Gerhard Mans sterf in fietstragedie

Land verloor ikoniese sportlegende
Op 60-jarige leeftyd was die legendariese oudrugbyspeler steeds 'n ywerige fietsryer – tot gister se noodlottige botsing op die B1-hoofpad.
Andrew Poolman
Woorde skiet te kort om waarlik reg te laat geskied aan die statuur van die ikoniese sportman Gerhard Mans wat Namibië gisteroggend in ’n tragiese botsing tussen hom as fietsryer en ’n motoris op die Westelike Verbypad op die B1-hoofpad aan Windhoek se noordekant verloor het.

Net 15 dae ná sy sestigste verjaarsdag op 19 April, het Mans gister kort voor tienuur op die toneel naby die Elisenheim-afdraai gesterf toe hy tydens ’n fietsrit deur die bestuurder van ’n wit BMW-sedanvoertuig sonder nommerplate getref is.

Die bestuurder, na bewering ’n burger van Botswana, is op die toneel in hegtenis geneem, in afwagting op sy hofverskyning vroeg vandeesweek. Sy voertuig se versplinterde voorruit het van die dodelike impak van die botsing getuig.

Hoewel Mans op die noodlottige oomblik nie naby aan enige van sy medefietsryers was nie, dui die aanvanklike inligting op die toneel daarop dat die voertuigbestuurder wat hom van agter getref het, sy selfoon gebruik het en terwyl ’n polisievoertuig kort agter hom was, na links binne die geel streep geswaai het.

Veral in sportkringe trek die skokgolf sedert gisteroggend steeds deur die Namibiese en Suid-Afrikaanse rugby- en fietsrygemeenskap.

Mans was sonder teëspraak een van die mees invloedryke rugbyspelers én -kapteins wat die land ooit opgelewer het. Vir die regtervleuel was ’n betekenisvolle deel van sy loopbaan voor onafhanklikwording beperk deur Suid-Afrika se sportisolasie, maar sy vertoningsrekord staan nietemin as een van die land se werklike wêreldklas spelers.

Onder Mans se kapteinskap het Namibië in 1991 twee tuistoetse elk teen Ierland en teen Italië gewen – met Ierland wat later daardie jaar die kwarteindstryd van die Wêreldbeker gehaal het.

Tussen 1990 en sy laaste internasionale verskyning in 1994 het Mans 26 drieë in 27 toetse gedruk – wat as die nasionale rekord tot in 2018 gestaan het toe Chrysander Botha in sy 55ste toetse met twee drieë teen Kenia die totaal eers geëwenaar en toe verbygesteek het.

Ná sy skooldae by Wennie du Plessis op Gobabis het Mans in Bloemfontein gaan studeer en daar ook van 1982 tot 1984 vir die Vrystaat gespeel en met 19 drieë in 24 wedstryde ’n aanduiding gegee van die spore wat hy later in sy geboorteland sou kom trap.

Mans se 54 drieë in 80 provinsiale wedstryde vir Suidwes-Afrika het stelselmatige opgang vanuit die Sport Pienaar en Curriebeker B-afdeling ingesluit – voor die goue jaar van 1988, toe hy as kaptein die SWA-span na die derde posisie in die hoogs kompeterende Curriebekerreeks gelei het.

Oorwinnings teen Westelike Provinsie op ’n reëndeurdrenkte Nuweland in Kaapstad (24-21), teen Transvaal op Ellispark (25-22), teen Danie Gerber se OP-span (twee keer), Natal en die Vrystaat het opponente behoorlik senuweeagtig oor enige ontmoeting gemaak. Op Loftus Versfeld het Naas Botha se Noord-Transvaal naelskraap met 18-16 oorleef.

As aanvaller was Mans se spoed, krag en vernuftige aftrappe ’n gevaarlike wapen in enige Namibiese span se mondering en sy spanmaats het vreesloos en sonder aansien vir reputasies gevolg waarheen hy ook al sou lei.

Johan Zaayman, ’n heelwat jonger speler wat Namibië in sy 1999 WB-debuut verteenwoordig het en nou afrigter van Windhoek Affies is, het gister gesê: “Wat ’n skok; dit is verskriklik nuus. Gerhard was die rede vir baie van ons om te droom van groot dinge en om soos hy te kon wees. Ek kan dit nie glo nie, dis bitter, bitter slegte nuus.”

Ná sy rugbydae het Mans, ’n versekeringsmakelaar by FNB Namibia, ook as ’n fietsryer opgang in die ouer ouderdomsklasse gemaak. Hy het onder meer die Nedbank Desert Dash as ’n soloryer voltooi, ondanks ’n meganiese terugslag in die nagtelike ure wat hom gedwing het om etlike kilometers langs sy fiets te voet af te lê voor hy bystand by die volgende tegniese punt kon kry.

Met sy oudste seun Gerhard Junior (’n nasionale tydtoetskampioen en lid van die Statebondspele-span in 2014) as spanmaat het Mans ook in 2018 die uitmergelende agtdaagse Cape Epic in die Wes-Kaap voltooi.

Gister se noodlottige ongeluk werp opnuut die kollig op die lewensgevaar waarin fietsryers in besonder op die B1-hoofpad verkeer – ’n besprekingspunt wat tevore deur ander ewe tragiese afsterwes en noue ontkomings na vore gebring is.

Republikein dra sy innige meegevoel oor aan Gerhard Senior se vrou Sarie, seuns Gerhard Junior en Wiann en die res van die Mans-familie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer