Brand verwoes nedersetting
Twee groot tente is die afgelope naweek opgerig om tydelike verblyf te bied aan die slagoffers van ’n brand wat Vrydagaand verwoesting in ’n informele nedersetting naby Otweya in Kuisebmund gesaai het.
“Ons harte gaan uit na almal wat deur hierdie ongelukkige voorval geraak is en die raad sal voortgaan om die nodige ondersteuning aan die geraakte gesinne te bied," het die Walvisbaaise munisipaliteit in ’n verklaring gesê.
Die brand het omstreeks 19:15 in die middel van die nedersetting begin en het in die proses sowat 80 huise verswelg. Een persoon is ook in die brand dood.
Hoewel die munisipaliteit se brandweer spoedig op die toneel was, het die brand vinnig versprei.
“Ons bedank ons brandweerspan vir hul dapperheid, toewyding en professionaliteit tydens hierdie krisis," lui die munisipaliteit se verklaring.
Een van die inwoners het ná die voorval met Network Media Hub (NMH) se Erongo-span gepraat en by die munisipaliteit gepleit vir bystand en ondersteuning.
"Die kinders is veral geraak, want alles insluitend skoolboeke is vernietig," het sy gesê.
HULP AAN SLAGOFFERS
Die munisipaliteit het die twee tente opgerig wat sal dien as tydelike verblyf vir die slagoffers tot 11 Oktober om hul tyd te gee om alternatiewe verblyfreëlings te tref.
Noodsaaklikhede soos matrasse en komberse is deur onder andere The Round Table geskenk, terwyl Twaloloka Aid Support and Kindness (TASK) 'n sopkombuisdiens verskaf om behoeftiges te ondersteun.
Dit het ook sedert die voorval aan die lig gekom dat minstens 70 inwoners wat geraak is deur die brand, nie Namibiërs is nie. Volgens die munisipaliteit sal hulle hierdie week in gesprek tree met die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit om die volgende stappe met betrekking tot die buitelandse burgers te bepaal.
Die munisipaliteit het ook vasgestel dat die meeste van die huise wat deur die brand beskadig of vernietig is, besit word deur mense wat ook huise in Walvisbaai of buite die dorp het wat teen buitensporige tariewe verhuur word.
In sy verklaring het die munisipaliteit bevestig dat die brand op ’n erf uitgebreek het wat aan die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) behoort. Die erf was glo onwettig deur die slagoffers van die brand beset. Die munisipaliteit het ook in sy verklaring die kwessie van onwettige grondbesetting uitgelig.
"Die raad sal 'n streng benadering teen onwettige grondbesetting volg, aangesien hierdie optrede die oorsaak van sulke rampe en lewensverlies is," lui die verklaring.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie