'Te min plek' vir byna 1 000 Rundu-skoliere

Tente beskikbaar, maar geen meubels, onderwysers
Ouers het hul stemme dik gemaak nadat hul kinders meer as twee weke se onderrig gemis het weens 'n gebrek aan ruimte in Rundu se skole.
Yandi Du Plessis
Nagenoeg 1 000 leerders op Rundu het twee weke se onderrigtyd gemis omdat daar nie plek vir hulle by reeds oorvol skole is nie.

Die leerlinge het Woensdag saam met hul ouers en voogde die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se Rundu-kantoor besoek om navraag te doen oor die ministerie se vordering om die kwessie op te los.

Twee weke gelede is berig dat tente beskikbaar gestel en in klaskamers omskep sou word, maar ouers het egter Woensdag gesê die belofte is nie nagekom nie – wat daartoe gelei het dat hulle besluit het om die kringkantoor te besoek om meer druk op die ministerie te plaas.

Nadat hulle nie 'n positiewe reaksie kon kry nie, het die ontstoke ouers hul kinders na die Rundu-polisiekantoor gelei om uit te vind hoe om 'n vreedsame protesaksie te hou.

“Dit alles kon vermy word as hulle hul belofte nagekom het om die tente te kry en ons kinders te onderrig. Ons is keelvol en ons het geen ander keuse as om 'n vreedsame protesaksie te hou sodat hulle sien wat 'n las hierdie vir ons is nie,” het een ouer gesê.

'ONS IS MOEG’

“Ander mense se kinders is by die skool terwyl ons s’n uitmis.

“Aan die einde van die jaar, wanneer ons kinders nie goed presteer nie, sal daar gesê word ons kinders word nie gedissiplineer nie en leer nie by die huis nie, maar dit is hulle wat ons kinders se skoolbywoning belemmer,” het 'n ander ouer gesê.

"Ons is moeg. Wat ons wil hê, is dat ons kinders skool moet bywoon. Hierdie regering het glo nie geld om skole te bou nie, maar ons lees van miljoene wat bestee word om kondome te koop.

"Prioritiseer ons seks bo opvoeding? Wat het geword van 'onderwys is die sleutel tot sukses'?"

MINISTERIE KORT TYD

By navraag het Fanuel Kapapero, die onderwysdirekteur in die Kavango-Oosstreek, gesê hulle het tente van die kantoor van die eerste minister ontvang, maar hulle het ten minste hierdie week nodig om dit op te slaan. Hulle het ook tyd nodig om skoolmeubels, sekuriteit en onderwyspersoneel te reël, het hy gesê.

Volgens hom behoort dinge teen Maandag op dreef te wees.

Vir jare het ons susterkoerant Namibian Sun berig oor die tekort aan skole op Rundu, wat 'n situasie geskep het waar klaskamers by sommige skole oorvol is met tot 100 leerlinge elk.

Kapapero het 'n amptelike beroep op die regering gedoen om meer skole te bou namate die inwonersgetal van Rundu groei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!