Wyle mnr. Quinton (Doefie) Diergaardt.
Wyle mnr. Quinton (Doefie) Diergaardt.

Doefie sterf aan sy brandwonde

Tanja Bause
Mnr. Quinton (Doefie) Diergaardt, inwoner van Rehoboth wat ernstige brandwonde opgedoen het terwyl hy die onlangse veldbrande by Tsumis buite Rehoboth help blus het, is Saterdagoggend in ’n hospitaal in Kaapstad oorlede.

Hy en sy vriend, Rehoboth se burgemeester mnr. Enrico (Toes) Junius, is op 13 September op Junius se plaas Waldesruhe suid van Rehoboth deur vlamme oorval toe hulle met brandbestryding besig was.

Beide manne het ernstige brandwonde opgedoen en is na die Life Kingsbury-hospitaal in Kaapstad vervoer omdat daar nie beskikbare beddens in die brandeenheid by Tygerberg-hospitaal was nie.

Junius het ernstige brandwonde aan sowat 60 persent van sy liggaam opgedoen en Diergaardt 55 persent.

Die brand het 40 kilometer suid van Rehoboth, aan die oostekant van die Tsumis-afdraai sowat 12 kilometer uit op die D1230-pad begin, waar plaaswerkers met sweiswerk besig was.

Die vlamme het vinnig versprei en later oor die B1-hoofpad tussen Rehoboth en Kalkrand gespring. Die brand kon eers 60 ure later ten volle onder beheer gebring word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer