Steenkamp dra ma Maria se wysheid saam
Dis haar ma se krag, haar stille rebellie teen beperking en haar fel geloof in haar dogter se potensiaal wat die basis van Namibië se nuwe minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur se leierskap vorm.
Sanet Steenkamp het in haar nooienstoespraak in die parlement hulde gebring aan haar ma Maria Cloete, ’n huishulp en later koshuiskok wat volgens haar dogter ’n diepe, intuïtiewe kennis gehad het wat uit swaarkry gebore is en nie uit skoolbanke nie.
“Sy het alles opgeoffer om vir ons ’n kans op onderrig te gee met die wete dat om te leer die medisyne is vir generasies se heelword.”
Haar posisie in die regering is nie ’n afwyking van haar ma se lewenstaak nie, het Steenkamp gesê, maar die voorsetting daarvan.
“Haar hande wat eens die huise van ander skoongemaak het, het die pad skoongemaak wat ek nou in die regering stap. Sy het saam met onsigbare wolwe gehardloop wat sag gehuil het sodat ek eendag met vrymoedigheid kan praat.
“Ek dra haar nalatenskap saam met my en bring haar wysheid in ruimtes in wat sy nooit binnegegaan het nie, maar altyd behoort het.”
Sy het haarself voorgestel as “Sanet Lentrud Steenkamp, gebore in die Cloete-familie in Karasburg”.
“Ek weet wat dit is om jonk, swanger en werkloos te wees en hoe dit my gelei het om my reis met onderwys by die Sekondêre Skool Lordsville op Karasburg as ’n ongekwalifiseerde maar vasbeslote onderwyser te begin.”
Hoewel sy in die suide van die land gebore is, het Steenkamp gesê ook die inwoners van Oshana en Ohangwena beskou haar as hulle s’n omdat sy 18 jaar van haar professionele lewe hier deurgebring het.
Steenkamp het ook verwys na haar sibbe Brenda, Pieter en Mike en haar tannie Ellen wat met “sorg en beskerming” ingetree het toe sy haar ma op ’n jong ouderdom verloor het en wat die mens gevorm het wat sy vandag is.
Die liefde en ondersteuning van haar man Willy en haar kinders Janine, Byron, Gunton en Eunice het ook spesiale vermelding gekry.
“Hierdie aanstelling is nie net myne nie, dit is ’n gedeelde eer wat aan ons almal behoort. Ek dra hul opofferings, krag en wysheid oor in elke beleidsbesluit en daad van diens.”
Deel van die onderwysminister se toekomsplanne is om sistemiese swakhede in die land se onderwysstelsel soos oorvol klaskamers en swak prestasie van leerlinge te takel. Prioriteit sal ook verleen word aan ’n konsepwetsontwerp vir onderwysers wat onderrig en beroepsopleiding sal standaardiseer en op professionele vlak bring.
Die verbetering van infrastruktuur sal ’n hupstoot kry danksy die Versnelde Infrastruktuur-ontwikkelingsplan (AIDeP), wat voorkeur sal verleen aan die opgradering van skole en bouprojekte. Die opknapping van die Onafhanklikheidstadion is ook geskeduleer om in die 2025-’26-finansiële jaar te begin. Sleutelingrypings sluit in die Nasionale Jeugfonds, met voorbereidings vir die 2025 Afrika-Unie Sportraad (AUSC) se Jeugspele in Windhoek wat ook onderweg is.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie