Die girokopter-ongeluk waarin mnre. Pierre Blaauw en Donbaldt Noa in Desember 2020 dood is. Foto Argief
Die girokopter-ongeluk waarin mnre. Pierre Blaauw en Donbaldt Noa in Desember 2020 dood is. Foto Argief

Girokopter-vlieënier besope toe tuig neerstort

Verslag toon redes vir vliegongeluk op lughawepad
Die finale ongeluksverslag na die girokopter-ongeluk 15 maande gelede buite Windhoek, wys die twee oorledenes het besope by die lughawe aangekom.
Ellanie Smit
Ellanie Smit - Die vlieënier wat op 17 Desember 2020 met ‘n girokopter waarin een ander insittende was op die lughawepad oos van Windhoek neergestort het nadat dit die kragdrade getref het, was onder die invloed van alkohol en het nie oor ’n geldige vlieglisensie beskik nie.

Volgens die finale ondersoekverslag van die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke (DAAII) in die ministerie van werke en vervoer, het mnr. Pierre Blaauw (40) nie sy mediese fiksheidstoets geslaag nie, wat sy vlieglisensie ongeldig gemaak het.

Luidens die verslag het Blaauw versuim om ’n mediese fiksheidsertifikaat te bekom.

“Die vlieënier is op 23 Junie 2020 medies ongeskik verklaar tydens die laaste mediese ondersoek wat hy ondergaan het,” lui die verslag. Sy appèl teen hierdie besluit was nog hangend ten tye van die ongeluk.

Sy passasier, mnr. Donbaldt Noa, is in die ongeluk dood terwyl Blaauw die volgende dag in die hospitaal beswyk het. Hy het veelvuldige beserings in die ongeluk opgedoen.

Noa, seun van mnr. Paulus Noa, direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie, was een van ’n tweeling.

Volgens die verslag het die ondersoeker bevind Blaauw en Noa het die sekuriteitsgebied by die Eros-lughawe binnegegaan sonder enige sekuriteitskontrole of -klaring.

Die ondersoek het ook aan die lig gebring dat hulle in besit was van verskeie eenhede alkohol wat bier en whisky ingesluit het, en “reeds in ’n besope toestand was en voortgegaan het om alkohol by die private vliegtuigloods te gebruik”.

Die ongeluk het omstreeks 14:20 die betrokke dag tussen Klein-Windhoek en die Kappsfarm-padblokkade op die lughawepad plaasgevind. Dit ongelukstoneel was sowat 15 km vanaf Windhoek.

Die ondersoekers het bevind die Namibies-geregistreerde girokopter het omstreeks 14:02 by die Eros-lughawe opgestyg vir 'n privaat vlug. Hulle het oor Heja Lodge gevlieg en na die lughawe teruggekeer.

Die lugverkeerbeheerbeampte het toestemming vir die vlug gegee om plaas te vind op ’n hoogte van 7 000 voet, met slegs die vlieënier en een passasier aan boord, volgens die verslag.

“Die girokopter het kragdrade getref, op die pad neergestort en in vlamme uitgebars. Dit is deur die vlamme verwoes voor die brandweer sowat 30 minute later opgedaag het.”

Die kraglyne, ongeveer 20 tot 30 voet van die grond af, is ver onder die hoogte van 7 000 voet (2 134 meter) waarvoor toestemming verleen is, lui die verslag.

Dit blyk die enjin van die girokopter, met registrasiemerk V5-ULT, het geen meganiese foute gehad nie en dit het oor al die nodige lugvaartlisensies beskik wat nodig was om te vlieg.

“Die laaste jaarlikse inspeksie wat voor die ongeluk op die girokopter uitgevoer is, was op 6 Augustus 2020,” lui die verslag.

“Die girokopter het ná die inspeksie twee ure gevlieg.”

Die enjin van die girokopter is op 18 Desember – ’n dag ná die ongeluk – uitmekaar gehaal en volgens die verslag is geen meganiese foute gevind nie.

Mnr. Johannes Kambonde het destyds op die ongelukstoneel aan Republikein gesê hy het Blaauw uit die girokopter getrek en tot langs die pad gesleep, waarna die gras vlamgevat het.

Terwyl hy gespook het om die vlamme te blus, het ’n egpaar, mnr. Danie en me. Mella Opperman wat tussen Aranos en Leonardville boer, by Blaauw gesit, vir hom water gegee en vir hom gebid.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer