Padtragedie ontneem twee families

Ongelukke
Skokgolwe het sedert Saterdagaand se botsing wyd uitgekring.
Boet Matthews
Trane van rou rol op Rehoboth en in veel breër gemeenskappe oor die land heen sedert die nuus van die gru-padongeluk waarin vier mans Saterdagaand sowat 9 kilometer buite die dorp gesterf het.

Die Coetzee-familie en ‘n huisvriend het vanaf ‘n klubrugbywedstryd in Windhoek na hul tuiste op Rehoboth teruggekeer.

Een van die oorledenes was enkele ure tevore FNB Reho Falcon se kaptein vir die dag in hul NRU premierliga-wedstryd teen FNB Wanderers. Die vaskopstut Edmando (23) en sy broer Ethan (21) het saam met hul pa en voorsitter van die rugbyklub, Ettienne Coetzee (48), op slag gesterf.

Ettienne het omstreeks 22:00 ‘n bees wat in die pad gestaan het, raakgery en vanweë die impak het sy motor teen ‘n aankomende vragmotor gebots. ‘n Derde voertuig is ook in die ongeluk getref, word in die polisieverslag uitgewys.

Nog ‘n insittende wat op die toneel gesterf het, is Greschlinn Bruwer, ‘n jarelange boesemvriend van die Coetzee-broers. Sy pa Danzyl Bruwer is welbekend as ‘n gewese doelwagter van Namibië se sokkerspan, terwyl ouboet Denzo in rugby naam maak met opgang by Wanderers, United, Namibië o.20 en tans vir die Poolse klub Lechia Gdansk.

Ettienne se vrou en die ma van die drie kinders, Louisa (49) was in die intensiewesorgeenheid opgeneem en die jongste seun Luke (9) in ‘n gewone hospitaalsaal op Rehoboth.

Dit was ‘n treurmare toe mense op die ongelukstoneel stilgehou en die oorledenes uitgeken het. Skokgolwe het gister verder uitgekring namate die identiteit van die twee sportfamilies se verliese bekend geword het.

Pastoor Werner Coetzee, broer van Ettienne, het laat gistermiddag gesê dit gaan reeds beter met Louisa in ‘n Windhoekse hospitaal hoewel sy ook erg seergekry het.

Pastoor Coetzee sê Ettienne het nog Saterdagoggend ‘n troosdiens bygewoon en sy geliefde koortjie Precious Lord gesing voor sy vertrek na Windhoek.

Die dodelike ongeluk is ‘n diep verlies vir Falcon-sportklub in die besonder. Ettienne (tevore ook spanbestuurder van die nasionale sewesspan; raadslid en visepresident van die Namibië Rugby-unie) se dryfkrag en lewensondervinding was vir die klub goud werd.

Die president van Falcon-sportklub, Ronaldo Pedro, het aan Republikein gesê: “Geen woorde kan Ettienne terugbring nie en op vele vlakke is daar bitter min wat in sy voetspore kan volg.

“Ons twee kom ‘n lang pad saam en Etienne het selfs in ‘n gospelgroep The Unlimited kitaar gespeel. Sy mees onlangse bydrae tot ons sportklub was die stigting van ‘n netbalspan.

“Daar was net een Ettienne Coetzee – die mense se mens, met die ope hand. Ons salueer jou Ettienne Coetzee, die doring van Reho Falcon-sportklub.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!