Meer boetes, minder padsterftes

Padveiligheid verskerp oor feesseisoen
Altesaam 55% meer voertuie is gestop en 327% meer bestuurders is in hegtenis geneem.
Augetto Graig
Dit is kommerwekkend dat padgebruikers in Namibië se optrede so deur die teenwoordigheid van verkeerswetstoepassers beïnvloed word.

Dit volgens generaal-majoor Elias Mutota, adjunk-inspekteur-generaal van die Namibiese polisie.

“As padgebruikers moet ons ons houding verander en ons moet daaraan werk om ons ingesteldheid te verander om verkeerswette te gehoorsaam.

“Om ’n positiewe benadering op ons nasionale paaie toe te pas, moet ons as individue en gesamentlik as motoriste, stappe doen om padveiligheid in ons land te verseker,” het hy gesê.

Mutota het dié stellings gemaak tydens die bekendstelling van die afgelope feesseisoen se ongelukstatistiek.

Volgens die statistiek is 67 mense oor die afgelope feestyd op Namibië se paaie dood. Die meeste sterftes het in die Otjozondjupa-, Oshikoto- en Oshanastreek voorgekom met onderskeidelik 12 gevalle elk, en 10 in die ||Kharasstreek.

Dit is ’n afname van 42% in sterftes teenoor die vorige feesseisoen. Die meeste ongelukke het in die Khomasstreek (24%) voorgekom, gevolg deur Erongo (15%) en Otjozondjupa (13%).

Altesaam 171 880 voertuie is tussen 17 November 2022 en 17 Januarie vanjaar by padblokkades op nasionale paaie voorgekeer. Dit is 55% meer as die 110 558 die vorige feesseisoen. Altesame 23 416 manlike bestuurders is voorgekeer, 60% meer as die vorige jaar, en ook 34,3% meer vroulike bestuurders.

Gedurende die afgelope feesseisoen is 964 mense vir padoortredings in hegtenis geneem, teenoor die 226 bestuurders wat die vorige jaar agter tralies beland het, ofte wel 327% meer, volgens statistiek. Verder het wetstoepassers vanjaar ook 26 816 boetes ter waarde van sowat N$23,9 miljoen uitgereik, te same met 1 315 voertuie wat nie padwaardig was nie. Die vorige feestyd is 9 824 boetes uitgereik, en die waarde was altesaam N$13,6 miljoen. Teenoor die vorige jaar is 73% meer voertuie onpadwaardig verklaar.

Die minister van werke en vervoer, John Mutorwa, het by die geleentheid gesê: “Alhoewel ons ons prestasies moet erken en vier, gee hierdie syfers te kenne dat baie nog gedoen moet word om die opvoeding oor wetstoepassing en gemeenskapsondersteuning gedurende die jaar en daarna gesamentlik te versterk.”

Motorbestuurders met uitstaande boetes het ook goeie nuus ontvang. Die amnestietydperk vir betaling van uitstaande boetes is tot 31 Maart verleng. Dit beteken dat ’n persoon ’n skulderkenning by die hof kan betaal om inhegtenisname vry te spring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer