Regstudente wil Noorde-skool help

Leef van hand na mond
'n Primêre Skool op Ruacana moet sy sente omdraai om te sorg dat sy leerlinge genoeg het om te eet.
Iréne-Mari van der Walt
“Om eerlik te wees, is dit nie genoeg nie. Ons kry hulp van die ministerie se voedingskema, maar soms as die kos opraak, moet ons die kinders huis toe stuur,” het die waarnemende hoof van die Primêre Skool Ombyarundu in die Ruacana-kiesafdeling, Barnabas Hinsley, gesê.

Dié skool voed maandeliks tussen 45 en 60 leerlinge deur kos van ongeveer N$6 500 aan te koop.

Hinsley sê leerlinge het aanvanklik mieliepap vir ontbyt en mieliepap met sop vir aandete gekry, maar met die ministerie se ondersteuning beteken dit dat die skool soms vir leerlinge ook mieliepap tydens pouse kan gee.

Ombyarundu is oorspronklik in 2015 as ’n private kleuterskool gestig, en is in 2021 as ’n staatskool geregistreer. Talle van die leerlinge se ouers volg volgens Hinsley ’n nomadiese leefstyl wat kenmerkend aan die Himba- en Dhemba-kultuurgroep is; dus is die koshuis van uiterste belang.

“Ons grootste wens is dat die skool ’n geregistreerde koshuis moet kry. Wanneer daar ’n koshuis is met genoeg akkommodasie en kos, sal ouers meer daarin belangstel om hul kinders skool toe te stuur.

“Die koshuis is die ruggraat van ons skool, maar ons kan nie die kinders hier hou as hulle hier moet honger ly nie – dis die enigste ding wat kinders by die skool sal hou,” sê Hinsley.

Hy glo gereelde skenkings kan vir die skool en sy 95 geregistreerde leerlinge ’n reddingsboei wees.

“Ons het nodig dat mense maandeliks sal skenk, nie net een keer nie,” het hy gesê.

Kleredrag is volgens Hinsley nog ’n gebied waar skenkings noodsaaklik is.

“Baie van die kinders se ouers en familie leef nog op die tradisionele manier, dus kom hulle talle kere met hul tradisionele klere skool toe, wat soms net ’n dierevel is. In die winter probeer ons om geskenkte klere eerste vir die mees kwesbare kinders te gee. Ons wil so graag hê hulle moet ook skooluniforms dra, dat hulle ook soos die ander skole kan wees,” sê Hinsley.

ONDERSTEUNING

’n Groep regstudente aan die Universiteit van Namibië (Unam) het Ombyarundu se noodkreet gehoor en besluit om in te gryp.

As deel van hul diens aan Unam se regskliniek moet die groep van 23 finalejaarstudente ’n gemeenskapsprojek ondersteun.

Deur hul fiktiewe firma, Blackstone, doen hulle ’n beroep op die publiek om Ombyarundu te ondersteun.

“Ek dink enige Namibiër kan ’n groot verskil in Blackstone se projek maak. Dit gaan van vrywilligers afhang of dié projek ’n sukses gaan wees of nie.

“Die betrokkenheid van vrywilligers gaan ook bepaal of hierdie skool sy deure moet sluit of nie, en of mede-Namibiërs hulle reg tot opvoeding en onderwys ten volle kan uitleef,” het Chantell van Zyl namens dié groep studente gesê. Belangstellendes kan hulle by [email protected] kontak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!