Lede van die /Khomanin Tradisionele Gemeenskap tydens ’n gemeenskapsvergadering Sondag oor die pad vorentoe. FOTO VERSKAF
Lede van die /Khomanin Tradisionele Gemeenskap tydens ’n gemeenskapsvergadering Sondag oor die pad vorentoe. FOTO VERSKAF

Verwyder skoolhoof, eis /Khomanin-gemeenskap

Annemarie du Toit
Spanning by die Primêre Skool Auas is naby breekpunt met ’n gemeenskapsaktivis en lede van die /Khomanin Tradisionele Gemeenskap wat dreig om volgende week die skool se deure te sluit sou die skoolhoof, Toini Nauyoma, nie uit haar pos verwyder word nie.

Dit volg ná ’n formele klag wat op 10 April deur die plaaslike aktivis Shaun Gariseb gelê is en waarvan die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur se direktoraat vir onderwys vir die Khomasstreek intussen ontvangs erken het.

In ’n amptelike brief wat deur die streekdirekteur, Paulus Nghikembua, onderteken is, beskryf die direktoraat die bewerings wat gemaak word as van ’n “ernstige aard” en dat “’n deeglike ondersoek aan die gang is”.

Die ondersoek volg op bewerings dat Nauyoma poog om Khoekhoegowab as een van die taalvakke by dié skool in Windhoek te verwyder.

Volgens Gariseb en gemeenskapslede is pogings aangewend om die vak uit te faseer sonder die nodige konsultasies.

Gariseb sê egter die ondersoek het begin voor sy amptelike klag ingedien is, wat volgens hom die deursigtigheid van die proses in gedrang bring.

Hy het op 11 April ná ’n vergadering met Nghikembua beklemtoon “dit is net ’n erkenning, ons eise staan en ons staan daarby.”

Gariseb beskuldig die direktoraat daarvan dat hy probeer om hom te “sandisa” (paai) en die skoolhoof te beskerm ondanks ernstige aantygings teen haar.

Laasgenoemde sluit in die beweerde verwydering van Khoekhoegowab, onverdraagsaamheid teenoor Damara/Nama-leerlinge asook beweerde twyfelagtige besteding waaronder N$40 000 vir die opknapping van ’n kantoor.

Gariseb beweer ook dat die skoolhoof onderwysers tydens ’n personeelvergadering op 8 April opdrag gegee het om nie met hom of die media te praat nie, wat glo dui op ’n kultuur van vrees en intimidasie by die skool.

“Ek verstaan nou hoekom onderwysers stilbly, hulle is bang om geviktimiseer te word,” het Gariseb gesê.

Die aktivis het die betrokkendheid van die departement se inspekteur gekritiseer en beweer hy het vermy om die vergaderingsregister te teken.

Volgens Gariseb is dit ’n “teken van ’n kliek” wat die skool se leierskap beskerm. Die bywoningsregister wat Network Media Hub (NMH) egter onder oë gehad het, sluit ses name in waaronder die streekdirekteur Nghikembua asook Gariseb self.



KOLLEKTIEWE OPTREDE

Intussen het die /Khomanin Tradisionele Gemeenskap Sondag tydens ’n gemeenskapsvergadering gedreig met kollektiewe optrede op 22 April, sou die skoolhoof nie uit haar pos verwyder word nie.

“Ons is gereed om ons kinders te beskerm. As die skoolhoof nie teen volgende week Vrydag verwyder is nie, maak ons daardie skool toe,” het Gariseb gesê.

Kommer oor die diskriminasie teen sekere tale groei ook steeds, veral nadat dit bekend geword het die skool adverteer, ten spyte van sy uiteenlopende taaldemografie, poste vir Oshikwanyamasprekende onderwysers.

Gariseb en kie se fokus het nou na nasionale vlak geskuif, met Gariseb wat ’n beroep op onderwysers oraloor Namibië gedoen het om na vore te tree met klagtes teen die onderwysministerie. Hy het beloof dat dié hokaairoepers beskerming teen viktimisering sal geniet.

“Van nou af praat ons direk met die minister. Ons sal die verrotting onthul,” het Gariseb gewaarsku.

Terwyl beswaarde lede van die gemeenskap vir vinnige optrede vra, het die ministerie op sy beurt ’n beroep op kalmte gedoen totdat die ondersoek afgehandel is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer