Werklose onnies tree proaktief op

Kristien Kruger
Kenya Kambowe – ’n Groep van 18 gekwalifiseerde, werklose onderwysers van Rundu is vasbeslote om die regering te help om die druk van oorvol klaskamers in skole te verlig.

Hulle het besluit om ’n skool in hul woonbuurt te bou, aangesien hulle tans werkloos is.

Die Gekombineerde Skool Tuhingireni-Cuma in Rundu se informele nedersetting Tuhingireni is vanjaar gestig ná ’n inisiatief deur dié onderwysers wat verkies om hul kwalifikasies te benut en nie net by die huis te sit nie. Hulle is gretig om die kennis wat hulle tydens hul studies opgedoen het, te gebruik en Namibiese kinders te onderrig.

Sommige van die onderwysers het reeds in 2019 gegradueer en is sedertdien werkloos.

Die nuwe skool is 100 m vanaf die Laerskool Siguruguru in die informele nedersetting Tumweneni geleë, wat op dieselfde manier deur gekwalifiseerde, werklose onderwysers begin is.

Laerskool Siguruguru het in 2020 met minder as 200 leerlinge begin, en huisves vandag byna 1 000 leerlinge. Die skool word deur die staat erken met onderwysers wat op ’n permanente basis aangestel is.

‘ONS DRAAI NIE TERUG’

Volgens die groep se woordvoerder, Jesaya Sindimba, het die idee in Desember verlede jaar tydens ’n jeugvergadering posgevat.

’n Aantal jeugdiges het by die vergadering hul idees geopper oor hoe om werk vir hulself te skep en die regering halfpad te ontmoet.

Sindimba het gesê hulle het die idee aan verskeie leiers in die streek voorgelê, waarna ’n egpaar ’n stuk grond aan die vasberade jeuggroep afgestaan het om hul skool te begin.

Die onderwysers was gister besig om boomstompe te sny en skoon te maak. Hulle wil die stompe gebruik om stoele vir leerlinge en onderwysers van te maak, aangesien die skool nie geld het om meubels te koop nie.

“Soos jy kan sien, is hier nog nie veel nie. Ons het onlangs begin en met die bietjie ondersteuning wat ons gekry het, het ons daarin geslaag om hierdie strukture op te rig,” het hy gesê.

Sindimba het gesê hulle is vasbeslote dat die regering hul skool sal erken. Dit sal beteken dat hulle die nodige ondersteuning kan kry.

“Ons draai nie terug nie,” het hy gesê.

Met 91 leerlinge wat tot dusver ingeskryf is, het Sindimba gesê dié getal neem elke dag toe. Dit aangesien ouers wat nie plek vir hul kinders in oorvol Rundu-skole kan kry nie, kontak gemaak het om hul kinders by die nuwe skool in te skryf.

GEEN WERK

Sindimba het ook vertel hoe moeilik dit is om as onderwyser aangestel te word, ondanks die feit dat hy die vereiste kwalifikasies het.

“Ek het in 2021 gegradueer en ek het steeds nie werk gekry nie. Ons is in ’n era waar ’n advertensie vir ’n enkele pos meer as 200 aansoekers sal lok. Ons verloor baie geld om na daardie skole te reis, maar jy kry nie die werk nie. ’n Mens kon selfs daardie geld gebruik het om iets noodsaaklik te koop,” het hy gesê.

Daarom het hulle besluit om die skool te begin met die hoop om die nodige ondersteuning van die regering te kry.

Hy het die regering aangeraai om die leerling-tot-onderwyser-verhouding ernstig op te neem aangesien die kwessie van oorvol klaskamers tot hoë druipsyfers lei.

HELP ONS

Sindimba sê aangesien die skool geen finansiële ondersteuning ontvang nie, benodig hulle enige bystand wat hulle kan kry om doeltreffende onderrig te verseker.

Die skool benodig boumateriaal, onderrig- en leerhulpbronne, meubels, toilette, water – verkieslik ’n 10 000-watertenk – asook materiaal om ’n heining op te rig.

Die groep se verteenwoordigers het ’n vergadering met die onderwysdirekteur in die Kavango-Oosstreek, Fanuel Kapapero, belê om riglyne te kry oor die proses wat gevolg moet word vir die staat om die skool te erken.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer