Powere uitslae vir deeltydse kandidate op ou leerplan
Die 2021-uitslae van deeltydse kandidate vir die graad 12 Namibië Senior Sekondêre Sertifikaat vir gewone en hoër vlak (NSSCO/H) vir die ou (Legacy)-leerplan is in alle grade swakker as dié van 2020.
Die hoogste afname was veral in die simbole C tot G. Sowat 28% van die deeltydse kandidate kon geen simbool behaal nie.
Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het gister met die amptelike bekendstelling van die uitslae gesê die algehele prestasie vir gewone vlak was swakker in die meeste vakke.
Hoewel die swakker prestasies in die meeste vakke was, was dit veral Engels as ’n tweede taal waarin 57% van die deeltydse kandidate nie enige simbool kon behaal nie. Dit word gevolg deur drie handelsvakke (rekeningkunde, sakestudies en ekonomie) waar meer as 30% nie suksesvol was nie.
Die treurmare duur voort vir die hoër-vlak kandidate waar rekeningkunde uitgesonder word as die vak waarin die meeste kandidate (87%) nie die pyp gerook het nie. Dit word gevolg deur wiskunde en geografie met meer as 60% wat nie ’n simbool kon behaal nie.
Die minister het haar teleurstelling uitgespreek oor deeltydse kandidate wat ten spyte van die beskikbaarstelling van hulpbronne steeds nie vir die eksamen opgedaag het nie.
Verlede jaar het 16 594 kandidate wat moes skryf, dit nie gedoen nie. Nghipondoka sê die meerderheid van die kandidate het ook nie klasse in persoon bygewoon wat spesiaal in skoolvakansies vir hulle aangebied is nie, terwyl hulle ook “huiwerig” was om die vereiste werkstukke vir evaluering in te stuur wat met hul vordering kon help.
“Dit wys ’n gebrek aan verantwoordbaarheid aan die kant van die kandidate deur nie geleenthede wat geskep is vir die suksesvolle voltooiing van hul onderrig te gebruik nie. Dit ten spyte van die tweede kans wat aan hulle gebied is,” het sy gesê.
Nghipondoka het verwys na die ontwikkeling van hulpbronne vir aanlyn onderrig in samewerking met die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) in reaksie tot die Covid-pandemie.
Dit sluit in video- en radiolesse wat alle vakke vir graad 8 tot 11 dek. Ooreenkomste is ook met One Africa TV en NBC bereik om die radio- en videolesse uit te saai.
Volgens die minister is 425 videolesse en 409 radiolesse op YouTube gelaai en is dit via die Namcol-webtuiste beskikbaar. Planne is ook onderweg om dié lesse op die ministerie se webtuiste beskikbaar te stel.
Sy het gevolglik ’n beroep op alle voltydse sowel as deeltydse kandidate gedoen om die verskeie platforms te besoek, omdat dié hulpbronne waarde tot hul onderrig voeg en uiteindelik hul prestasies tydens nasionale eksamens sal verbeter.
Nghipondoka het ook ’n beroep op alle deeltydse onderrigsentrums gedoen om strategieë te ontwikkel wat kandidate kan help om hul uitslae in vanjaar se nasionale eksamens te verbeter.
Sy het beklemtoon dat die nasionale eksamens gebaseer op die ou leerplan verby is.
Kandidate wat egter die NSSCO/H-eksamens afgelê het en nie die vereiste punte behaal het nie, kan steeds deeltyds by geakkrediteerde sentrums verbeter. Die kandidate mag ook hul simbole deur die nuwe NSSC-eksamens verbeter. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie