet bly, terwyl die tekort aan klaskamers die onderrigproses ontwrig, aangesien leerlinge noodgedwonge lessenaars en stoele moet deel. Die oorvol klaskamers het weer gelei tot hoë druipsyfers.
Die ministerie begroot jaarliks vir instandhouding, met die betrokke geld wat op ’n maandelikse basis aan die verskillende streekdirektorate oorgedra word. Fondse geoormerk vir die onderhoud van klaskamers word ook aan streke gestuur, terwyl die hoofkantoor groot projekte soos die opgradering van skole en klaskamers adverteer, toeken en bestuur.
Streekkantore stuur inspekteurs na die onderskeie skole om die funksionaliteit van toerusting en geboue te verifieer. Kontrakteurs word as deel van ’n jaarlikse tender aangewys, met die onderhoudsdepartement in die streekdirektorate wat vir die koste verantwoordelik is.
Van direktorate word vereis om voorsiening vir instandhouding te maak soos deur die betrokke skole aangevra is.
Alle regeringsgeboue is veronderstel om ten minste elke drie jaar aan ’n volledige inspeksie onderwerp te word, afhangend van die toestand van die infrastruktuur.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie