Passie vir musiek en sielkunde

Wen Gunther Pulvermacher-toekenning vir beste artikel
Silvia wou aan die begin van haar studies navorsing doen in musiek en sielkunde om onder meer gemarginaliseerde individue soos siggestremdes te help.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Musiek en sielkunde was nog altyd die twee vakgebiede wat haar die meeste geprikkel het.

Dit is ook die rede waarom sy baie van interdissiplinêre navorsing hou, sê Silvia van Zyl wat tans besig is met haar doktersgraad (PhD) aan die Universiteit van Kaapstad (UCT).

Sy spog reeds met ’n optrede-diploma in Westerse Klassieke Stem, sowel as ’n honneurs- en meestersgraad in Westerse Klassieke Optrede wat beide ’n uitvoerende sowel as ’n navorsingskomponent het. Silvia het dié twee grade elk met onderskeiding verwerf. Sy het ook twee diplomas in klassieke sang (ATCL en LTCL) aan die Trinity Guildhall Kollege in London verwerf.

Silvia wou aan die begin van haar studies navorsing doen in musiek en sielkunde om gemarginaliseerde individue soos siggestremdes, persone met disleksie, outisme en ook leerprobleme te kan help, vertel sy.

Haar doktersgraad fokus hoofsaaklik op musiekkognisie (die verstandelike aksie of proses van die verkryging van kennis en begrip deur denke, ervaring en die sintuie) en -gewaarwording, maar haar navorsing is ook interdissiplinêr aard, verduidelik Silvia.

“Dit span oor velde soos musieksielkunde, neurowetenskap, ontwikkeling- en opvoedkundige sielkunde en natuurlik ook musikologie.”

Die doel van haar navorsing is om die natuur en werking van die fenomeen wat bekend staan as “mental imagery” te ondersoek soos dit by visueel gestremde musici voorkom.

“Die idee is wanneer jy die sigsintuig uitkanselleer, kan jy ’n diep oorsig oor die werking van die ander sintuie kry. Dit is insig wat moontlik tot verdere navorsing en toepassings kan lei wat nie net op siggestremdes gefokus is nie.”

“Mental imagery” het hoofsaaklik te doen met persepsie – hoe die sintuie inligting opneem, versprei en verwerk in die brein en ook kognisie van die inkomende inligting, verduidelik Silvia.

Haar navorsing is internasionaal en die studie sal in Suid-Afrika, Duitsland en Amerika uitgevoer word. Die hoop is dat die bevindinge van toepassing sal wees in velde, soos onder meer musiekonderrig en -terapie, remediërende onderrig asook in verdere navorsing soos neuromusikologie.

“Dié navorsingsrigting lyk baie belowend. Ek is in 2019 genader om ’n hoofstuk by te dra tot die boek Sempre Studies in the Psychology of Music Series wat ek saam met my studieleier, prof. Anri Herbst, geskryf het. Dit is gebaseer op my aanvanklike navorsing vir my PhD en is in November verlede jaar vrygestel.”

Haar hoop is dat haar navorsing – die saamvoeg van onder andere musiek, kognisie, opvoedkundige sielkunde en neurowetenskap – nou en in die toekoms van onskatbare waarde gaan wees en dit wye aansluiting by ander navorsingsvelde soos medies, sielkunde en opvoedkunde sal vind.

Silvia doseer sedert 2019 deeltyds by UCT en is aangestel op aanbeveling van ’n paar dosente wat in haar voorgraadse studies vir haar klas gegee het.

“Dit het basies in my skoot geval en ek is baie dankbaar daarvoor, ek leer geweldig baie.”

Sy doseer tans twee gehoorskolingsvakke vir eerstejaarstudente en twee onderrigmetodiekvakke vir tweede- en derdejaarstudente, terwyl sy ook musiekteorie vir derdejaarstudente tutor. Silvia staan ook gereeld in vir ander vakke en het byvoorbeeld verlede jaar ’n metodiekvak vir nagraadse studente aangebied (HOD).

Sy erken sy wou aanvanklik net ’n uitvoerende loopbaan volg, maar haar liefde vir navorsing (sy is baie nuuskierig!) en haar passie om ander deur middel van navorsing te help, het vinnig sterk na vore getree.

Silvia het egter steeds ’n groot liefde vir klassieke sang en klavier en is aktief besig om vir kompetisies die jaar les te neem en voor te berei.

Nog ’n groot liefde is skryf en in 2018 publiseer sy ’n artikel in die ISI geakkrediteerde joernaal The Journal of the Musical Arts in Africa waarmee sy die Gunther Pulvermacher-toekenning wen vir beste artikel.

Silvia wil graag die bevindinge van haar navorsing terugploeg in die verskeie velde wat haar na aan die hart lê en dat dit ook ’n wegspringplek vir nuwe navorsing sal wees.

“Ek geniet dit geweldig om met studente te werk en vind dit ’n fassinerende leerskool, maar ek sal graag ook uitvoerend wil bly. Na my PhD sou ek graag ’n verdere graad in sielkunde (neurosielkunde) wou doen om myself verder te bekwaam vir dié tipe interdissiplinêre navorsing.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!